Parlement Parlement – Nuwe kykNET komedie

In Suid-Afrika kan plaaslike komediante skaars kompeteer met die sirkus wat op gereelde basis in ons parlement afspeel, maar die nuwe paneelkomediereeks Parlement Parlement wys dat die professionele narre darem nog net-net die oorhand het.

Elana Afrika-Bredenkamp is die aanbieder as Madame Speaker – die bewaker van sin en rede. Die paneel bestaan uit Wikus Du Toit, Wicus van der Merwe, Melt Sieberhagen, Hannes Brummer, Piet Matipa, Frankie Fire, Johrne van Huyssteen, Anne Hirsch, Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm, Joey Rasdien, Je-Ani Swiegelaar, Johann Vermaak, en die wonderlike Louw Venter.

En dan is daar elke week ʼn ander bekende gas wat met die parlement kom debatteer oor belangrike sake wat die samelewing raak. Dis nou belangrike sake soos boeremusiek-kwotas, ’n wetsontwerp op boerekos, klakouse op sosiale media, regstellende aksie in die braaivleisbedryf, terugbetaling vir swak televisieprogramme en die netelige kwessie van Vroueregte.

Soos in die werklike parlement klap die tonge en word daar soms met taai klappe gedreig, maar anders as in ons agbare regering word dit hier in die goeie gees van kwaliteit komedie gedoen.

Gaste wat tydens die dertien episodes ’n verskyning sal maak is Kabous Meiring, Moeneeb Josephs, Carine Rous, Rina Nienaber, Bennie Fourie, Karlien van Jaarsveld, Robbie Kruse, Cindy Swanepoel, Edwin van der Walt, Rian van Heerden, Dewald Wasserfal, Mark Banks en Germandt Geldenhuys. Saam sal hulle probeer om die toekoms van ons land se politiek uit te stryk, beraadslaag oor lyfstraf en two-tone hemde en basies al die land se probleme op te los. Maklik! En snaaks!

Almal wat geïnteresseerd is in politieke debat (en Nataniël se worswet) sal iets vind om oor te lag op Parlement Parlement. Geniet elke week ‘n nuwe episode op Showmax, om te kyk net waar en wanneer jy wil. Lag maar oor Suid-Afrika se mense en hulle dinge – want daar’s eintlik nie veel anders wat jy kan doen nie.

Vanaf 11 Julie is Parlement Parlement vir die eerste keer op Showmax beskikbaar. Indien jy nog nie vir Showmax ingeteken het nie, probeer die gratis 14 dae-proeflopie vir duisende ure se topklas vermaak op jou rekenaar, slimfoon, slim TV of tablet.

*Let daarop dat hierdie reeks op 11 Julie aanvanklik net vir Showmax-kykers in die buiteland beskikbaar gemaak word. Laat weet gerus jou vriende en familielede in die buiteland!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.