SABC2 het Donderdag aangekondig dat Pasella, sy leefstylprogram wat al sedert 1998 uitgesaai word, in Januarie 2022 vir die laaste keer op die kassie sal verskyn.
Dit kom ná die aankondiging in Januarie vanjaar dat die gewilde sepie 7de Laan se skermtyd sedert April ook verminder is na slegs drie dae per week.
Pasella word deur Tswelopele Productions vervaardig en was die geesteskind van Pieter Cilliers. Dit is die eerste keer op 17 Maart 1998 uitgesaai en het 23 jaar lank op die kassie verskyn.
Die program het die afgelope twee dekades plaaslike talent ontgin en ʼn rits aanbieders soos Derrich Gardner, Shemane Harris, Paul Rothman, Vicky Davis, Minki van der Westhuizen, Amalia Uys, Hemelbesem, Christi Panagio, Mishka Patel, Eloise Cupido en Jo-Ann Strauss aan kykers bekend gestel.
SABC2 het in ʼn verklaring gesê ʼn hoofstuk van twee dekades word in Januarie 2022 afgesluit. Huldeblykepisodes met Derrich Gardner, Shemane Harris, Maurice Carpede en Coenie de Villiers sal te sien wees.
Gerhard Pretorius, kanaalhoof van SABC2, sê die besluit om Pasella van die kassie te haal was ʼn “moeilike” een.
“Dit was egter nodig in lig van die nuwe skedule wat in April vanjaar bekend gestel is, wat daarop gemik is om SABC2 se leefstylaanbiedings te diversifiseer en kykers van vars, vermaaklike, relevante plaaslike inhoud te verskaf.”
Dit sal ook die kanaal die geleentheid gee om die diversiteit van ons nasie te verteenwoordig, sê Pretorius.
“Aan die Tswelopele Productions-span wil ons dankie sê dat hulle ʼn wonderlike geskenk met ons kykers gedeel het vir 23 jaar. Die laaste program sal een wees wat Pasella-kykers nie kan misloop nie.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
En so raak hulle bietjie vir bietjie van Afrikaans ontslae, hartseer!
Ons almal weet wat hulle bedoel met meer diversiteit…
Dit is belaglik man 7 de Laan nou Pasella diversiteit se voet in n visblik.
Nee wat die laaste ding wat enige afrikaanse kyker wil sien of hoor op TV is diversiteit.Sit maar af.Ons kry die boodskap.
Dit behoort geen leemte te laat nie.