Passie, opoffering lei Stefan se pad na ‘American Idol’

Stefan kort nadat hy sy goue kaartjie ontvang het. (Foto: Verskaf)

Hy het dalk ʼn gouekaartjie op American Idol gekry en boonop vir Katy Perry laat Afrikaans praat, maar Stefan Bezuidenhout, nou bekend as Stefan Benz, bly in sy hart ʼn nederige Suid-Afrikaanse tiener wat met tye na Steri Stumpie-melkdrankies en Sun City-vakansies in sy tuisland verlang.

“Ek praat ook net Engels buite die huis,” vertel die 16-jarige aan Maroela Media vanuit Orange County, Kalifornië in die VSA, waar hy en sy gesin die afgelope twee jaar woon.

Stefan het die Internet laat gons toe hy onlangs een van ʼn handjievol belowende sangers geword het om deur te dring het na die eerste rondte van die 21ste seisoen van die sangkompetisiereeks, American Idol.

Stefan Benz tydens sy oudisie op ‘American Idol’. (Foto: American Ido)

Maroela Media het vroeër berig dat die jong sanger die Idols-beoordelaarspaneel, wat uit die sangers Lionel Richie, Katy Perry en Luke Bryan bestaan, met sy weergawe van Brian McKnight se lied “One Last Cry” betower en vir homself die sogenaamde “golden ticket” na dié sangkompetisie se Hollywood-week verseker het.

Wat sy verhaal nog meer spesiaal maak, is dat die jong sanger deur die Idols-span genader is om deel te neem. Hy moes egter eers drie aanlyn oudisies voor verskeie regisseurs en vervaardigers aflê om uiteindelik voor die beoordelaarspaneel te kon sing.

Daarna was sy toekoms in Lionel, Katy en Luke se hande.

“Ek het gedink ek was kalm met die oudisieproses, maar my hart het in my keel geklop toe ek voor die beoordelaars kom. ʼn Mens hoop om deur te gaan na die volgende rondte, maar jy weet nooit nie,” sê Stefan.

Suid-Afrikaners se harte is veral geroer toe Katy hom na afloop van sy oudisie nageboots het en in Afrikaans gesê het: “Jy gaan Hollywood toe!”

Hy mag niks verder oor sy reis op dié program verklap nie, maar vertel dat Hollywood-week, waar die koring van die kaf geskei word om te sien wie uiteindelik weekliks regstreeks op dié program sal deelneem, senutergend was.

“Lionel is veral baie gaaf. Hy het gedurende die Hollywood-week dikwels met Stefan gepraat en vir hom gesê hy is ʼn ster in eie reg, of hy nou wen of nie wen nie,” vertel Stefan se pa, Dewald.

Stefan se musiekloopbaan het reeds op negejarige ouderdom begin vlamvat toe Ronel Brink, die ma en bestuurder van Bobby en Karlien van Jaarsveld, hom raakgesien het toe hy vooraf by een van Bobby se vertonings gesing het.

Arnold Coleske, Stefan en Paulo Azevedo in 2019. (Foto: Facebook/Stefan Benz)

Daarna het die klein blondekop asems weggeslaan op die Classics is Groot-verhoog, wat hy met die room van Afrikaanse sangers soos Tarryn Lamb en Ruhan du Toit gedeel het.

Op 11-jarige ouderdom het hy ‘n kontrak met Coleske losgeslaan en byna daagliks met die voormalige Eden-sanger en musiekvervaardiger, Paulo Azevedo, gewerk sonder om sy skool- en sportverpligtinge by Laerskool Wierdapark in Centurion af te skeep.

Sukses by die wêreldkampioenskap vir uitvoerende kunste (WCOPA), wat hy onder leiding van die Suid-Afrikaanse kampioenskapsreeks van uitvoerende kunste (SACOPA) gewen het, het vir hom ʼn internasionale platekontrak in die sak gebring.

Ná ʼn jaar se heen en weer reis tussen Los Angeles en Suid-Afrika, het Stefan se ouers besluit om hul tasse te pak en hul seun se droom van ʼn suksesvolle internasionale sangloopbaan in die VSA na te jaag.

“Die tyd het reg gevoel om te trek, maar dit was ʼn reuse-aanpassing. Veral met die kos,” voeg Dewald tergend by.

Dit was ook hy wat die video van Katy wat Afrikaans praat vir Coleske aangestuur het. “Ek het dit net vir die lekkerte aangestuur, ek het nie verwag dat dit só ʼn reaksie in Suid-Afrika sal ontlok nie.”

Sedert die gesin verhuis het, is Stefan se skedule stampvol optredes in New York, Las Vegas en Miami, asook opnames en skryfkampe in Los Angeles. Daarom doen hy tans tuisonderrig vir graad 11. Sy kleinsus, Renthia, is in graad 7 en gaan “middle school” toe.

Stefan spog ook met ʼn hele rits enkelsnitte en byna ʼn kwart miljoen volgelinge op Instagram.

Die 16-jarige het vanjaar sy derde Grammy-toekenningsgeleentheid bygewoon en al met sangers soos Sean Kingston, Charlie Puth, Shawn Mendes en Justin Bieber skouers geskuur.

Stefan tydens vanjaar se Grammy-toekennings in die VSA. (Foto: Amy Sussman/Getty Images via AFP)

Hy erken dat die Amerikaanse musiektoneel uiters kompeterend is, veral in Los Angeles. “Dis natuurlik heeltemal anders as in Suid-Afrika. Hier kompeteer jy met die hele wêreld wat almal Engels sing en almal goed is. Elke kelner en winkelassistent wil ʼn bekende sanger word.”

Tog glo hy dat talent nie alleenlik genoeg is om ʼn naam oorsee te maak nie.

“Jy hoef nie die beste stem te hê nie, dis hoe jy die storie vertel en die emosie wat aan jou musiek gekoppel moet wees. En natuurlik, harde werk elke dag. Alles van stem-, kitaar-, klavier- en danslesse.”

Ondanks die sukses wat hy reeds behaal het, skitter daar nog baie sterre in dié nederige sanger se oë.

“Ek dink as ek soos ander internasionale kunstenaars ʼn wêreldtoer binne sekondes kan uitverkoop sal ek voel asof ek dit gemaak het,” sê hy skertsend.

“Maar ek glo dat dinge gebeur soos dit moet. Tot dan gaan ek aanhou om hard te werk en groot te droom.”

Kyk die video waar Katy Perry Afrikaans praat hier:

@imstefanbenz

Never thought I’d be teaching @katyperry and @lukebryan Afrikaans. ???????? Crazy!! can’t wait to show em what I can do ???? @americanidol #americanidol #idolonabc #21yearsofidol #katyperry #lukebryan #lionelrichie #ryanseacrest

♬ original sound – Stefan Benz

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Patch ·

Hy sing pragtig, hoop net nie die “fame” gaan na sy kop toe en sleep hom afgrond toe soos vele ander jong sterre nie. Stefan, bly getrou aan jouself en jy sal dit baie ver bring. Ek hou duim vas dat jy nog ver in die kompetisie sal vorder en miskien nog kan wen.

AmY ·

Ek het jou eenkeer sien optree toe jy pas 10 jaar oud geword het.
Baie sterkte met alles wat jy aanpak.
En mag jou ouers en suster jou voete plat op die aarde hou,
ONS HOU JOU DOP!!!

kaplyn ·

Hy het my veral beindruk toe hy gisteraand op E-Nuus tydens ‘n onderhoud, die suiwerste Afrikaans gepraat het! Mens sien dit nie meer vandag by kinders van sy ouderdom nie. Ek onthou veral een woord wat hy gebruik het , wat min Afrikaanssprekendes gebruik . Hy het die woord “tans” gebruik in die plek van die alewige “huidiglik”. Daar bestaan nie ‘n woord soos huidiglik in Afrikaans nie. Dit is afgelei van die Engelse woord “currently”. Doen so voort jongman ons hou jou loopbaan dop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.