Pendorings 2017: Viering van uniekheid, insig en veelsydigheid

Elana Afrika-Bredenkamp en Bouwer Bosch (Foto: Twitter)

Nadat die Pendoring-toekennings verlede jaar sy deure vir inheemse Afrika-tale oopgegooi het, was vanjaar se toekennings wéér ʼn “ware Suid-Afrikaanse viering” van kreatiwiteit, uniekheid, insig en veelsydigheid.

Die room van die reklamebedryf is Vrydagaand tydens dié prestige-aand by Vodacom World in Midrand vereer.

ʼn Groot gehoor is onder meer vermaak deur die komediant Pietman die Skot, die SA’s Got Talent-wenner DJ Arch Jr., die groep Bittereinder, die kitaar-en-viool-duo Deca en The Voice-ster Sofaya. Elana Afrika-Bredenkamp en Bouwer Bosch was die seremoniemeesters.

Die reklame-agentskap The Odd Number, wat in totaal vier goue toekennings ontvang het, het vanjaar weer weggestap met die Pendorings se gesogte Umpetha-toekenning vir die beste advertensie in ʼn inheemse taal. Afrikaans word in dié kategorie uitgesluit.

The Odd Number se wenveldtog in Zoeloe, getiteld Hell’s Kitchen, is vir BBC Lifestyle geskep.

Met die silwer toekennings het Joe Public en Ogilvy & Mather uitgetroon. Hulle het elkeen vier toekennings ontvang.

Die beoordelaars was vanjaar weer “mateloos beïndruk” met onder meer die radiostasie-advertensies. Vyf goue toekennings en drie silwer toekennings is in dié kategorie uitgedeel. Inskrywings in die TV-kategorie het ook vanjaar beïndruk. Dié kategorie is bekroon met twee goue toekennings en vyf silwer toekennings.

Met uitsondering van die ontwerp-kategorieë, waar Taurai Valerie Mtake van die Greenside Design Center College of Design met haar Ndebele-inskrywing getiteld Reviving the Bantu Symbol Writing into Contemporary Visual Culture gewen het, het die ander studentekategorieë volgens die beoordelaars vanjaar nie die “gebruiklike oes uitsonderlike werk” opgelewer nie. Mtake het R16 000 ontvang as algehele wenner – R10 000 vir die algehele wenner en R6 000 vir haar goue toekenning.

ʼn Groot verrassing van die aand was die beoordelaars se besluit om eenmalig ʼn toekenning te oorhandig vir ʼn voortreflike Afrikaanse openbarediens-advertensie. Dié toekenning is gemaak aan 7Films en Y&R South Africa vir hul TV-advertensie, Almal Weet, vir die Wes-Kaapse regering.

Die Afrikaanse inskrywings het vanjaar geen algehele wenner opgelewer nie, en die Prestige-toekenning is dus nie toegeken nie.

Die Umpetha- én die Prestige-toekenning behels elkeen ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000. Goue wenners het benewens hul toekenning elk R6 000 ontvang en silwer wenners elk R2 500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.