Pieter Koen, Manuel Escorcio en kie. op ‘Slank’ te sien

Leandie du Randt is weer die aanbieder van ‘Slank’.

In die sesde seisoen van die gewilde kykNET-reeks Slank kan kykers die gesondheidsreise van bekendes soos die sanger en aanbieder Pieter Koen en sy vrou, Lotie, die atleet Johan “Trompie” van den Bergh en sangers Manuel Escorcio en Bianca le Grange volg.

In dié seisoen, wat op 4 Julie afskop, gaan gefokus word op elke deelnemer se unieke behoeftes.

“Ons gaan nie net na gewigsverlies kyk nie, maar ook na ander gesondheidsprobleme,” sê Stephan Neethling, vervaardiger van die program.

Pieter Koen en sy vrou, Lotie, het elk behoeftes van hul eie. “Pieter het nie gewigsprobleme nie, maar wil graag spiere bou, terwyl Lotie ʼn paar kilogram wil afskud,” verduidelik Neethling.

Johan, oftewel Trompie van den Bergh, was in sy jonger jare ʼn suksesvolle sportman wat die een na die ander medalje op die atletiekbaan ingeoes het. Hy het op skool provinsiale krieket en rugby gespeel en is deesdae ʼn fotograaf van beroep.

“As gevolg van sy werk en ʼn tekort aan oefening, het sy gewig handuit geruk. Sy reis begin waar hy 212 kg weeg en hy hoop om minstens 60 kg daarvan te verloor.”

Die sanger Manuel Escorcio wil graag sy diabetes onder beheer kry en die sangeres Bianca le Grange wil ʼn paar kilogram afskud met die hoop dat dit haar gaan help om swanger te raak.

Volgens Neethling bring elke nuwe reeks sy eie uitdagings, maar hulle vind dat kykers bekendes in ʼn ander lig sien wanneer hulle hul op Slank sien.

“Jy ontdek dat almal van ons daaglikse uitdagings het wanneer dit by gewig, selfbeeld en mediese probleme kom. Ons kenners help hulle op die pad en kykers leer daaruit omdat hulle hul eie gesondheidsprobleme en ‑uitdagings kan identifiseer.”

Leandie du Randt is weer die aanbieder van die reeks. “Hierdie seisoen van Slank gaan ekstra vermaak verskaf met al die talentvolle en aangename deelnemers,” sê sy.

“Ek geniet dit veral omdat elke deelnemer se gesondheidsdoelwitte so uniek is. Sodoende kan meer mense met die deelnemers identifiseer en die nodige raad kry.”

Slank 6 word van 4 Julie af om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.