Pietie Beyers maak buiging in ‘GMR’ as ‘metro-boer’

Pietie Beyers en Ansu Visser in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse akteur Pietie Beyers vertolk die splinternuwe karakter van Nico Kleinhans in die kykNET-sepie Getroud met rugby, wat Lulu (Ansu Visser) en Simon (David Louw) se lewe deurmekaar kom krap.

Nico is ʼn hidroponikaboer van Heidelberg en is van die meer moderne soort, verklap Beyers oor dié karakter, wat verlede Donderdag sy buiging op die kassie gemaak het toe hy vir Lulu in Pottie’s besoek het en sy liefde aan haar verklaar het.

Dit het Lulu, wat destyds Nico se groot skoolliefde was, se voete onder haar uitgeslaan en kykers wonder nou wat hierna tussen hulle gaan gebeur.

“Nico het van die plaas in Heidelberg deurgery om vir Lulu te gaan sê hoe hy voel. Hy kon ná tien jaar waarin hulle paaie geskei het steeds nie van haar vergeet nie,” vertel Beyers aan Maroela Media.

Hoewel Nico ʼn boer is, is hy redelik vertroud met alles wat in die stad aangaan en allermins die tipiese, kakie-draende boer wat ʼn mens sou verwag.

Pietie Beyers en Ansu Visser in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

“Die komplekse liefdesdriehoek tussen Nico, Lulu en Simon is ietwat onafwendbaar omdat Nico en Lulu ʼn geskiedenis het, maar ook omdat Lulu en Simon ʼn kind saam het. Nou wonder kykers, gaan Nico stad toe trek, of gaan hy vir Lulu en haar baba, Anja, saam plaas toe neem? Daar brand beslis ʼn groot liefdesvlam tussen Nico en Lulu en hulle gaan mekaar tot ʼn mate van voor af herontdek,” verklap Beyers.

Hy vertel dat hy nie ʼn oudisie vir dié rol afgelê het nie en dat dit vir hom aangebied is. “Ek het vroeër in Deon Opperman, skrywer en vervaardiger van Getroud met rugby, se rolprente wat deel was van sy rolprentprojek gespeel en toe die rol van Nico verskyn, het hulle my onthou en my direk gekontak.”

Beyers het al ʼn draai op verskeie sepiestelle gemaak en was voorheen in 7de Laan en Binnelanders te sien. Hy kan egter nie uitgepraat raak oor die verwelkomende werksomgewing van die Getroud met rugby-stel nie.

“Destyds toe ek op die stel van Binnelanders aangekom het, was ek baie vars in die bedryf. Intussen het ek baie ervaring opgedoen en soveel dinge geleer wat ek op die Getroud met rugby-stel kon toepas. Die vinnige pas van ʼn sepie is ʼn goeie leerskool, aangesien jy uiters voorbereid moet wees wanneer jy jou tonele skiet. Daar is nie tyd om oor jou woorde te val nie,” verduidelik Beyers.

Pietie Beyers en Ansu Visser in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

“Ek het op die Getroud met rugby-stel bitter min ego raakgeloop en met mense te doen gekry wat hulle werk ernstig opneem, maar steeds baie gaaf is. Dit is ʼn omgewing waar die mense die gees bo die ego ag.”

Hy gee toe dat hy nie die soort akteur is wat die vorige aand sy woorde kan begin leer nie en daarom begin hy lank voor die tyd daaraan werk om seker te maak hy is goed voorbereid wanneer hy in Nico Kleinhans se skoene staan.

“Ek moet my tyd vat en regtig gaan dink oor die teks en dit benader uit ʼn sekere oogpunt en al die interessante moontlikhede ondersoek.”

Hy moedig mense aan wat voorheen nie na Getroud met rugby gekyk het nie, om voor die kassie in te skuif en dié sepie te geniet.

Pietie Beyers en Ansu Visser in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

“Ek het soveel egtheid en diepte ervaar op die stel. Ek glo ook my en Ansu se tonele dra by tot die egtheid en diepte van die sepie. Ek het die afgelope ruk deur eerstehandse ervaring beleef hoe Getroud met rugby regtig die grense oorsteek deur sosiale kwessies aan te raak.”

Getroud met rugby is elke weeksaand om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Soethappie ·

Ek hou van Pietie Beyers met sy aansteeklike vriendelikheid , boerseun voorkoms en oopgesig glimlag. Ek hoop hy maak weer sy verskyning in 7de Laan. Daar was ‘iets’ tussen hom en Connie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.