‘Plaasjapie’: Dié deelnemer pak self haar tas

Spanne moes mekaar uitdaag om te sien wie die meeste botter in ʼn uur kon maak. (Foto: Verskaf)

“Die oomblik toe ek my hand opgesteek het en self gevra het om die kompetisie te verlaat, het dit gevoel of ʼn reuselas van my skouers af is. Ek het skoon hoendervleis gekry.”

Só sê Suzette H, die 55-jarige Plaasjapie-deelnemer wat kykers van dié nuwe kykNET-reeks Donderdagaand verbaas het toe sy vir die programaanbieder, Ewan Strydom, gesê het sy voel dat haar tyd op die plaas tot ʼn einde gekom het.

In Plaasjapie verruil 18 deelnemers hul gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan in die Swartland aan die Weskus vir ʼn kans om R1 miljoen te wen.

Suzette H het self besluit om haar tassies te pak. (Foto: Verskaf)

Suzette se skokbesluit om self dié kompetisie te verlaat volg nadat sy en haar Noubeesspanlede, wat tans uit Leon-Nene, Dian, Cecil en Bean bestaan, vir die eerste keer in ʼn lang tyd een van die daaglikse uitdagings in dié televisieprogram verloor het.

Sy het aan Maroela Media erken dat sy reeds vroeër die kompetisie wou verlaat het en veral in haar laaste twee dae op die plaas gevoel het of daar ʼn teiken op haar rug is.

“Ek het my seun se troue gemis om aan Plaasjapie deel te neem en dinge het van daardie dag af vir my afdraande begin gaan. Ek het selfs af en toe gewens dat my span ʼn uitdaging verloor sodat ek moontlik die trekpas kon kry want die verwyt en verlange het net ʼn bietjie té veel geraak.”

Suzette, wat van Kroonstad in die Vrystaat kom, glo haar ouderdom het moontlik teen haar in dié kompetisie begin tel. Dié trotse ma van vier en ouma van nege sê sy wou egter aan haar familie én die publiek bewys dat mense ouer as 50 steeds “op en wakker kan wees” en sy glo sy het haar doelwit bereik.

“As ʼn mens 50 tref word jy skielik deur sommiges as ʼn ‘bejaarde’ gesien en ek het besluit om aan Plaasjapie deel te neem juis om te wys ʼn mens kan steeds werk en dinge bereik, ongeag jou ouderdom.”

Dié Vrystater het meer as een keer gewys wat in haar steek en veral tydens die boeresportkompetisie bewys dat ouderdom haar nie terughou nie. Boer Ewan het dié sentiment beaam en aan die einde van Donderdagaand se episode gesê dat Suzette “beslis haar sout werd was”.

“Ek dink ek het beslis my kant op die plaas gebring, maar ek is 15 jaar ouer as die jongste persoon in my span, en het maar myself soms eenkant gehou. Toe iemand die ouderdomskaart uitgepluk het, het ek net besluit dat familie vir my baie meer werd as om myself verder op die plaas af te sloof.”

Suzette H is nie spyt oor haar tyd op ‘Plaasjapie’ nie. (Foto: Verskaf)

Die besluit om te onttrek is egter nie ligtelik geneem nie.

“Ek het baie gewik en geweeg, maar op die ou einde was dit ʼn gebedsaak. Niemand behalwe ʼn vervaardiger het geweet dat ek dit oorweeg om te loop nie. Ek dink ek self was nog onseker tot die oomblik wat die stemproses moes begin het.”

Haar tyd op die plaas was nie te vergeefs nie en sy vertel dat haar kinders trots is om hul ma op die kassie te sien.

“Ek het ʼn ongelooflike ervaring gehad en ek is nie spyt oor my besluit nie. Nadat ek ook gehoor wat die prysgeld vir van my ander spanlede kon beteken, het ek ook geweet ek maak die regte besluit om te onttrek.”

Deelnemers moes ʼn ingewikkelde hindernisbaan takel in Donderdagaand se episode. (Foto: Verskaf)

As sy haar sin kry sal haar spanmaat Bean, ʼn musiekpromotor en avontuur-entrepreneur van Wes-Kaap, die R1 miljoen aan die einde van die kompetisie in sy sak steek.

“Bean se hele lewe en loopbaan is deur die pandemie platgetrek, so ek dink hy verdien beslis die prysgeld. Ek het vreeslik van hom gehou en dit ook so geniet as hy my ‘mamma Suzette’ genoem het want dit het vir my gevoel asof een van my kinders met my praat.”

In Donderdagaand se episode moes die spanne mekaar uitdaag om te sien wie die meeste botter in ʼn uur kon maak én ʼn ingewikkelde hindernisbaan takel om die koöperasie-kuier te vermy.

Danksy Suzette se onttrekking is daar egter nie nóg ʼn spanlid uit Noubees gestem nie en die twee kompeterende spanne se getalle is weer gelykop.

Plaasjapie word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.