Plaasjapie: ‘Kos’ is op die tafel en twee stadsjapies kry die trekpas

Roché van Noubees lek sy bord skoon. (Foto: Verskaf)

Die jongste episode van Plaasjapie kan dalk ʼn hol kol op die maag tot gevolg hê.

Deelnemers aan dié kykNET-televisiereeks is vandeesweek uitgedaag om te sien wie eerste die “fynproewersbederf” kon opeet om die “koöperasie kuier” – waartydens ʼn spanlid uitgestem moet word – te vermy.

Dié nuwe program se formaat is soortgelyk aan die oorlewingsreeks Survivor en daag 18 stadsjapies uit om te kyk wie die plaaslewe kaalhand vir prysgeld van R1 miljoen kan aanpak.

Gestoomde varkore, skaappens en beestong was van die lekkernye wat die nuutgevonde plaasjapies stuk-stuk in Donderdagaand se episode moes afdwing.

Ondanks dapper eters soos Billie, wat twee jaar gelede die Guinness-wêreldrekord verbeter het deur die meeste Marmite in ʼn minuut te eet, moes Soetmelksvlei as span egter aanklop vir hul eerste korporasiekuier.

Gestoomde varkore was van die lekkernye wat die nuutgevonde plaasjapies moes afdwing. (Foto: Verskaf)

Die Noubees-span het dus vir die eerste keer tot dusver as wenner uit die stryd getree en kon boonop ʼn “luuksheid” uit die korporasie kies.

Gemoedere het reeds voor dié dag se uitdaging hoog geloop by Soetmelksvlei, met deelnemers soos Gerda en Deon wat volgens hul soldaat-spanmaat, Marius, vir ʼn geruime tyd met teikens op hul rûe rondloop.

Die 56-jarige Gerda het reeds in die eerste episode koppe met spanlede begin stamp nadat sy hul foute in ʼn vurige nabetragting uitgewys het, terwyl Deon in vandeesweek se aflewering ook daarvan beskuldig is dat hy tot dusver nie so fluks met sy plaastake was nie.

Deon is toe die eerste lid van Soetmelksvlei om uitgestem te word en hy het sy mededeelnemers gewaarsku “om hul vriende bitter mooi te kies”.

Aanbieder en “baas van die plaas” Ewan Strydom het egter groot opskudding veroorsaak toe hy die oorblywende stadsjapies gevra het om nóg ʼn spanlid onverwags huis toe te stuur.

Hoewel daar vir Gerda én Arthur gestem is, was Jurie Naudé toe egter volgens sy spanlede nie sy sout werd nie.

Naudé woon tans in Witbank en werk as ʼn operasionele bestuurder by ʼn konstruksiemaatskappy.

Deon is toe die eerste lid van Soetmelksvlei om uitgestem te word. (Foto: Verskaf)

Die 44-jarige het aan Maroela Media vertel dat hy danksy sy sterk bondgenootskappe aanvanklik veilig by die korporasiekuier gevoel het en heeltemal onkant betrap was om sy naam die aand te hoor. “Dit het gevoel of die lewe uit my getap word, ek was so geskok.”

Naudé sê sy spanlede het vooraf gesê dat diegene wat hul kant op die plaas bring nie uitgestem sal word nie, wat hom juis veilig laat voel het.

“Ek weet dat ek beslis ʼn spanspeler was en dat ek deur en deur my kant gebring het. Ek het elke dag water van die dam af met die kruiwa aangedra en regtig probeer om die las vir ander ligter te maak.”

Naudé het verwag dat Arthur of Suzette dalk eerder die tweede trekpas sou kry. “As dit suiwer oor die werk gegaan het, sou ek raai dat een van hulle huis toe gestuur word, want albei het daarvan gehou om opdragte te gee en te sit en kyk hoe die werk gedoen word.”

Jurie Naudé. (Foto: Verskaf)

Hy voeg skertsend by dat hy tans nie een van sy spanlede die prysgeld gun nie, maar dat Noubees-lid Roché volgens hom die R1 miljoen verdien.

Die musikant sê ook dat hy opnuut respek en waardering vir boerdery gekry het en ook “luukshede” soos ʼn gemaklike bed nou ná sy tyd by Plaasjapie meer waardeer.

“Ek is baie bly dat ek gekies is om deel te neem. Jy besef nie waartoe jy as mens in staat is totdat jy jouself in só ʼn posisie plaas nie. Kykers sien nie altyd presies hoe hard ons moet werk nie, maar daar is benewens die uitdagings altyd werk om op die plaas te doen.”

Plaasjapie word Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wessel ·

Ek is baie lief vir hierdie “KONINGS” kosse wat hulle moes eet. My mond het skoon gewater as ek daarna kyk en gaan veroorsaak dat ek nog die naweek skaap afval gaan koop om gaar te maak.

Nommer 7 ·

My mond water as ek deur die Karoo ry en die skape sien wei.

andre ·

Sal MM asb verduidelik waarom my kommentaar verwyder is, nadat ek julle gevra het om nie die uitkoms van programme bekend te maak nie, dit bederf mense wat dit opneem om later te kyk se plesier om die program te geniet. Is dit n probleem vir julle om kritiek te verwerk? Indien so, sê so, dan lees ek maar nie weer MM nie.

B-Man ·

Lees maar eerder dan net die voorwaardes vir kommentaar hierbo weer. Jy hoef mos nie in te gaan en die artikel te lees nie, my vriend.

Kobus ·

Nee kyk, hierdie is nou ‘n pot snert. Geen boer “vreet” soos die deelnemers moes doen nie. Gaan my verstand te bowe dat daar altyd sulke “uitdagings” moet wees. Wat word nou regtig bewys? Lesers sal seker sê kyk dan ander program, dankie , dit is presies wat ek gaan doen.

Nommer 7 ·

Stem saam, brandewyn en Coke sou meer toepaslik gewees het.

B-Man ·

Is korporasie reg? Moet dit nie eerder “koöperasie” heet nie?

Nommer 7 ·

Doodreg, ‘n Korporasie word besit deur aandeelhouers wat ‘n raad van direkteure aanstel. ‘n Koöperasie word deur lede (bv. boere) besit, en het nie ‘n direksie nodig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.