‘Plaasjapie’ se Arthur: ‘Die miljoen was nooit my maatstaf’

Arthur is Donderdagaand uitgestem. (Foto: Verskaf)

Baasspelerig, emosioneel, strategies?

Nee wat, Plaasjapie-deelnemer Arthur is ʼn openhartige softie wat sê dat hy altyd net sy span se belange op die hart gedra het.

Daarom hoop hy juis dat een van sy Soetmelksvlei-spanmaats die prysgeld van R1 miljoen in hul sakke gaan steek, al het hulle hom die trekpas in Donderdagaand se episode gegee.

“Ek bly maar lojaal aan my groep, ek is nog altyd in my hart ʼn regte spanspeler,” sê die 37-jarige kreatiewe direkteur en entrepreneur van Boksburg, Gauteng.

Arthur Twigge. (Foto: Verskaf)

Hy is die tiende deelnemer wat sy tassies moes pak in dié nuwe reeks waarin 18 deelnemers hul gemaklike stadsnessies vir ʼn primitiewe plaasbestaan in die Swartland aan die Weskus verruil.

Deelnemers moet daagliks nuwe plaasvaardighede blitsig aanleer, asook twee uitdagings takel om hul plekkie in dié spel te verseker.

Arthur is in Donderdagaand se episode huis toe gestuur nadat Soetmelksvlei ʼn geheuespeletjie verloor het en vir die koöperasie-kuier genooi is.

“Ek vat my trekpas nie persoonlik nie, ek het besef die spel gaan nou begin draai en dat dit binnekort elkeen vir homself gaan wees.”

Hy het aan Maroela Media vertel dat hoewel party hom as baasspelerig bestempel het, hy altyd net die beste vir sy spanmaats wou hê. “As ek sien dinge loop skeef of iemand sukkel, dan is my eerste instink om te probeer help. Dit het my verbaas hoe sensitief mense vir kritiek kan wees, maar my intensies was altyd net goed.”

Die plaasjapies braai nou lekker saam. (Foto: Verskaf)

Hy lag veral oor aantygings dat hy ʼn “emosionele strategie” gehad het. “Ek is en was nog altyd ʼn empatiese en openhartige mens en is van die begin af opreg. Net omdat iemand kies om hulle kwesbare kant te wys, beteken nie dat hulle ʼn agenda het nie.”

Die prysgeld was ook van die begin af vir hom ʼn bysaak.

“Die R1 miljoen was nooit vir my ʼn maatstaf van my sukses in die kompetisie nie. My uithouvermoë en die blote feit dat ek na byna twee weke eers uitgestem is, is vir my klaar ongelooflik. Ek is baie trots en bly oor my ervaring.”

Die feit dat sy naam meer as een keer al by ʼn koöperasie-kuier geopper is, is ook vir hom ʼn kompliment. “Vir my sê dit dat mense jou as ʼn moontlike dreigement sien en dat jy die spel goed speel. Dit hou jou ook op jou tone en laat jou konstant jou aanslag teenoor ander evalueer.”

Deelnemers moes ʼn moeilike geheuespeletjie aanpak. (Foto: Verskaf)

Hy beaam voormalige deelnemers se sentimente dat daar geen kwade gevoelens tussen die plaasjapies na afloop van die kompetisie is nie. “Party van ons gesels nog daagliks oor diep sake, ander loer so nou en dan in. ʼn Hele paar van ons het nou die dag saam gebraai en dis lekker want net ons klompie weet waardeur ons op die plaas moes gaan.”

Sewe plaasjapies is nou nóg ʼn tree nader aan die R1 miljoen en met Arthur se trekpas het dit ook nou duidelik geword dat die erns van die kompetisie onder deelnemers gevoel word.

Soetmelksvlei-lid Stefan het in Donderdagaand se episode erken dat sy span se herhaaldelike verloorstreep ʼn frustrasie begin raak. Selfs die Noubees-lede se harmonie word met onderliggende krapperigheid tussen deelnemers Leo-Nene en Bean versteur.

Benewens die uitdagende geheuespeletjies moes die plaasjapies leer draadspan en gewoond raak aan die minder hande wat daar daagliks vir die vele werk op die plaas oorbly.

Wie kry volgende die trekpas? Skakel op Donderdag om 20:00 op kykNET in om Plaasjapie te kyk en uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.