‘Poena’ kraai weer koning

Robbie Wessels as Poena. (Foto: verskaf)

Die bekende gesig van Robbie Wessels, wat al sedert die vroeë 2000’s Suid-Afrikaners met sy musiek en manewales vermaak, is terug op televisie in die reeks Poena.

In 2007 het Suid-Afrikaners met die komieklike karakter in Poena is Koning kennis gemaak. In 2020 is die TV-fliek, Poena, vrygestel. Dit was opgevolg met Poena en Poenie in 2021.

“Dis vir my baie lekker om terug te keer TV toe. Ek het lanklaas lekker ligte komedie-werk gedoen,” het Wessels aan Maroela Media gesê.

Kykers kan hul vere regskud vir ʼn kant van Poena waarmee hulle nog nie kennis gemaak het nie.

“Poena hou sy lyf sanger in dié reeks. Elke episode sal ʼn nuwe liedjie bevat.”

ʼn Steunpilaar in die Afrikaanse komediebedryf, Willie Esterhuizen, sit agter die skryf van Poena. Dis juis hy wat verantwoordelik was vir die nuwe, musikale kant van die verhaal.

Wessels beoog om ná die reeks van die liedjies as enkelsnitte op te neem.

Komedie lê hom na aan die hart, alhoewel hy glo dat daar erns in elke stukkie humor is.

“Wille [Esterhuizen] sê altyd dat komedie eintlik ʼn ernstige besigheid is. Alhoewel dit ʼn komediereeks is, is daar steeds iets dieper aan elke karakter.”

Hy is gek daaroor om sy lyf akteur te hou, maar sy hart klop egter steeds vuurwarm vir musiek.

“Dit sal ongelooflik moeilik wees as ek nie kan toer nie. Musiek is ʼn groot passie van my.”

Die skeppende aard van sy rol as musikant is die een deel van sy jare lange musiekloopbaan wat nooit oud geword het nie.

“Wanneer ek wag vir mense se reaksie op iets soos ʼn liedjie of musiekvideo wat ek geskep het; dit is wat my steeds bitter opgewonde maak.”

  • Poena word weekliks op Maandae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda G ·

Gelukkig weer n komedie waar mens lekker kan lag. Geniet dit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.