President Karen slaggereed om weer Zoid-kabinet in te huldig

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

As president van die Republiek van Zoid Afrika het Karen Zoid geen politieke of ander agendas nie. Sy wil net haar volk inspireer deur bekendes se stories te vertel en regstreekse musiekopnames van wêreldgehalte vervaardig.

Die sesde seisoen van dié gewilde reeks begin vandag (Donderdag) op kykNET uitsaai en Zoid is gereed om haar weer in die presidentstoel gemaklik te maak. In die eerste episode gesels sy met die sanger Elandré, die aktrise Crystal-Donna Roberts en die televisiepersoonlikheid Jeannie D.

Zoid glo ʼn mens moet altyd alles in die lewe aanpak asof dit gaan werk, en daarom het sy en haar span gewoeker om ʼn gehaltereeks te skep wat goed genoeg is om ʼn rakleeftyd van ses seisoene en langer te hê.

“Ons was oorspronklik so verras dat ons ʼn kans gegun is om ʼn televisieprogram te maak dat ons ons boeglam geskrik het en dit keer op keer net beter wou maak,” lag sy.

“Ons wou graag daardie platform hê, want jy kan soveel meer daarmee doen en meer mense bereik. As iemand vir jou die geleentheid gee om ʼn televisieprogram te maak, dan gee jy jou beste. As jy ʼn beurt kry, moet jy gereed wees.”

Hoewel sy glo dit is die menslikheid van die gaste wat deur die program na vore kom wat bydra tot die sukses, hoop sy ook dat die musiek ʼn groot rol in die volgehoue kykertal speel.

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

“My passie lê daarin om regstreekse klankopnames van topgehalte te maak, iets wat op ʼn wêreldverhoog kan speel en mense moet kan sê die gehalte is regtig goed. Die opnames word ordentlik verwerk, en die lirieke en die gevoel van die liedjies kom net soveel beter oor. ʼn Mens maak tog musiek omdat jy wil hê ander moet dit hoor. Ek gesels miskien vir die grootste deel van die program, maar die meeste werk gaan in die laaste drie minute van elke episode,” sê Zoid.

Sy vertel sy is in verbinding met elke kunstenaar saam met wie sy ʼn liedjie lewer. “Ons besluit saam watter liedjie om te doen. Daarna doen ek ʼn verwerking saam met my band en stuur ʼn demo vir die kunstenaar aan. Hulle lewer dan insette en as hulle op die dag by die ateljee aankom om die program te skiet, het ons twee uur om die liedjie te repeteer en ons voete te vind,” verklap sy.

Sy voeg by die trant van haar onderhoude is nie ondersoekend nie. “Die gaste is nie daar om vuil wasgoed te was nie. As jy genooi word om op die program te wees, beteken dit ons is mal oor jou. Ons wil die persoon vier en selfs agter die skerms maak ons dit vir hulle baie gemaklik en laat hulle spesiaal voel. Dit is ʼn hele ervaring lank voor die kameras begin rol en ek dink dit dra by tot waarom almal so ontspanne en tuis is.”

Zoid vertel die kriteria om ʼn gas op die program te wees is eenvoudig: “Die goue reël is dit moet mense wees wat ons dink legendariese mense is, wat ons trots maak daarop om Suid-Afrikaners te wees, en wat ander mense kan inspireer soos wat hulle vir my inspireer.”

Sy verklap ook dat die geliefde Mielie-karakter weer gesig gaan wys in die sesde seisoen. “In elke reeks verander ons iets. Ons rond dit elke keer meer af. Hierdie slag het ons aan die stel verander, die kameras is opgegradeer, die grading is verander, klein detail.”

Karen Zoid, Early B en Neil Sandilands se snit, “Toe die wêreld stil gaan staan”, is ‘n treffer.

Zoid se jongste snit, “Toe die wêreld stil gaan staan”, is soos vele van haar ander liedjies ʼn oornagtreffer en pryk tans op die Maroela Media Afrikaanse Top-20. Die kletsrymer Early B en die akteur en musikant Neil Sandilands verskyn ook op dié snit.

Sy vertel die liedjie is kort voordat die algehele afsonderingstydperk in Suid-Afrika ingestel is, geskryf en vervaardig. Die liedjie is opgeneem by Zoid se ateljee, Mothership Studios, in Philadelphia in die Kaap.

“Die projek het net ontvou. Neil het kort voor die afsonderingstydperk by my kom kuier in die ateljee. Ons het gesels oor hoe ons tog die een of ander tyd ʼn liedjie saam moet doen, en ek sê toe, maar hoekom nie nou nie? Ek het ʼn staande band rehearsal elke Dinsdag en ek het vir die ouens gesê ons gaan ʼn nuwe liedjie oefen. Dit was toe tien mense nog saam in ʼn vertrek mag gewees het, maar ons het met maskers en handreiniger in die ateljee gestaan.

“Woensdag het ek vir Earl (Early B) gebel en hy was toevallig van Port Elizabeth in die Kaap by sy woonstel hier. Neil was toe op Riversdal by sy suster op die plaas. Hulle albei was Woensdag in die ateljee om die liedjie op te neem, en Donderdag het ek en Theo Crous die liedjie gemeng. Daardie aand 00:00 het die algehele afsondering begin. Toe almal begin panic oor toiletpapier, het ek ʼn song opgeneem,” lag sy.

“Ek verlang só na my band. Ons speel elke liewe Dinsdag vir vyf uur saam. Dis amper asof ons daardie dag geweet het ons gaan mekaar vir ʼn lang tyd nie weer sien of saam kan speel nie, so ons het ons harte uit gespeel. Dit is ʼn cherry op die koek dat mense dit so goed ontvang.”

Republiek van Zoid Afrika saai Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.