President Zoid vertel meer oor nuwe Republiek-reeks

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser/Verskaf)

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser/Verskaf)

Karen Zoid, presidentsvrou van Die Republiek van Zoid Afrika, neem op 11 Oktober weer haar troon in wanneer die nuwe seisoen van dié gewilde reeks op kykNET afskop.

Aanhangers kan onder meer uitsien na ʼn kuier saam met Armand Aucamp, Christo Davids en Ard Matthews vir die eerste episode uit dié seisoen. Karen en Ard gaan oudergewoonte ook aan die einde van die episode musiek maak met ʼn oorspronklike verwerking.

Dié sangeres meen die jongste reeks se musiekverwerkings het ʼn groter rock-aanslag as vorige seisoene.

Dié musiek is ook weer op iTunes se aanlyn musiekwinkel beskikbaar.

Die vierde seisoen spog met ’n nuwe tydgleuf en sal voorts op Dinsdae om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), in plaas van Donderdae, gebeeldsaai word.

Kykers kan ook weer uitsien na die insetsels met Annemarie Ferreira (boereraat vir bands) en Marinda Senekal, die panfluitsensasie.

Vyf vinnige vrae aan Karen Zoid oor die jongste reeks:

  1. Waarna kan kykers veral uitsien in die nuwe reeks?

Daar is gaste in die nuwe seisoen, wat ons al van reeks 1 af wou kry, en wat uiteindelik beskikbaar was toe ons geskiet het. Ek kan nie anders as om deur my gaste geïnspireer te voel ná elke episode nie. Elke gesprek is belaai met lewenswyshede en kwinkslae. Ons lag lekker.

  1. Hoekom, dink jy, is die Republiek so suksesvol?

Dis soos die lewe – ons lag lekker, ons praat oor alles en nog wat, ons deel geheime. Dis real en ek dink kykers by die huis kan dit aanvoel.

  1. Verklap een of twee musiekverwerkings in die nuwe reeks.

Hierdie reeks se musiekverwerkings het meer van ʼn rock-aanslag. Ek het in my lewe nooit gedink ek gaan ’n song kan doen met iemand soos Leon Schuster nie. Om ou treffers van Riana Nel en Lianie May te verwerk was ook lekker vir my. Elke song het sy eie storie en dit bly vir my ʼn hoogtepunt om elke episode so af te sluit.

  1. Wat was een van die opwindendste dele tydens die opname van die reeks?

Om tyd deur te bring met my gaste, almal amazing mense wat my inspireer op verskeie maniere. En ek is eerstens ’n musikant, so die musiek is altyd vir my een van die lekkerste dele.

  1. Som die nuwe reeks in ʼn sin op.

Jou Dinsdagaande is geboek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anneke ·

Uiteindelik weer ‘n lekker program om na te kyk – interessante gaste en goeie musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.