Pretoria FM sprei vlerke na Namibië

pretoria-FM-namib

Hennie Koortzen, Elsje van Jaarsveld, Sarina Frauenstein en Esmarie Yssel van Pretoria FM. Foto: Verskaf.

Pretoria FM bereik op 20 September ʼn volgende mylpaal wanneer uitsendings van hierdie Afrikaanse radiostasie via DStv se oudio-platform herlei word na Namibië. Die radiostasie sal beskikbaar wees op DStv kanaal 887.

Roger Gertze, algemene bestuurder van MultiChoice Namibia, het aangevoer dat die uitbreiding van Pretoria FM se uitsendings na Namibië beteken dat Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Namibië nou meer toegang tot Afrikaanse inhoud sal hê. “MultiChoice Namibië se visie is om Namibiërs se lewens te verryk. Een van ons kerndoelwitte is om te verseker dat DStv-intekenaars se kykervarings voortdurend verbeter word deur inhoud te verskaf waarmee hulle kan assosieer. Ons glo dat DStv-intekenaars hierdie Afrikaanse byvoeging tot die DStv-oudio-platform sal benut.”

Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, meen die radiostasie is baie meer as ʼn gemeenskapsradiodiens: “Die uitbreiding van Pretoria FM se voetspoor na Namibië via die DStv-platform is ʼn besonderse mylpaal en ʼn hoogtepunt op die radiostasie se pad na die verwesenliking van die visie om ʼn wêreldwye diens in Afrikaans te lewer. Ons fokus daarop om ʼn onafhanklike Afrikaanse radiodiens met hoë gehalte nuus, aktualiteit en luistergenot te bied aan Afrikaanse luisteraars wêreldwyd.”

Afgesien van Pretoria FM se uitsendings op DStv se oudio-platform, saai die stasie ook op FM uit vanaf nege geaffilieerde senders oor vyf provinsies in Suid-Afrika en word die stasie se internetuitsendings deur meer as 20 000 unieke luisteraars wêreldwyd gevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

neelsie ·

Dankie Pretoria Fm vir julle eerlike weergawe van sake van die dag en die waardes wat julle oor die lug uitdra.
104.2 is n plesier om na te luister.

Conrad ·

Ek wens ek kon Pretoria FM luister. Kry hom nou nie eers naastenby opgevang nie en ek is in Pretoria.

Lionel ·

Ek wens ook ons kon Pretoria FM hier in die Laeveld luister. Ons word gemartel om Jacaranda se 5 songs per dag oor en oor te luister.

Adoons ·

Bly vir die Namibiërs se part! Pretoria FM is al waarna ons luister.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.