Produksie van ‘Game of Thrones’-voorvolgreeks begin

Die televisienetwerk HBO het Maandag op Twitter aangekondig dat die produksie van House of the Dragon amptelik in Cornwall, Engeland, afgeskop het.

House of the Dragon is die reeks wat gebeure in die trefferreeks Game of Thrones voorafgaan. Die oorspronklike Game of Thrones-reeks het “moet-sien-televisie” vir die stromingsgenerasie herdefinieer en het altesaam 59 Emmy-toekennings ingeoes.

ʼn Rolprentspan op ʼn stel reg uit die Middeleeue is verlede week by St. Michael’s Mount naby Penzance opgemerk. Foto’s van dié span en akteurs in kostuums, wat lyk soos Matt Smith en Emma D’Arcy, is by Holywell Bay naby Newquay geneem en word ook tans op sosiale media versprei.

HBO het ook foto’s gedeel van die rolverdeling wat saam deur die teks lees. Emma D’Arcy sal in House of the Dragon te sien wees as prinses Rhaenyra Targaryen, terwyl Steve Toussaint as The Sea Snake, Paddy Considine as koning Viserys Targaryen en Olivia Cooke as Alicent Hightower sal verskyn.

Matt Smith, bekend vir sy rol as prins Philip in die Netflix-reeks The Queen en vir sy hoofrol in Doctor Who, sal in die rol van prins Daemon Targaryen te sien wees.

House of the Dragon vertel die verhaal van die Targaryen-familie in Westeros en speel 300 jaar voor die gebeurtenisse in Game of Thrones af.

‘n Foto van twee akteurs in kostuums, wat lyk soos Emma D’Arcy en Matt Smith, word op sosiale media versprei. (Foto: Facebook)

Ryan Condal en Miguel Sapochnik is aan die stuur van sake terwyl sage-skrywer George RR Martin as uitvoerende vervaardiger sal optree.

WarnerMedia het in Maart in ʼn verklaring aan AFP bevestig dat ʼn algehele ooreenkoms van vyf jaar met Martin gesluit is om inhoud te ontwikkel vir HBO en HBO Max.

House of the Dragon is een van ses Game of Thrones-verwante reekse wat deur HBO gemaak gaan word. ʼn Groot verhoogproduksie, wat gemik is op Broadway in New York en die West End in Londen met nuwe akteurs in ikoniese rolle soos die van Ned Stark en Jaime Lannister, word ook beplan.

House of the Dragon sal na verwagting volgende jaar op HBO Max te sien wees.

Bronne: BBC, Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eclectus ·

Nou ja, kom ons hoop en bid hierdie reeks se laaste seisoen gaan nie ook so ‘n afgewaterde telleurstelling wees soos wat GOT s’n was nie.

Jack ·

Voorvolg reekse is onsinnig. Wat is daar om na uit te sien? Ons weet mos alreeds Danaerys se hele lewensverloop.

Piet ·

Daenerys is nie deel van hierdie reeks nie, dit speel-af Eeue voor GOT.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.