Radiobekende eersdaags in Afrikaanse sepie te sien

Darren “Whackhead” Simpson (Foto: 947)

Darren “Whackhead” Simpson is reeds wyd bekend as radio-omroeper, en veral vir sy skreeusnaakse poetse wat hy niksvermoedende mense so graag bak, maar binnekort gaan dié Engelsman sy lyf akteur hou in ʼn gewilde Afrikaanse sepie.

Simpson sal eersdaags op die kassie te sien wees in ʼn rol in die kykNET-sepie Suidooster.

Dié aankondiging kom nadat Simpson onlangs gesê het sy groot doelwit vir die jaar is om sy Afrikaans te verbeter, tot só ʼn mate dat hy in Suidooster kan verskyn. Verlede jaar was Simpson se doelwit om in die GQ-tydskrif te verskyn en hy het dit sowaar reggekry.

Die brief wat die vervaardigers van Suidooster aan Darren Simpson gestuur het. (Foto: Instagram via @thedarrensimpson)

Hy het op die oggendprogram op KFM, waar hy tans ʼn omroeper is, vertel ná ʼn besoek aan Atlantic Studios in Kaapstad het hy besluit hy wil in ʼn sepie optree. En nie sommer enige sepie nie – Suidooster.

Simpson het begin om vir dié doelwit te oefen deur een van sy bekende poetse, wat altyd in Engels gedoen word, in Afrikaans te doen. En kort voor lank is ʼn brief by hom afgelewer by KFM se ateljee waarin Bradley Joshua en Jaco Loubser, uitvoerende vervaardigers van Suidooster, hom nooi om sy buiging in die sepie te maak.

“Ons is seker jou toneelspelvaardighede is stormsterk, want hiermee nooi ons jou uit om in Suidooster te verskyn – en dit is geen grap nie…” lui die brief.

Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder, sê Simpson is uiters gewild in Kaapstad en ook onder Suidooster se Kaapse kykers. “Juis daarom wil hy ’n daadwerklike poging aanwend om sy Afrikaans te verbeter. Sedert Darren by KFM aangesluit het, het hy die afgelope twee jaar baie geliefd geraak hier en sy Suidooster-optrede is nóg ’n stap in sy oriëntering om van hom ’n regte Kapenaar te maak,” sê Müller.

‘n Toneel uit Suidooster. (Foto: Facebook)

Hy wou egter nie veel oor Simpson se rol verklap nie. “Suidooster se skrywers is tans besig om Darren se rol te beplan, maar dit behoort natuurlik kykers se lagspiere te kielie!”

Maar dit klink of Simpson dalk nog meer opgewonde as sy aanhangers is. “Om in ʼn sepie te speel was nog altyd op my emmerskoplysie. En dit is ʼn droom wat waar word om dié doelwit te verwesenlik in een van die beste sepies in die land, Suidooster,” sê hy.

“Ek het nog nooit die maklike pad gekies nie en dié is vir my ʼn dubbele uitdaging. Eerstens, ek kan nie toneelspeel nie, en tweedens, ek sukkel met Afrikaans, maar ek twyfel nie dat ek dié ding kan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VanAfrika ·

Mis hom baie vandat Breadfast Express nie meer by ons is nie. Hy het sonskyn in ons dag gesit elke oggend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.