‘Real Housewives’: Anita se geduld met Karen en Michelle borrel oor

Veral Karen het haarself by Smash Lab geniet. (Foto: Verskaf)

Borde is gebreek, bande is gesmee en geheime is geskink in Donderdagaand se aflewering van Die Real Housewives van die Wynlande.

Amy Kleinhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl gee weekliks vir kykers van dié werklikheidsreeks ʼn blik op hul luukse lewens in die Wes-Kaapse wynlande.

Amy, ʼn sakevrou en voormalige Mej. Suid-Afrika, het die vroue gehelp om hul frustrasies eerder op goed as mekaar uit te haal en vir Karen, ʼn suksesvolle sakevrou, Mariska, ʼn voormalige welvaartbestuurder, en Michelle, ʼn estetikadokter, vir ʼn slaansessie by Smash Lab genooi.

Hier kon hulle ou breekware en elektroniese toestelle met ʼn bofbal beetkry en veral Karen en Michelle het dit omtrent geniet. Mariska het egter haar en Karen se frustrasies teenoor mekaar klaarblyklik herroep.

“Hierdie houe is vir elke boks wat ek gaan breek vir die bokse waarin mense my plaas,” het sy gesê terwyl sy vir Karen gekyk het.

“Ek sien wanneer mense vir my kyk. Toe dog ek: ‘oukei, ons kan later boksies tel’. Want ek was al in baie boksies in my lewe,” was die vurige Karen se reaksie.

Mariska het met dié kuier ook verklap dat haar tweede pienkvoet op pad is.

Candice het by Anita se herehuis gaan kuier.(Foto: Verskaf)

“As dit ʼn seuntjie is, kan julle hierdie enetjie ‘Wind’ noem,” het Karen tergend gesê met verwysing na Mariska se dogtertjie, Ocean, se unieke naam.

Dié twee vroue besluit toe om ná die slaansessie alleen te gesels oor hul struwelinge, maar alle pogings vir ʼn vredespraatjie het vinnig gefaal toe ou koeie uit die sloot gegrawe is.

Karen het vir Mariska gesê dat sy te “loud” is en volgens haar die indruk wek dat sy voor op die wa is. Sy het vir Mariska en haar man ook “swerwers” genoem.

Volgens Mariska het Karen haar herhaaldelik in die rede geval en sinnelose gesprekspunte uitgelig. Sy het ook verwag dat Karen haar om verskoning vir haar optrede tydens die vroue se kuier in die Krugerwildtuin sou vra.

“Ek het nie frikken nodig om vir jou om verskoning te vra nie, jy skuld my een. Het jy gedink jy gaan nou handskoentjies aansit en met my baklei?” het Karen vir Mariska uitgedaag.

“Ek is nie hard op Mariska nie, maar ek het ʼn probleem met iemand wat nie hul plek ken nie. Sal ons ooit beste maatjies wees? Nee,” het ʼn kwaai Karen aan die kameras gesê.

Mariska en Karen het weer woorde gewissel. (Foto: Verskaf)

Aan die ander kant van die wingerde het Candice, ʼn sangeres en sakevrou, by Anita, wie se man binnekort uittree as uitvoerende hoof van die Ko-operatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV), se herehuis in die Paarl gaan kuier.

Die twee het koppe bymekaargesit vir Anita se Casino Royale-partytjie, wat die hoogtepunt van Donderdagaand se episode was.

Tydens dié kuier het Michelle verklap dat haar huislewe met tye uitdagend is.

“Ek kry haar jammer, want ek voel sy roep uit vir hulp. Ek dink sy’t ʼn moeilike lewe,” het Candice oor Michelle se situasie gesê.

Anita het tydens die partytjie haar gaste ook bederf met ʼn reeks professionele foto’s wat van haar geneem is, asook ʼn toer van haar spoggerige juwelelaai en klerekas – waartydens die kameras ongelukkig nie welkom was nie.

Toe die vroue later voor die pokertafel sit, het Anita se geduld met Karen en Michelle vinnig begin oorborrel. Volgens Anita was sy gedwing om veral vir Karen in die bek te ruk.

Michelle, wat erken het dat sy nie mooi na die reëls geluister het nie, het volgens Candice soos ʼn “kindjie” geword en nie op die spel gefokus nie, terwyl Karen die poker-uitdeler, David, herhaaldelik in die rede geval het.

Anita se geduld met haar kuiergaste het vinnig oorgeborrel. (Foto: Verskaf)

Get over yourself,” het Anita haarself opgeruk. “Michelle was ook weird gewees, ek weet nie wat daar aangegaan het nie.”

Anita het die aand toe kortgeknip en haar kuiergaste summier huis toe gestuur, wat volgens Amy ʼn slegte smaak in haar mond gelos het.

“Julle moet nou gaan … en maak gou,” het Anita met ʼn halwe glimlag aan die huisvroue gesê.

Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

sarah ·

Daar is absoluut niks maar niks wat jy by hierdie sirkus van Housewifes kan leer nie!
die program se naam moet eintlik The Troublesome housewifes genoem word.
Hoogmoed, jaloesie, bakleiery, ensovoorts is aan die orde van die dag.
Gelukkig droom ek nie om so te wil wees.
Hulle kan hul geld hou.
Ek is op my gelukkigste wanneer ek onder die Straatmense werk!Ek gee, hulle ontvang in dankbaarheid!
En hulle is Nederig

Minnie ·

Indien dit is hoe ryk mense is dan het ek geen begeerte vir meer geld nie.
Hulle laat alle vroue sleg lyk. Ek skaam my vir hulle….

Minnie ·

Reeks is n baie groot teleurstelling. Hul almal vertolk rolle maar is baie slegte aktrises.
Karen is n verleentheid vir alle vroue. Sy walg my…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.