‘Real Housewives’ se Rhona ʼn jaar later ‘sagter maar steeds selfversekerd’

Rhona Erasmus by haar spa in Midstream. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Meer as ʼn jaar ná die laaste uitsending van The Real Housewives van Pretoria, is dié Afrikaanse werklikheidsreeks se Rhona Erasmus steeds ʼn selfgeldende sakevrou, maar nou met ʼn selferkende “sagter aanslag”.

Hoewel haar sogenaamde destydse vete met haar medehuisvrou, Mel Viljoen, vir kykersgenot en skinderpraatjies op sosiale media gesorg het, was dié program tog volgens Rhona nie net ʼn reusesukses nie, maar een van haar grootste professionele en persoonlike leerskole.

“Natuurlik verander só ʼn soort ervaring ʼn paar dinge in ʼn mens se lewe. My waardestelsel en standpunte is steeds dieselfde, maar ek kyk nou na mense met baie meer genade as vantevore. As mens op ʼn plek was waar mense jou uitmekaar getrek het, kan jy nie anders as om meer begrip te ontwikkel nie,” vertel sy aan Maroela Media.

“My ‘karakter’ op die program het byna ongenaakbaar voorgekom, maar dié wat my ken, weet ek is eintlik ʼn softie. Die skerper kante van my persoonlikheid het wel sagter geword – so ook my aanslag met konfrontasie,” verduidelik Rhona.

ʼn Jaar later was sy nog nie een oomblik spyt oor haar besluit om haar lewe vir kykNET-kameras oop te maak nie en glo dat die program in geheel ʼn vars perspektief op Afrikaanse vroue gebied het.

Die ma van twee vier vanjaar haar 40ste verjaarsdag. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Wat ek veral daarvan weggeneem het, is dat ons as vroue so divers is en dat dit oukei is as ons van mekaar verskil en vir onsself opstaan. Daar behoort niks vreemds daaraan te wees om ʼn sterk vrou uit eie reg te wil wees nie,” sê Rhona.

“Dit beteken nie iets teenoor mans nie en het inteendeel eintlik niks eens met hulle te doen nie. Ek wil net hê dogtertjies moet sommer vroeg leer dat hoewel mens nie ander se karakter of menswees moet afkraak nie, daar niks daarmee verkeerd is om ʼn saak of konflik op ʼn regverdige wyse aan te raak nie.”

Daarbenewens het sy meer respek vir haar eie man, Wikus, deur die proses gekry. Kykers sal onthou hoe Mel hom in een episode as bloot ʼn “onderwysertjie” gedoop het.

“Ons rolle is anders as die tradisionele gesinsrolle en hy het alles met soveel grasie, maar ook outoriteit hanteer. Ons het ʼn diep verhouding met die Here, mekaar en as gesin, so die dinge wat mense gesê het, het nie onder een van ons velle gekom nie.”

Sy en medehuisvrou Renske het steeds ʼn hegte vriendskap ná afloop van die program. So ook het sy ʼn goeie vriendskap met Kiki aangeknoop.

Volgens Rhona word daar selfs boodskappe af en toe tussen haar en Mel uitgeruil.

“Ek dink ons sal nog lekker kop stamp as jy ons kans gee, maar ek kon haar eintlik eers ná Housewives werklik leer ken en het ongelooflik baie respek vir haar en wat sy vermag het.”

Ná haar eie ervaring én as kyker van die Kaapse aflewering, The Real Housewives van die Wynlande, voel Rhona die afgelope jaar veral beskermend oor al dié reeks se vroue.

“Ek kon soms voorspel hoe die media die Kaapse vroue ná ʼn episode later sou interpreteer, so my hart het na hulle uitgegaan. Dis amper asof mens ʼn klein bende vorm; once a housewife, always a housewife. Mens het respek vir mekaar, want net ons klompie verstaan waardeur die ander is.”

Sy het veral van die Wynlande se Anita Lloyd en Candice Bester gehou.

Rhona Erasmus. (Foto: Martin de Kock/Verskaf)

“Ek het Anita se eksentriekheid en sêgoed baie geniet en ek dink ek het die meeste ooreenstemmings met Candice gehad, sy was vir my outentiek.”

Rhona bieg dat sy self ook nou deur ander oë na werklikheidsreekse soos Op my eish kyk en benadruk dat mense dié soort programme moet sien vir wat dit is: blote vermaak.

Juis daarom sal sy ʼn tweede RHOPTA-seisoen met ope arms verwelkom.

“Ek sê nie sommer nee vir uitdagings nie en ek sal dieselfde Rhona wees wat almal leer ken het, maar dalk nie alles so persoonlik opneem nie,” skerts sy.

“Ek dink ek het op die ou end net ʼn meer volronde weergawe van myself geword. Ek het nog soveel om te leer, maar droom nou net groter en is meer braaf om groter goed aan te pak.”

Sakevrou in murg en been

Een van dié groot drome het onlangs ʼn werklikheid geword nadat Rhona, wat reeds die eienaar van ʼn spa is, nou ook ʼn velsorgreeks saam met haar vriendin en vennoot, Magdel Kruger, bekendgestel het.

REALSKIN, waarvan die naam sinspeel op Rhona se liefde vir egtheid, het byna ʼn jaar en ʼn half geneem om te ontwikkel en het volgens haar ontstaan uit haar droom om produkte vir haar spa te ontwikkel én Magdel se droom om ʼn plaaslik vervaardigde grimeerreeks te skep.

“Ons gaan toe een stappie ‘terug’ en besluit om by die grondslag van dit alles te begin: ʼn gesonde vel. Ons was van die begin af vasberade dat dit wat ons skep plaaslik ontwikkel en geproduseer moet word, eerder as wat mens iets invoer en net jou naam daarop plak.”

Daarbenewens wou sy ʼn produkreeks ontwikkel wat nie ʼn ellelange en lywige velsorgregime sou vereis nie, maar tog regmerkies in die nodige chemiese en gesondheidsboksies sou plaas.

“Alles in my lewe moet doeltreffend en vinnig wees, ek het nie tyd of krag vir ʼn 11-stap-roetine nie en die gewone vrou het boonop nie geld vir tientalle produkte nie.”

Daarom kombineer REALSKIN se produkte volgens Rhona verskeie gepaste bestanddele met mekaar om veeldoelig, maar “potent” soos sy dit beskryf, te wees.

Ook die verpakking en aanslag is volgens haar “kleurvol eerder as klinies”.

“Ons wil nie meer hê dat vroue geïntimideerd moet voel deur skoonheidsprodukte nie. Ons leuse is ‘cheeky but sophisticated’, so alles van ons reeks moet maklik, mooi maar ook bekostigbaar wees.”

Groot mylpaal wag in September

Benewens haar nuwe velsorgreeks vier dié voormalige Mev. Suid-Afrika-finalis, en ma van twee, in September haar 40ste verjaarsdag.

REALSKIN is by Rhona se dagspa beskikbaar. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy sê sy bid daarom veral vanjaar daagliks vir wysheid en glo vroue moet meer genade met hulself hê om genadig teenoor mekaar te wees.

“Ek het snaaks genoeg nog nooit ʼn negatiewe konnotasie met ouderdom gehad nie. As jong onderwyseres in my vroeë 20’s het ek altyd opgekyk na die juffrouens wat tussen hul laat 30’s en 50’s was.”

Sy droom ook van ʼn platform om ander sakevroue op te hef en te bemagtig, maar dít sal nog later kom.

“Ek weet waar my goeie en swak punte is en wil myself aanhou uitdaag en druk om te verbeter, maar ek is reg vir ʼn volgende vlak. Dit voel soos my tyd, asof ek in my prime is. Ek het my skoolgeld betaal en die leerwerk gedoen, nou wil ek dit alles grootskaals begin toepas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.