‘Real Housewives’ tuit te lekker lippe vir TikTok

Candice wys haar sosialemedia-danspassies. (Foto: Verskaf)

In Donderdagaand se (relatiewe) dramavrye episode van Die Real Housewives van die Wynlande het die ses Wes-Kaapse “huisvroue” hul beste sosialemediavoetjie voorgesit tydens ʼn TikTok-partytjie.

Amy Kleinhans-Curd, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl gee weekliks vir kykers van dié werklikheidsreeks ʼn blik op hul luukse lewens in die Wes-Kaapse wynlande en het in die jongste episode heelwat minder drama as normaalweg opgedis.

Michelle, ʼn estetikadokter, het Nicole Wilmans, beïnvloeder en voormalige Survivor Suid-Afrika-wenner, se hulp  ingeroep om haar sosialemediateenwoordigheid te help opkikker, en besluit toe om haar mede-housewives by die pret te betrek.

Nicole Wilmans, beïnvloeder en voormalige Survivor Suid-Afrika-wenner. (Foto: Verskaf)

“Ek spandeer minstens twee ure op TikTok ʼn dag, maar ek staan óf vieruur op óf wag vir my man om te gaan slaap, so, dit meng nie met my familielewe in nie,” het dié voormalige traumadokter skertsend aan die kameras oor haar sosialemediaverslawing erken.

Haar mede-huisvoue is gevra om saam met haar in helder kleurblok-uitrustings (oftewel colour blocking) by ʼn wynplaas te kuier en aan ʼn TikTok video-opname, wat as ʼn piekniek verskuil was, deel te neem.

Elkeen het die kans gekry om model te speel en haar lippe voor die kamera te tuit.

Anita, wie se man hoof van die Ko-operatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV) is, het aanvanklik nie die ander vroue se entoesiasme vir dié aktiwiteit gedeel nie, maar later haarself voor die kamera geniet en kykers weer met haar kenmerkende kwinkslae en kleurvolle taalgebruik vermaak.

Karen, wat in verlede week se episode vir Mariska aangevat het omdat sy sonder kennisgewing laat by die vroue se kuier by Karen se vakansieoord naby die Krugerwildtuin aangesluit het, was dié keer die een om laaste by haar nuwe vriendinne aan te sluit.

Die stof het klaarblyklik ook nog nie heeltemal tussen dié twee blondekoppe gaan lê nie.

“Het sy vir iemand laat weet dat sy laat gaan wees? Dis mos ongeskik,” het Mariska vir Karen tergend nageaap toe sy laaste gearriveer het.

Na ʼn opdolliesessie het die vroue hul helder uitrustings vir blink nommertjies verruil, kompleet met ʼn tiara in Karen se geval.

Karen, ʼn suksesvolle sakevrou wat in Val de Vie tussen die Paarl en Franschhoek woon, het egter later die aand ʼn versadigingspunt bereik toe die vroue aanhoudend vir haar TikTok-bewegings gegiggel het.

“Daar’s soveel gegiggel, mens sou sweer hulle is in graad 000,” het sy oor die vroue se reaksies gekap.

“Sy’t dit persoonlik begin opneem, dat ek vir haar lag. Sy’t eintlik haarself ʼn bietjie vir my opgeruk, maar hoe meer sy haarself vir my opruk, hoe meer wil ek vir haar lag,” het Amy, ʼn voormalige Mej. SA, vir die kameras gesê.

Die vredesvlaggies het darem vinnig weer gewapper, soveel so dat Anita haar woorde van verlede week se episode teruggetrek het en gesê het dat sy tog haar mede-huisvroue by haar spoggerige huis wil onthaal.

Gasvrou Michelle het die TikTok-partytjie ook as ʼn sukses bestempel.

“Hierdie hele storie het eintlik die mooier goed in ons uitgebring, dit was baie pret.”

  • Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.