‘Republiek van Zoid Afrika’ binnekort terug

Karen Zoid. Foto: Verskaf

Karen Zoid. Foto: Verskaf

Inwoners van die Republiek van Zoid Afrika, staan op aandag! kykNET het Vrydagoggend aangekondig dié gewilde kletsprogram met Karen Zoid keer binnekort terug vir ʼn vierde seisoen.

Dié program is van Julie weer op die kassie te sien. Wilmer Müller, kykNET-woordvoerder, het gesê die program is terug vir ʼn vierde seisoen vanweë oorweldigende aanvraag deur die publiek.

Zoid het kykers in die slotepisode van die derde seisoen gegroet saam met Ray Dylan toe hulle sy treffer Jessica gesing het. Die ander ateljeegas was die aktrise Esther von Waltsleben wat Moemie Muis Senekal in die reeks se snaakse sketse, Keeping up with Marinda, speel.

Zoid het vertel elke episode en gas op die program was onvergeetlik. “Ons het lekker saam gelag en gehuil. Aan al die kykers, almal wat boodskappe op Facebook vir my stuur, elke liewe een wat die songs op iTunes aflaai en diegene wat die CD koop: Dankie vir alles!” het sy gesê.

Nou raai sy kykers egter aan om nie te ver weg van die kassie te beweeg nie. “Ons gaan ‘n kort vakansie hou in die republiek waarna ons weer al ons kragte sal saamspan om die meeste pret moontlik te hê saam met julle.”

Republiek van Zoid Afrika is ook onlangs bekroon met ’n Safta-toekenning as die beste geselsprogram op Suid-Afrikaanse televisie.

Sedert die derde seisoen van Republiek van Zoid Afrika op 7 Januarie begin het, het Zoid se verwerkings van geliefde liedjies dadelik toptreffers op iTunes geraak.

Hoewel al die liedjies op die top-tien iTunes-treffersparade gepryk het, het liedjies soos Dis ’n land (saam met Snotkop), Jantjie kom huis toe (saam met Emo Adams) en Groen trui (saam met Jan Blohm) die rangleer oornag tot die no. 1-posisie geklim.

Die amptelike klankbaan van die derde reeks, Republiek van Zoid Afrika, Volume 3, is ook reeds onder die drie gewildste albums op iTunes.

Republiek van Zoid Afrika, Volume 3 is in musiekwinkels landwyd beskikbaar. Koop dit ook op iTunes.

[wpvideo GFnleUt1]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leonie ·

Dankie tog!!! Kan nooit wag vir Donderdag aande nie. Beste program ooit!

Eliza-beth ·

Karen in die panfluitsensasie – wat ‘n kombinasie. Ek lag soms dat die trane loop en ek wil graag baie meer van die Senekals ook sien!

Rina ·

Ek het dit geniet, maar is van Boksburg, nou is ek te kommin vir die program.

Elize ·

Dis net vreeslik jammer dat ek nie op n ander soort tablet die itunes kan aflaai nie, weet nie hoe ek dit op myne kan kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.