Riaan groet nuusateljee – dié keer finaal

Riaan Cruywagen (Foto: Argief)

Die legendariese Afrikaanse ankeraanbieder en televisieman Riaan Cruywagen (72) gaan Donderdagaand vir die heel laaste keer ʼn oorsig van die afgelope dag se nuusgebeure op kykNET Verslag lewer – en dié keer groet hy die nuusateljee finaal.

kykNET het dié nuus Donderdag bekend gemaak.

Cruywagen, voorheen SABC2-nuusanker, is al vir vyf jaar betrokke by dié kanaal as ankeraanbieder van die kykNET se programme Dagbreek en kykNET Verslag.

Dié vaarwel kom nadat Cruywagen in 2012, ná 37 jaar by SABC2 as ankeraanbieder, dié kanaal gegroet het. Hy is steeds die persoon wat die langste in diens van die SAUK was as aanbieder. Hy is as “ʼn Afrikaanse ikoon” deur die ATKV aangewys, het ʼn toekenning vir die bevordering van Afrikaans van die Rapportryers ontvang en die Edgars-klub het hom as die beste mans-televisieaanbieder aangewys.

Cruywagen sal steeds as aanbieder van die program Met ʼn huppel in die stap te sien wees. kykNET Verslag word Donderdagaand om 21:30 uitgesaai op kykNET, DStv kanaal 144.

Hou Maroela Media dop vir ʼn volledige onderhoud met Cruywagen.

Lees meer op kykNET.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Dis nou regtig jammer, geniet altyd as Riaan die nuus lees ….UITSTEKEND !

Oom Kalahari ·

Jy was ‘n waardige man Riaan en ‘n groot aansporing vir die jonger geslag. Daar sal nie maklik iemand gevind kan word wat jou skoene sal kan volstaan nie. Ons almal gaan jou mis ou Grote. Geniet jou aftrede saam die wederhelfte. ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.