Rits bekendes in nuwe familiedrama-reeks te sien

Die rolverdeling van 'Alles Malan'. (Foto: Verskaf)

Die rolverdeling van ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Die splinternuwe familiedrama-reeks, getiteld Alles Malan, skop in Julie op kykNET af en ʼn hele rits bekendes in die Afrikaanse vermaakbedryf is in dié reeks te sien.

Die reeks speel in die Paarl buite Kaapstad af en aan die hoof van die familie staan Derik en Brenda Malan, onderskeidelik gespeel deur Albert Maritz en Elsabé Daneel. Hul eersgeborene, Frik, vertolk deur Ivan Zimmermann, keer ná agt jaar in Engeland terug om die familieonderneming, Malan Vervoer, by sy pa oor te neem.

Frik se vrou, Tessa, vertolk deur Nadia Valvekens, en hul twee tienerkinders keer saam met hom terug, maar het elkeen ʼn stryd van hul eie. Tessa moet weer gewoond daaraan raak om ʼn huisvrou te wees, terwyl die 17-jarige Elani, gespeel deur Greteli Fincham, agterkom sy is swanger.

Nico, vertolk deur Sean Marco Vorster, die jongste van die Malan-seuns, staan op trou met Lee-Ann, vertolk deur Nicole Fortuin, en gee sy werk by Malan Vervoer prys om sy droom na te jaag om ʼn rugbyafrigter te word. Die rol van oupagrootjie Peet word deur Marius Weyers vertolk.

Intussen worstel die gesin se 14-jarige aangenome seun, Freek, gespeel deur Matheo Olivier, met ras-identiteit.

Van die toneelspelers is van die skoolbanke gehaal om die rolle te vertolk: Greteli is ʼn matriekleerder aan Hoërskool Stellenbosch en Matheo is ʼn leerder aan Hoërskool Laborie. Daar is heelwat tonele by Hoërskool Hugenote in Wellington geskiet en van die leerders is as gas- en byspelers gebruik.

Ander bekendes wat in die reeks te sien is, is Hélène Truter as die skoolhoof, Tim Theron as Herold, Kay Smith as Cathy, Tristan de Beer as Allen, Nic de Jager as Danie, Mbulelo Grootboom as die huisdokter, Mila Guy as Vicky, Lee-Ann van Rooi as die skoolsielkundige en Pierre van Pletzen as die rugbyhoof Hannes. Brent Vermeulen speel die rol van Johan, Elani se nuwe liefde wat haar in al haar besluite ondersteun.

Die mederegisseurs van die reeks is Corné en René van Rooyen. Hulle het ook die konsep vir die reeks ontwikkel en is die hoofskrywers. Ook in die skrywerspan is Retief Scholtz, Burger Meyer en Lize Vosloo.

Corné is bekend as regisseur van trefferflieks soos Hollywood in my huis, Vaselinetjie en Susters. René is onder meer die regisseur van Toorbos, die rolprent wat op Dalene Matthee se boek gegrond is en in 2020 vrygestel word. Alles Malan is hulle eerste dramareeks.

Die vervaardiger is Tascha van der Westhuizen. Herman Kleinhans, bekend as sanger en liedjieskrywer vir die groep TWEE, het die musiek vir die reeks behartig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hoop ·

Ek hoop nie dis weer een van vreemde dramas wat Kyknet so lief is om uit te saai nie…….als lyk altyd goed as dit geadverteer word, maar sodra mens die program kyk dan is jy baie spyt daarna. Goeie karakters wat speel so kom ons wag en kyk!!!!

Nadia ·

Dankie Kyknet! Niks lekkerder as ‘n fliek of TV reeks in my moeder taal nie… maar HOTEL vat die koek ek geniet dit elke maandag! En Binnelanders… Suid ooster… Getroud met rugby… ag some enige afrikaanse ding…. dis beter as SABC 2 se 7 De traan!

Essa ·

Sien uit daarna. Hoop dit is net so puik soos Spoorloos, Fynskrif, Knapsekêrels en die onvergeetlike Sara se Geheim. kykNET doen werklik moeite om oorspronklike reekse in Afrikaans te vervaardig – dankie daarvoor. Natuurlik is alles nie altyd almal se smaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.