Roberto Kyle oor Safta: ‘Dit het my nederig gemaak’

Roberto Kyle. (Foto: Verskaf)

Die jong Suid-Afrikaanse akteur Roberto Kyle is onlangs met ʼn Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekenning (Safta) vereer vir sy rol in die gewilde Afrikaanse telenovela Arendsvlei.

In dié reeks vertolk hy die rol van Lee-Roy Foster, ʼn seun wat geboelie word weens sy seksuele oriëntasie.

“Vir my gaan dit oor die stories wat ek vertel, en die mense wat hulself in my karakters raaksien. Dus dra ek die toekenning aan hulle op – dié wat sonder vrees hul identiteit uitleef as wie en wat hulle is. Die erkenning het my ongelooflik nederig gemaak,” sê Roberto.

Hy het in 2015 sy graad in teater aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en in Oktober 2018 sy debuut in Arendsvlei gemaak.

“Ek geniet hierdie rol omdat dit ʼn komplekse, outentieke uitbeelding is van ʼn jong man wat sonder vrees die boelies in sy lewe aanpak.”

Roberto, wat ook te sien was in die eerste seisoen van die kykNET-reeks Die Spreeus, sê die toekoms lyk tans onseker in die lig van die wêreldwye Covid-19-pandemie.

“Ek is steeds opgewonde oor die vooruitsigte betreffende nuwe stories wat vertel moet word, nadat die Covid-19-krisis verby is. Daar is tans ʼn paar projekte uitgestel en ek kan nie wag om dit aan te pak nie.”

Hy sal ook te sien wees in die hoofrol in die nuwe rolprent The Gift. “Ek is opgewonde vir Suid-Afrika en die wêreld om dit te sien.”

Om homself besig te hou tydens die landwye afsondering het hy Franse taallesse begin neem en ook joga en meditasie beoefen. “Ek kyk ook na baie reekse omdat ek ʼn obsessie het met hoe akteurs tekste in die lewe bring.”

Arendsvlei word van Maandag tot Woensdag om 20:00 op DStv, kanaal 145 (kykNET & Kie), uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.