Toe Rolanda Marais in 2005 haar eerste treë op die stel van Binnelanders gegee het, het sy geweet waar sy vandag, byna twee dekades later, sou wees. Sy is en was immers nog altyd ʼn realis.
Rolanda (45) is vandag ʼn ma van twee spruite, sesjarige Charlotte en eenjarige Naudé, en vrou van gesoute regisseur, Jozua Malherbe. En hoewel sy haarself as ʼn ambisieuse aktrise, wat ook die lewe sonder man en kinders sou kon aanpak, beskryf, weet sy dat dit juis haar familie is wat haar begrond.
Sedert Rolanda jare gelede haarself in die sitkamers en harte van Suid-Afrikaners as Binnelanders se sagmoedige Stefanie ingestap het, het sy ʼn swaargewig in die Afrikaanse vermaakbedryf geword. Sy is veral bekend vir haar rolle in Wolwedans in die skemer, Ballade vir ʼn enkeling, Waterfront, Bloedbroers, Die Seemeeu en Donkerland. Sy is ook geen vreemdeling vir die teater nie, en dit is immers in die teater waar haar hart die warmste klop.
“My liefde het nog altyd in teater gelê,” het Rolanda, geklee in ʼn kenmerkende mosterdgeel jas, vir Maroela Media gesê. Sy dra haar liefde vir kleurvolheid en kuns op haar mou.
“Maar ek het geweet dat as ek in die Kaap sou bly, ʼn paar teaterstukke hier en ʼn paar reekse daar sou doen, het ek nooit myself as ʼn suksesvolle aktrise bewys nie.”
Dit is vir haar vreemd, erken sy, dat so baie van ʼn volwassene se loopbaankeuses verweef is daarmee om ouers gelukkig te maak en tevrede te stel.
“Ek wou myself bewys, ek wou bewys dat ek ʼn sukses daarvan kon maak om in hierdie belaglike bedryf wat ek gekies het te kan werk.”
Dit is juis waarom sy kort ná haar studies by die Universiteit van Kaapstad, haar tasse gepak het om Johannesburg toe te trek. Rolanda, ʼn boorling van die Kaap, het geweet dat sy haar geliefde grootwordplek vir die belowende stadsliggies van Johannesburg gaan moet verruil. As sy ʼn huishoudelike naam wou word, ʼn gesiene aktrise wat weet van toneelspeel, gaan sy vir ʼn paar jaar televisiewerk moet doen.
“Ek het destyds besluit dat ek by die Universiteit van Kaapstad gaan studeer, juis omdat hulle in daardie stadium slegs elf studente aanvaar het. Ek het vir myself gesê dat ek die oudisie gaan aflê, en indien ek nie gekeur word nie, weet ek dat ek nie goed genoeg is om hiervan ʼn loopbaan te maak nie,” onthou sy.
“Ek sou iets heeltemal anders gaan studeer het as ek nie ingekom het nie.”
Sy onthou haar eerste televisierol, Lied van die lappop, waar sy teenoor Gys de Villiers gespeel het. Sy pa, Dirk de Villiers, was die regisseur. Daarna was sy in ʼn Engelse produksie, Zero Tolerance, te sien voordat sy eindelik die rol in Binnelanders losgeslaan het. Toe was Binnelanders nog nie ʼn sepie nie, maar ʼn weeklikse dramareeks.
Sy het daar teenoor gesoute akteurs soos Dawid Minnaar, Sandi Schultz, die ontslape Franci Swanepoel en Binnelanders se eie dr. At Koster, oftewel Hans Strydom gespeel. Uiteindelik was Rolanda ses en ʼn half jaar lank in dié dagdrama.
“My plan was nooit om vir altyd in ʼn sepie te wees nie; dit is vir my vervelig om so lank dieselfde karakter te vertolk. Ek het dit gedoen om myself te vestig, sodat mense weet wie ek is wanneer ek terugkeer verhoog toe.
Haar plan om slegs vir ʼn paar jaar in Gauteng te bly, was in die wiele gery toe sy haar man, Jozua, op die stel van Wolwedans in die skemer ontmoet het. Hulle is in 2016 getroud en het in 2018 hul eersteling, Charlotte verwelkom.
Ná langer as 11 jaar in Johannesburg is dit haar dogtertjie se koms wat haar laat besef het dat haar hart na die Kaap hunker.
“Ek het Die Seemeeu in die Kaap geskiet, en my ma het in daardie tydperk na Charlotte gekyk. Kort daarna, was ek deel van nog ʼn produksie wat in die Kaap verfilm is … Waterfront,” onthou Rolanda.
In daardie tydperk het sy gesien hoe Charlotte se teenwoordigheid haar ouers laat verhelder. Sy het tuis gevoel.
“Ek het vir ʼn week teruggekeer Johannesburg toe, en geweet dat iets nie pluis is nie. Ek het besef dat ek nie langer weg van my ouers af kan wees nie, en dat ek nie my kind in Johannesburg wil grootmaak nie,” sê Rolanda, wat haarself uit en uit as ʼn familiemens beskryf.
Die trek terug Kaap toe was aanvanklik moeilik, erken sy, vir die eerste drie jaar was sy maar depressief. Sy het hegte vriendskappe in Johannesburg gevorm, vriendskappe wat sy nie in dieselfde wyse kon voortsit noudat sy na haar tuisdorp teruggetrek het nie.
Die vriende wat sy jare gelede, toe sy nog in die Kaap gebly het, gemaak het, was enkellopend en woelig.
“Ek het nie ʼn tribe gehad nie. Ek kon nie met ʼn baba uitgaan nie, en ek kon beslis nie die dinge gedoen het wat ek altyd jare gelede kon doen nie.
“Ek het eers onlangs my tribe weer gevind, vol ander kreatiewe mense, ma’s, wat ook kinders het. Dit is so lekker om deel van ʼn groep te wees wat my verstaan.”
Rolanda het Charlotte gehad toe sy byna 40 was, en Naudé toe sy 44 was. Alhoewel dit ʼn lewensveranderende besluit was om kinders te hê, sou sy dié besluit ʼn duisend keer oor maak.
“As ʼn mens kinders kry wanneer jy ouer is, freak ʼn mens nogal uit. Ewe skielik kan jy nie meer tot laat in die aand jou reekse kyk nie, jy kan nie meer uitgaan vir aandete nie. Die lewe wat jy vir 40 jaar geken het, bestaan nie meer nie – jy het nou hierdie klein diktator in ʼn doek.
“Jy kan sê wat jy wil, jy kan dink dat jou baba in jou dagboek gaan inpas, maar dit is net nie hoe dit werk nie.”
Sy erken maklik dat sy en Jozua nie eintlik beplan het om nog ʼn babatjie te hê nie, en dat dit soms makliker sou wees sonder nog ʼn klein lyf in die huis, maar dat sy vandag, as ma van twee, gelukkiger as ooit is.
Charlotte en Naudé, albei familiename, het die liefde wat sy nog altyd vir familie gekoester het, bloot versterk.
“Ons geniet hom so baie; hy is ʼn absolute fees,” sê sy.
“Te midde van die chaos is ek só content, só gelukkig.”