Room van Suid-Afrika se skoolkore ding teen mekaar mee

Laerskool Kruinsig (Foto: Verskaf)

Laerskool Kruinsig in Kempton Park het Sondagaand met die louere weggestap by die finaal van die Sing in Harmonie-skolekompetisie, toe albei hul kore gewen het.

Sing in Harmonie, met Anthonie Bougas as aanbieder, is tans die grootste skolekoorkompetisie in Suid-Afrika. Honderde laerskool- en hoërskoolkore oor die hele land ding jaarliks teen mekaar mee vir dié gesogte titel.

“Die kompetisie het geweldig vanjaar gegroei. Kore wat deurdring na die regstreeksfinaal is op ’n hoë standaard en hul harde werk spreek vanself. Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore oor ons hele land,” het Bougas gesê.

Antoinette Nightingale, koordirigent van Laerskool Kruinsig, wie se kore albei gewen het, was in “ekstase met die oorwinning”.

Antoinette Nightingale, koordirigent van Laerskool Kruinsig,(Foto: Verskaf)

Sy sê dis dubbel so lekker omdat albei kore wat sy afrig, junior én senior, as wenners aangewys is. Albei dié kore het ook ’n derde plek tydens die onlangse Wêreldkoor-olimpiade in Pretoria behaal.

“Ons het so vrek hard gewerk. Dis fantasties!” het Nightingale gesê.

Laerskool Kragbron in eMalahleni (Witbank) is as kykerskeuse by dié kompetisie gekroon.

Laerskool Hugenote het die senior informele afdeling gewen. Leana Engelbrecht, dié koor se dirigent, sê die hele Wellington wag op hul tuiskoms.

Engelbrecht rig al sedert 1981 kore af en beskou dié wenkeuse as ’n hoogtepunt.

Sing in Harmonie word reeds vir die vyfde jaar aangebied en sedert 2017 word die kompetisie met trots deur die FAK as kultuurvennoot ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.