RSG se Amoré binnekort op die kassie

Amoré Bekker (Foto: VeranderDinge)

Amoré Bekker, die gewilde aanbieder van die middagprogram Tjailatyd op RSG, skuif vir die jongste seisoen van VeranderDinge op kykNET in die aanbiederstoel in.

Dié reeks was die afgelope drie seisoene propvol onderhoude en wenke wat ten doel gehad het om kykers te inspireer om positief na “verandering” te kyk en is aangebied deur die befaamde joernalis Ruda Landman.

Bekker, wat al langer as 13 jaar Tjailatyd aanbied, sal vir die eerste keer in twee dekades as aanbieder op televisie te sien wees.

“Ek is baie opgewonde om met VeranderDinge voor die kameras in te skuif omdat ek sedert die eerste seisoen ’n groot aanhanger was. Alles waarvan kykers tot dusver gehou het, gaan steeds daar wees, maar ons het ’n paar veranderinge aangebring om dit vars te hou. Verandering is immers die tema van die program!” het Bekker gesê.

Landman sê sy het besluit om dié program te verlaat omdat sy “by ander projekte wou betrokke raak”. “Ek het my tyd op VeranderDinge, en my terugkeer na Sondagaandtelevisie, baie geniet. Die program het nog altyd ʼn vars benadering tot die leefstyltelevisiegenre gehad, en dit was ook ʼn groot voorreg om dieper in van ons gaste se groot veranderingsoomblikke te delf. Die tyd het nou aangebreek vir ander projekte,” vertel sy.

Die vierde seisoen van dié reeks begin op 8 Oktober om 18:00. Landman is Bekker se eerste gas. Eloise Cupido is ook in die program as veldaanbieder te sien.

“Dit was ʼn voorreg om met Ruda te gesels en ek dink dis baie gepas dat sy my help om die vierde seisoen af te skop. Ek het groot skoene om vol te staan! Ek sien baie uit daarna om saam met ons kykers al die kreatiewe gaste op die program te ontmoet, en om vas te stel hoe mense op ʼn outentieke manier met verandering in hul lewe omgaan. Verandering is tog onafwendbaar vir ons almal. Dit was ʼn voorreg om met Ruda te gesels en ek dink dis baie gepas dat sy my help om die vierde seisoen af te skop,” vertel Bekker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Beeldradio ·

Veels geluk Amoré. Nou gaan ons jou ook in lewende lywe sien en nie meer net as bek-ker.

Karooboer. ·

Ek voorspel dat Amoré se program ‘n groot sukses sal wees. Sy is immers altyd sprankelend en spitsvondig en ALTYD positief. En dis wat ons soo nodig het in hierdie droë en droewe land. Ons sien uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.