SA jeugkoor deur na finaal: ‘Drome word wel waar’

Die koorleier, Ralf Schmitt, saam met van die koorlede van die Ndlovu Youth Choir. (Foto: Facebook)

Die nou al bekende Suid-Afrikaanse koor, die Ndlovu Youth Choir, is deur na die finale ronde van America’s Got Talent.

Die koor het dié nuus enkele ure terug op sosiale media bevestig met die woorde: “Drome word wel waar!”

Een van die koorlede, Sandile, het kort voordat die koor sy heel eerste oudisie vir die talentsoekkompetisie afgelê het, gesê: “Ons wil vir die wêreld wys enigiets is moontlik.” En hulle het dit waarlik bewys!

Suid-Afrikaners se harte bars omtrent van trots oor hierdie nederige koor van ʼn klein en armoedige nedersetting in Limpopo. “Julle is op hierdie oomblik vir ons die lig wat uit die donker skyn. Julle is ʼn geskenk aan ons en ons is so trots op julle,” het een sosialemediagebruiker geskryf.

“So trots op julle! Julle bring vir ons vreugde in ʼn tyd wat die toekoms donker lyk,” skryf iemand anders. “Dankie dat julle die sonskyn terugbring na Suid-Afrika.”

Die Ndlovu Youth Choir van Limpopo. (Foto: Facebook)

Die koorleier, Ralf Schmitt, het vroeër in ʼn onderhoud met die Cape Talk-radiostasie gesê die koor “wag nog steeds om wakker te word uit hierdie droom” waarin hulle hulself bevind. “Ons het gedink dit sal baie moeiliker vir ons wees om deur te gaan [na die volgende rondes] omdat Suid-Afrikaners nie mag stem nie. Maar ons is baie dankbaar vir die Amerikaanse publiek se ondersteuning vir ons,” het hy gesê.

Nou lê die taaiste ronde van die hele kompetisie vir dié begeesterde koor voor. Hulle sal in die finaal meeding teen Tyler Butler-Figueroa, ʼn 11-jarige violis wat tans in remissie is nadat hy op vierjarige ouderdom met leukemie gediagnoseer is; Kodi Lee, ʼn 22-jarige blinde sanger van Kalifornië; die 14-jarige Benicio Bryant, ʼn sanger van Washington; en die Light Balance Kids, ʼn kinderdansgroep van die Oekraïne.

Die wenners van America’s Got Talent sal wegstap met $1 miljoen en ʼn kans om by Planet Hollywood Resort & Casino in Las Vegas op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

12 Kommentare

Thea Bothma ·

Ek dog Americans got Talent, hoe nou?? hoe werk die inskrywings dan
of is ons nou deel van die VSA
wonder as dit die Laerskool Sonskyn was of dit dieselfde aanklank ??? sou kry ????
vra maar net ??????

Gustav ·

Thea hul het amerika toe gegaan om te gaan deelneem. Daar is nie ‘n groter kompetisie in die wereld as dit nie. En laerskool sonskyn sou nie eers die oudisie geslaag het nie. Hul is briljant.

Liza ·

100% reg! Laat die son oor hierdie kinders skyn! Hulle is briljant!

Piet Pompies ·

Hulle verdien dit – en het daar gekom oor hulle blerrie goed is – so asb gun hulle hulle plekkie in die son

Alwyna ·

Soooo trots op ons koor. Wat n plesier om na hulle te kyk en luister. Absoluut briljant!!!
Hou styf duimvas!!!!

ANC ·

Trots op ons koor! Let our Rainbow nation shine! Julle is great! Well done vir die koorleier, soveel passie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.