Suid-Afrika se eerste oorspronklike telenovela-reeks, Legacy, begin vanaand op M-Net, kanaal 101.
Legacy is in Suid-Afrika verfilm, en oorspronklik vir M-Net vervaardig. Die program spog met bekende akteurs soos Dawid Minnaar, Michelle Botes, Sean-Marco Vorster, Trix Vivier, Deon Lotz, Reandi Grey en vele ander.
“Legacy is ʼn klassieke, eerste van sy soort Suid-Afrikaanse telenovela wat handel oor die vinnige lewe van beleggingsmiljardêrs. Dit is ʼn storie van ʼn familie gewikkel in ʼn oorlog met homself,” lui ʼn verklaring.
Legacy vertel die storie van die skatryk Price-familie. Die patriarg van die familie, Sebastian Price, wat deur Deon Lotz vertolk word, beweeg nader aan aftrede en een van sy familielede moet binnekort die leisels oorneem.
Sebastian se genadelose eksvrou en oudste dogter het hul oog op die toppos en hulle sal byna enigiets doen om seker te maak Sebastian se nuwe vrou se seun kry nie sy hande daarop nie.
Legacy beloof om intriges, leuens, geheime en verraad na die kleinkassie te bring, sowel as bekende gesigte in die Afrikaanse en Engelse vermaakbedryf.
Legacy begin vanaand (21 September) om 19:00 op M-Net en sal daagliks 30 minuut lange episodes bied van Maandag tot Donderdag.