SA se eie Tarzan laat nie sy Hollywood-drome ontspoor

DeWet du Toit, oftewel Tarzan, en sy tweelingbroer, Rudolph, tydens kykNET se bekendstelling van ‘Tarzan van George’. (Foto: kykNET)

Dis amper asof DeWet du Toit gebore is om Tarzan, die bekende spiertier-karakter van die oerwoud, te wees.

Du Toit (35), wat van vanaand (Sondag) af in die dokumentêre reeks Tarzan van George op kykNET ʼn intieme blik op sy hunkering na roem en sy reis na Hollywood gee, het immers op plase in Namibië en Botswana grootgeword.

Hy vertel aan Maroela Media hy en sy tweelingbroer, Rudolph, is in Rustenburg in Noordwes gebore voordat hulle later op ʼn volstruisplaas in Namibië gebly het.

“Ons is vroeg uit skool en het tuisonderrig by my ma gekry. Ons het so afgeleë gewoon dit was moeilik om gewoonweg skool te gaan,” verduidelik hy.

“Daarna het ons op die grens naby Gabarone in Botswana op ʼn wildsplaas gebly waar ons met toeriste van regoor die wêreld te doen gekry het. In die aande het ek en Rudolph vir hulle vuur gemaak en gebraai.

“Ons het van kleins af baie blootstelling gehad aan die natuur en kon met ons fietse in die natuurreservaat ry. Daar was nie leeus nie, net kameelperde en ander wilde diere, so dit was veilig,” vertel hy.

As iemand wat ook nog altyd in fiksheid en rolprente belangstel, was dit “amper natuurlik” om sy drie passies saam te smelt in slegs een figuur: dié van Tarzan.

As sesjariges op die plaas het hy en sy broer gereeld die Tarzan-strokiesprente in die koerant gelees. Dit was eers later dat sy passie vir dié oerwoudheld aangewakker is.

Suid-Afrika se eie Tarzan. (Foto: Verskaf)

“Sowat 12 jaar gelede het ek ʼn berig aanlyn gelees dat die vervaardigers in Hollywood ʼn onbekende akteur soek om Tarzan te wees. In my 20’s het ek al 24 Tarzan-boeke deur Edgar Rice Burroughs gelees, en dit was petrol op die vuur van my droom om Tarzan te word.”

Hy het sy hare laat groei, lendedoeke aangeskaf en elke dag op sy fisieke gesondheid gefokus totdat hy uiteindelik die karakter van Tarzan versinnebeeld het.

“Die Hollywood-vervaardigers verwag oudisie-opnames, so ek moes seker maak ek lyk soos die karakter. Ek kan nie elke keer ʼn pruik dra nie, toe laat groei ek my hare.”

Dié lokke moet egter versteek word onder ʼn keps wanneer hy sy voete uit sy huis in George, Wes-Kaap, wil sit vir inkopies of ʼn stappie in die straat.

DeWet du Toit koester al langer as ‘n dekade die droom om Tarzan te wees. (Foto: kykNET)

“Ek voel eintlik asof ek nou al permanent in karakter is. As ek winkel toe gaan trek ek ʼn hemp aan en steek my hare weg. Dit raak al moeilik as ek by enige plek in George ingaan – ek moet deesdae alles oor die foon bestel.

“As ons gaan stap hoor ek hoe die mense wat op fietse verby my zirts sê: ‘Haai, Tarzan!’,” lag hy.

Met die verskyning van kykNET se nuwe dokumentêr gaan die ganse land egter weet wie Tarzan van George is, al het sy YouTube-kanaal lankal sowat 207 000 intekenare en is sy video’s al ʼn verstommende 50 miljoen keer gekyk.

Neil Sandilands, die bekende Suid-Afrikaanse akteur wat ook ʼn draai in Hollywood gemaak het, verskyn in Du Toit en sy broer Rudolph se jongste Tarzan-projek getiteld Tarzan: The Curse of the Mummy, wat in Egipte afspeel.

Hy en Rudolph maak soms dié kortflieks in uiters uitdagende omstandighede, aangesien dit gereeld is wat die draaiboeke van hulle vereis. Dié twee broers konseptualiseer en skryf ook die flieks self.

DeWet du Toit koester al langer as ‘n dekade die droom om Tarzan te wees. (Foto: kykNET)

“Soms moet jy vir vier, vyf uur in die berge stap voordat jy die regte plek kry om te skiet, en ander kere moet jy eers die kamera neersit om ʼn paar muskiete dood te klap,” lag hulle saam.

Hy vertel hy het van die begin af besluit om ʼn dik vel te ontwikkel vir ander mense se menings. “Ek jaag die droom na vir myself. Ek doen dit nie vir ander mense nie. Dit is my passie, al is daar negatiewe mense wat probeer om jou drome te laat ontspoor.”

Du Toit bieg hy het juis om dié rede die kat eers mooi uit die boom gekyk toe Rian van Heerden, vervaardiger van die dokumentêr, hom genader het vir die reeks.

“Mense het gesê ek moet pasop, daar kan ʼn bespotting van my gemaak word. Ek moet versigtig wees. Tarzan het ʼn baie skoon beeld – hy kan nie vloek, rook of drink nie. So ek moet let op hoe ek uitgebeeld word.

“Toe hulle verduidelik dit gaan ʼn werklikheidsprogram wees, wat my reise na Hollywood volg, het ek gedink dit kan werk.”

Tog was die droom om die enigste Tarzan in Hollywood te wees, nog altyd buite sy bereik. Tot nou.

“Ek het langs die pad baie gedink ek moet my droom prysgee, want ek het gesukkel om oorsee te kom en my visums is afgekeur. Ek hoop wat mense onthou van die program is dat jy steeds kan bly droom.

“Ek kan nie nou te veel verklap nie, maar dit lyk of dinge uiteindelik gaan gebeur,” sê hy, en sy en Rudolph se eenderse oë vonkel.

“Ek wil hê mense moet weet jy kan altyd, altyd nog droom.”

Tarzan van George begin op Sondag 26 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die opwindende, nuwe dokumentêre reeks "Tarzan van George" begin binnekort op kykNET! ????Kykers kry kans om DeWet du Toit in aksie te sien soos hy sy groot droom koester: om die volgende Tarzan op die grootdoek te speel. ????LEES MEER ???? http://bit.ly/3WLSJ7l#TarzanVanGeorge

Posted by kykNET on Monday, January 30, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Katinka ·

Hy het darem maar ‘n lyf aan hom, wens hom net die beste Tarzan! ????❤️????

kragaap ·

Skerp ! Daar was en sal net een silwerdoek Tarzan wees – Johnny Weissmuller.

maakniesaaknie ·

Is dit nou regtig die beste program wat KYKNET kan lewer???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.