‘SA talent verdien wêreldverhoog,’ sê ‘White Lies’-aktrise

Brendon Daniels en Natalie Dormer in “White Lies”. (Foto: verskaf)

White Lies mag dalk ʼn Suid-Afrikaanse drama wees, maar as daar een ding is waarvan Natalie Dormer seker is, is dat Suid-Afrikaanse akteurs en tegnici ʼn wêreldverhoog behoort te geniet.

Die laaste episode van dié reeks word later vandeesweek op M-Net uitgesaai en handel oor ondersoekende joernalis Edie Hansen (vertolk deur Natalie Dormer) se terugkeer na Suid-Afrika en die raaisel rondom die moord op haar broer en sy vrou.

“Dit is ʼn wonderlike misdaaddrama, en almal is gek oor ʼn whodunnit,” vertel Natalie aan Maroela Media.

Natalie is veral bekend vir haar rolle in Game of Thrones, The Hunger Games-fliekreeks en The Tudors. Haar eerste rol was saam met Heath Ledger in Casanova.

In White Lies bring Edie sowat 15 jaar in Engeland deur waar sy haar joernalistieke vaardighede opskerp. Kort ná haar terugkeer na Suid-Afrika, word haar broer vermoor en word sy ingetrek by die onderwêreld van Bishopscourt, ʼn weelderige woonbuurt in Kaapstad.

Natalie speel teenoor onder meer Brendon Daniels (Forty Bell), Katlego Lebogang (Nonzi Weber) en Robert Hobbs (Macky Hofmeyr) in die reeks. Sy het ook as een van die uitvoerende vervaardigers gedien.

Sy glo die reeks sal nie net plaaslike harte roer nie, maar dat dit ook internasionale gehore se aandag sal trek.

“Suid-Afrika groei beslis wat dramareekse betref, en hierdie is ʼn baie sterk drama. Die land se talent voor en agter die kamera verdien ʼn internasionale verhoog.

“Daar is temas van identiteitspolitiek, korrupsie en familiedrama in White Lies, en dit is universeel.”

Wat vandag nog vir haar uitstaan, is hoe lekker sy saam met die Suid-Afrikaanse rolverdeling, veral Brendon, gewerk het. Op sy beurt het Brendon ook aan Maroela Media vertel Natalie is ʼn nederige aktrise wat ʼn liefde vir die teater met hom deel.

Natalie bieg dat sy baie besig was tydens die verfilming van die reeks verlede jaar, maar dat sy en haar gesin ʼn bietjie van Suid-Afrika kon verken.

“Ons het soveel moontlik van Kaapstad gesien en het vir ʼn kort familiewegbreek die Klein Karoo besoek.

“My dogtertjie, wat nou ʼn kleuter is, het dit ongelooflik baie geniet.”

  • Die laaste episode van White Lies word Donderdagaand om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Dis die probleem met Saffas – ons VERDIEN dit, ons MOET die geleentheid gegee word. Werk daarvoor en nie so entitled wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.