SAG-toekennings: ‘Oppenheimer’ wen groot, Barbra Streisand vereer

Barbra Streisand het vanjaar die SAG-lewensprestasietoekenning ontvang. (Foto: Matt Winkelmeyer/AFP)

Oppenheimer het Saterdag die top-eerbewyse, waaronder beste akteur vir Cillian Murphy, by die Screen Actors Guild (SAG)-toekennings ingepalm, terwyl Hollywood-sterre op die einde van hul vakbond se langste staking in sy geskiedenis geklink het.

Meer as 120 000 lede van Hollywood se waarnemende akteursvakbond vereer SAG-wenners vir fliek- en televisierolle, en dit word beskou as ʼn belangrike voorloper vir die Oscar-toekennings.

Dit was die eerste groot SAG-geleentheid sedert lede in Julie verlede jaar die strate van Hollywood ingevaar het om hul misnoeë met kwynende betaling en onvoldoende beskermingsmaatreëls teen kunsmatige intelligensie (KI) uit te spreek.

Ná ʼn staking van altesaam 118 dae, het Hollywood se akteurs uiteindelik besluit om halt te roep in November verlede jaar nadat ʼn ooreenkoms met groot ateljees gesluit is om die akteurs se belange te beskerm.

“Dankie vir die uitnodiging om ’n opregte rol te speel in die maak van hierdie ontsettend belangrike rolprent,” het akteur en rolprentmaker Kenneth Branagh op die SAG-toekennings se verhoog gesê.

Hy het namens die rolverdeling die fliek se beeldjie vir beste rolprent ontvang.

Branagh, wat die rol van Niels Bohr in Oppenheimer vertolk, het verder vertel hoe die rolverdeling verlede jaar uit hul Londense première gestap het toe die Hollywood-werkstilstand op die punt was om te begin.

Die ‘Oppenheimer’-rolverdeling. (Robyn Beck/AFP)

“Ons het die rooi tapyt verlaat en ons het nie die film daardie aand gesien nie. Ons het gelukkig in die rigting van solidariteit beweeg. So hierdie is ’n volle‑sirkel-oomblik vir ons, die kringloop is voltooi,” het hy onder luide toejuiging gesê.

Die SAG-toekennings was een van vele waarby Oppenheimer vanjaar skoonskip gemaak het. Die fliek het reeds toppryse gewen by die Golden Globes, Critics Choice-toekennings en Brittanje se Baftas.

AFP berig dat baie van dieselfde akteurs wat vir die SAG-toekennings stem, ook die grootste stemblok vir die Oscar-toekennings vorm, wat vanjaar op 10 Maart gehou word.

Daarom word nie te veel onverwagse “verrassings” verwag wanneer dit by Oppenheimer se voorspelde Oscars-sukses kom nie.

Lily Gladstone, wat die rol van die inheems Amerikaanse vrou Mollie Burkhart in Martin Scorsese se Oscar-gunsteling Killers of the Flower Moon vertolkhet die beeldjie vir beste aktrise in ʼn rolprent gewen.

Lily Gladstone. (Robyn Beck/AFP)

Die aktrise het haar aanvaardingstoespraak in haar moedertaal, die taal van die Blackfeet, begin en geëindig.

Gladstone se SAG-oorwinning is volgens kenners ʼn aanduiding daarvan dat die Oscar-stryd vir beste aktrise tussen haar en Emma Stone nou wawyd oop is.

Die Australiese aktrise Elizabeth Debicki het ook haar soveelste beeldjie vir haar rol as prinses Diana in die laaste aflewering van die Netflix-treffer The Crown ingepalm.

The laaste aflewering van die dramareeks Succession en die komedie The Bear het onderskeidelik skoonskip in die televisiekategorieë gemaak.

Bekende rolverdelings hou reünie, Barbara Streisand vereer

Die SAG-toekennings, wat vanjaar ook vir die eerste keer regstreeks en wêreldwyd op Netflix te sien was – ʼn eerste vir Amerikaanse toekenningsgeleenthede – het ook vir ʼn paar verrassings gesorg.

Rolverdelings uit bekende flieks en televisiereekse, onder meer Breaking Bad, The Lord of the Rings en Modern Family, het saam op die verhoog herenig het om toekennings te oorhandig.

Anne Hathaway en Emily Blunt het ook saam met hul The Devil Wears Prada-medeakteur Meryl Streep gekgeskeer en bitsige woorde van Streep se bekende karakter, Miranda Priestly, teen haar op die verhoog gebruik.

Blunt is vanjaar benoem vir uitnemende vertolking deur ’n vroulike akteur in ’n ondersteunende rol, terwyl Streep saam met haar medeakteurs van Only Murders in the Building benoem is vir uitnemende vertoning deur ’n ensemble in ’n komediereeks.

Die sanger, aktrise en rolprentmaker Barbra Streisand het vanjaar die SAG-lewensprestasietoekenning met ʼn emosionele toespraak aanvaar waarin sy vertel het oor die ontsnappingsrol wat rolprente vir haar lewe gespeel het.

Jennifer Aniston en Bradley Cooper – wat in die 2018‑herlewing van Streisand se 1976‑fliek A Star Is Born gespeel het – het die 81-jarige se toekenning aan haar oorhandig.

“Daardie rolprentwêreld was baie aangenamer as enigiets wat ek al ervaar het. Ek het nie van die werklikheid gehou nie,” het Streisand, wat deesdae selde in die openbaar verskyn, gesê.

“Ek wou in die flieks wees, al het ek geweet ek lyk nie soos enige van die ander vroue op die skerm nie. My ma het gesê: ‘Jy beter leer tik’, maar ek het nie geluister nie. Op een of ander manier – en danksy God – het alles waar geword.”

Modes laat koppe draai (én oë rek)

Terwyl aktrises soos America Ferrera, Jennifer Aniston, Emma Stone Anne Hathaway en Selena Gomez in stylvolle, noupassende skeppings gepronk het, het ander bekendes meer waaghalsige nommertjies vir die SAG-toekennings gekies.

Margot Robbie het weer getrou aan haar Barbie-rolprentkarakter gebly en ʼn uitrusting in ʼn pienk skakering vir ʼn rooi tapyt-geleentheid gekies. Haar Schiaparelli-skepping het ʼn dramatiese, draperende pienk sleep ingesluit.

Die komediant Ali Wong het ʼn rok van Iris van Herpen gedra wat ’n sierlike patroon en kandelaar-agtige toga ingesluit het.

Brie Larson van Captain Marvel-faam het met haar gespierde maag in ’n sagte pienk Versace-tweestuk gespog.

Bronne: AFP, People, CNN News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.