Sallas de Jager, ’n moderne storieverteller

Sallas de Jager (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

Alhoewel Sallas de Jager as musikant die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf betree het, is dit stories wat hom nog altyd na aan die hart lê.

De Jager het van kleins af sy ontvlugting in stories gevind. Saam met sy gesin het hy die oop velde van Bronkhorstspruit plat gespeel en met elke nuwe speletjie ’n nuwe storie ontdek.

“My familie was definitief die soort mense wat om die tafel gesit en stories vertel het. Ek het as kind daar gestaan en tande tel terwyl ek luister. Dit het ’n groot indruk op my gemaak.”

Sy ouers se liefde vir lees en kuns vorm deel van sy grondslag as kunstenaar.

De Jager, wat aanvanklik regte gaan studeer het, het egter altyd ’n sterk aanvoeling vir die kunste gehad en dit was musiek wat eerste aanloklik vir De Jager gewink het toe hy deel van die groep Klopjag geword het.

Hy onthou hoe hy en John-Henry Opperman, of Jonnas, soos De Jager hom noem, musikant en voorsanger vir Klopjag, mekaar destyds ontmoet het. Dit was tydens ʼn Olienhout-huisvergadering op Tukkies, waar hy regte en Opperman IT studeer het. Opperman was bevriend met Marie-Louise Diedericks, tjellospeler van die groep.

Sallas de Jager saam met sy dogters, Marli en Lisa, tydens die première van ‘Dominee Tienie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Twintig jaar gelede kon jy nie vinnig musiek vir jou afgelaai het van die internet af nie, jy moes uitgaan om dit te kon beleef. Jy moes moeite doen om nuwe goed te sien. Hier van 1999 tot en met 2005 was Pretoria soos die hoofstad van Suid-Afrikaanse musiek.”

Hy onthou met nostalgie hoeveel dapperheid dit geverg het om die verhoog aan te durf.

Alhoewel hy nou meer bewus is van die druk wat met die vermaakbedryf gepaard gaan, is hy gemakliker met die kritiek wat dikwels daarmee saam loop.

“As jongmens kan dit jou moed werklik breek as een mens nie van jou werk hou nie. Ek weet nou hoe om dit te hanteer.”

Klopjag, wat al langer as 20 jaar bestaan, het De Jager opnuut bewus gemaak van die belangrikheid van familie.

“Jou familie is jou grondslag, en dis só belangrik om dit te onthou.”

Oor ‘Pulse’

Die opwindende nuwe Showmax-gruwelreeks Pulse het op 23 Junie die kassie getref en Suid-Afrika se eie Sallas de Jager het in die regisseurstoel van dié baanbrekerreeks ingeskuif.

Die reeks, wat ’n eerste van sy soort vir die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf is, is as gevolg van begrotingsredes in Mauritius verfilm en het talle internasionale bemanningslede ingesluit. Dit handel oor ’n groep videospeletjie-vervaardigers wat uit ʼn gruwelgebou moet ontsnap nadat daar ’n trilling deur die gebou gestuur is.

De Jager, wat bekend is vir sy werk in die drama‑genre met rolprente soos  Roepman en Dominee Tienie, werk al sedert 2016 aan dié passieprojek.

Pulse is as rolprentteks geskryf, en was een van die drie tekste wat in sy skoot geland het. Hy raak opgewonde wanneer hy verduidelik dat hulle meer as 300 bladsye se storie uit die oorspronklike teks van 90 bladsye moes ontgin.

“Ons moes elke moontlike hoek gebruik en elke moontlike storie vertel.”

Soos die teks ontwikkel het, het dit duidelik geword dat spesiale effekte en interessante kamera-hoeke vir die reeks gebruik sal moet word. Dié uitdaging het De Jager se oë egter laat glinster.

“Dit was báie opwindend gewees, veral omdat ek geweet het dat ons die begroting sou hê om dit te kan doen.”

Nie net wou De Jager nuwe verfilmingsmetodes vir die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gebruik nie, hy wou ook ’n mensestorie vertel.

Dié gruwelreeks is nie bloot geskep om ’n rilling by kykers se ruggraat af te stuur nie, dis sorgvuldig aanmekaar gesit met ʼn boodskap wat soos ’n goue draadjie deur elke stukkie karakterontwikkeling en nuwe, opwindende episode geweef is.

De Jager het met ’n vraagstuk oor moderne ontvlugtingsmetodes geworstel om by die kernboodskap van Pulse uit te kom.

“Waarom het die wêreld sulke gewelddadige ontvlugtinge? Die speel van gruwel-videospeletjies het net toegeneem met die Covid-19‑pandemie.”

Die kern van só ’n oorlewingspeletjie is dat die speler so moorddadig en avontuurlustig moontlik kan wees. Wanneer die dood tref, is dit tog maar net ’n speletjie. Daar is ’n stuk werklikheid wat ontbreek.

(Foto: verskaf)

“Jy kan soveel mense doodskiet, bomme laat ontplof of rondbeweeg soos wat jy wil – dit maak nie saak nie. As jy doodgaan, begin jy net weer van voor. Daar lê ’n baie kragtige boodskap daarin.”

Hy verduidelik dat mense se gewilligheid om weerloos te wees en kanse te waag in die regte lewe ontbreek. Mense sukkel om risiko’s te neem en nuwe dinge te probeer en wend hulle bloot tot oorlewingspeletjies.

De Jager glo dat interpersoonlike verhoudings en kommunikasie ontbreek in die kuberwêreld.

“Om Pulse te verstaan, moet jy die wêreld waarin ons leef verstaan. Hoekom vertel ons juis hierdie storie?”

Agter die spesiale effekte en “sirkustruuks”, soos wat De Jager daarna verwys, lê daar hierdie kernboodskap wat te make het met die werklikheid wat ons vandag in die gesig staar.

“Daar is niks anders in die wêreld wat op hierdie stadium die vraag vra wat ons doen nie. Jy het hierdie vasgevange gehoor van mense wat gruwelspeletjies speel, maar niemand vra hoekom nie.”

Een van De Jager se groot doelwitte is om die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf se horisonne te verbreed.

“Dit was vir my van die begin af belangrik om nie ’n groot vis in ’n klein dammetjie te bly nie,” het De Jager aan Maroela Media verduidelik.

Dit was vir hom heerlik om nuwe metodes te gebruik om die reeks aanmekaar te sit.

“Die uitdaging was om die spesiale effekte so goed te doen dat die jonger generasies dit nie kyk met die idee dat hulle dit self beter op hul fone sou kon doen nie.”

Die reeks spog met ’n rolverdeling wat onder meer uit Tarryn Wyngaard, Laré Birk, Carel Nel en Albert Pretorius bestaan en is nou op Showmax beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.