Samesyn, herinneringe seëvier in nuwe kos- en reisprogram op TV

Argieffoto (Foto: My Luu/Pixabay)

In Terugkeer, VIA se nuwe kos- en reisprogram, neem bekendes soos Rolanda Marais, Martelize Brink en Jack Parow kykers terug na hul tuisdorpe en eet saam met familie en vriende by ’n plaaslike restaurant.

Dié program is deur Hevette Ates, ʼn reklamekoördineerder by NB-Uitgewers, en haar man Mustafa, ʼn rolprentmaker, vervaardig. Hulle het met Maroela Media oor die program gesels en meer gedeel oor die beplanning, waarom ʼn restaurant as uniek beskou word en hoe dit is om saam te werk.

Hevette, ʼn boorling van Prins Albert, ʼn klein dorpie aan die voet van die Swartberg, vertel dat plaaslike restaurante se unieke spyskaarte en eienaars se stories hulle belangstelling geprikkel het en gelei het tot die vervaardiging van Terugkeer.

Deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur is die samesyn rondom kos. Spesifieke geregte en resepte is verweef in die konsep van huis en om huis toe te gaan,” sê Hevette.

“Mustafa, ʼn uitlander, se gewaarwordinge het my weer met nuwe oë na die karakter van klein dorpe laat kyk,” vertel Hevette.

“Ons het met ʼn paar idees gewerk en toe die loodsepisode by Simply Saffron in Prins Albert verfilm. Die voorstel om bekendes te betrek het later eers bygekom,” sê sy.

Bekende persone is op grond van hul tuisdorp geïdentifiseer en daarna het die Ates-egpaar probeer vasstel of die persone steeds ʼn verbintenis met die betrokke dorp het. Die voorstelle is aan VIA voorgelê en daarna is ‘n finale lys saamgestel.

Marais het in haar tuisdorp, Wellington, gaan kuier, Brink het die span op reis na die Paarl geneem en Parow het die pad Arniston toe gevat.

“Ons wou diverse profiele insluit deur mense van verskillende agtergronde en loopbane te betrek,” sê Hevette. Die uitgangspunt was nie om bloot inligting oor die dorpe te deel nie, maar om dit uit ʼn bekende gas se perspektief en sy en haar persoonlike ervaring aan te bied.

Die produksiespan van ‘Terugkeer’ tydens die verfilming van die laaste episode van die reeks (Foto: Verskaf)

Ander bekendes in die program sluit in Shimmy Isaacs wat kykers op reis na Worcester neem, De Wet Barry kuier in Op-die-Berg en Maurice Paige in Heidelberg.

Restaurante is ook noukeurig uitgekies. Mustafa sê die besluit lê dieper as die soort geregte wat bedien word of hoe gewild die restaurant is. Eienaars se verhale, hul verbintenis met die dorp en wat dit geverg het om die restaurant op die been te bring, het ʼn groot rol in die besluitnemingsproses gespeel.

“Ons het ook gekyk na die oorsprong van hul liefde vir kosmaak, die inspirasie vir geregte op die spyskaart en die kuns van kosmaak,” sê hy. “Dit is belangrik dat die restaurant ʼn persoonlikheid het.”

Aan die einde van elke episode berei ʼn plaaslike restaurant se eienaar of sjef van die bekende persoon se keuse ʼn feesmaal vir spesiale gaste voor. Bekendes het self besluit wie om na hul ete te nooi en kykers kan uitsien daarna om die geselligheid van die etes te ervaar.

Restaurante wat gekies is sluit in Perfect Place in Wellington, Oppi Berg Spyseniers en Wonderlik in Op-die-Berg, The Barn in Worcester, Noop in die Paarl, Arniston Spa Hotel in Arniston en Delish in Heidelberg.

Mustafa sê dat elke sjef self die spyskaarte saamgestel het. “Hulle het meestal tradisionele geregte ingesluit of geregte wat eie is aan die omgewing en seisoen. Die sjefs het grootliks van plaaslike verskaffers se produkte gebruik.”

Mustafa en Hevette Ates (Foto: Verskaf)

Mustafa het meer as 13 jaar se ervaring as rolprentmaker in Suid-Amerika en Europa. Hy en Hevette het die afgelope paar jaar ʼn verskeidenheid promosievideo’s en advertensies vir sosialemediaplatforms vervaardig. Terugkeer is dié egpaar se eerste televisiereeks.

“As ʼn mens getroud is én saam werk, moet jy daarteen waak om nie nét oor werk te praat nie,” sê Mustafa. “Maar aan die ander kant is dit wonderlik om saam met iemand te werk wat jy volkome vertrou en wat jou blinde kolle vir jou uitwys.”

Die Ates-egpaar beplan om nog vele plaaslike en internasionale projekte saam aan te pak.

Terugkeer is in samewerking met die produksiemaatskappy  Media24 POP vervaardig. Christiaan Kritzinger is die regisseur, Mustafa was die kameraman en Hevette die medevervaardiger. Die program word op Maandae om 19:30 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai. Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.