Sandi Schultz terug op kassie, sónder stetoskoop

Sandi Schultz as Zelda Joubert in “Diepe Waters”. (Foto: verskaf)

Sandi Schultz het jare gelede Afrikaanse kykerharte verower met haar vertolking van die ernstige, saggeaarde dr. Jennifer Adams in Binnelanders. Sy is eersdaags terug op die kassie, en die feeksskoene wat sy aantrek, kan kykers dalk net verras.

Dis nou al 10 jaar vandat sy die bekende sepie verlaat het, hoewel daar nog steeds ’n reuseliefde in haar hart vir die karakter is wat sy so lank vertolk het.

Sy erken maklik dat sy die karakter nooit kon afskud nie, en ook nie regtig wil nie.

“Dis nou al so lank en ek word nog steeds in die straat as Jennifer herken!”

Die feeksskoene van Zelda Joubert, Schultz se karakter in Diepe Waters, voel nog vreemd aan Schultz se voete, aangesien sy nog nooit vantevore só ’n karakter moes vertolk nie.

“Sy verskil handomkeer van Jennifer Adams. Jennifer sou nooit eers daaraan dink om die goed te doen wat Zelda doen nie,” het Schultz vertel.

“Ek was aanvanklik nogal bang – jy moet die karakter reg verstaan en vertolk. Die eerste paar dae was nogal angswekkend; mens is nie seker of jy die regte aanslag het nie. Ongeag jou voorbereiding, sekerheid kom eers nadat jy ’n paar tonele geskiet het.”

Jare gelede, kort voordat sy aan Binnelanders se deur geklop het, het Schultz ná 12 jaar in Amerika besluit om na haar tuisland terug te keer. Met ’n tikkie Amerikaans in haar aksent, ongeag of sy Engels of Afrikaans gepraat het, het sy haar pad na Binneland Kliniek gevind.

“Dit was baie interessant om na Afrikaans te moes oorslaan. Ek het nie net meer as tien jaar in Amerika gewerk nie, maar ook Engels grootgeword.”

Sy het haar egter goed van haar taak gekwyt, met min kykers wat agtergekom het dat haar Afrikaanse handskoen nog nie knus gesit het nie.

In die jare nadat haar pad by Binnelanders tot ’n einde gekom het, het sy as vryskutaktrise gewerk, meer dikwels in Engelse as Afrikaanse produksies. Alhoewel Afrikaans haar na aan die hart lê, is Engels tog die taal waarin sy die gemaklikste voel.

Nietemin het die uitdaging van ’n splinternuwe Afrikaanse karakter net om die draai vir haar gewag.

“Dit het ’n oomblik geneem om weer die taal se ritme te verstaan!”

Schultz deel onder meer die skerm met Neels van Jaarsveld, Nadia Valvekens en Justin Strydom in Diepe Waters. Getroue sepiekykers met ’n goeie geheue sal onthou dat dié vier akteurs reeds voorheen saam op die kassie in Binnelanders te siene was. Die vooruitsig van dié skermreünie, besorg vir Schultz groot vreugde.

“Ons kan nie wag om meer tonele saam te skiet nie!”

Schultz verbly haar in die feit dat die Afrikaanse vermaakbedryf ’n plek van gemak vir die bruin gemeenskap geword het.

“Dis hoogtyd. Daar is ’n baie groot mark daar buite wat hulle wil laat hoor en sien op die televisie. Dit is ongelooflik dat dit nou moontlik is.”

Sy benadruk ook dat mense verby stigma van verskillende aksente moet beweeg.

Sandi Schultz. (Foto: Sandi Schultz/Instagram)

“Daar word geglo dat jou aksent jou intelligensie of klas verteenwoordig, wat nie die waarheid is nie. Jy moet klink soos wat jy klink sonder verskonings.”

Sy vertel dat die klem op aksente soos ’n goue draad deur die storielyn van haar en haar karakter se dogter in Diepe Waters vloei.

“Hulle klink heeltemal verskillend van mekaar; mense sal mettertyd agterkom waarom die aksente so verskil.”

Schultz moes nes baie ander kunstenaars tydens die Covid-19-pandemie emosionele opdraandes trotseer en haar weg deur ’n finansiële storm baan.

Sy het egter sterker anderkant uitgekom en vind berusting daarin dat die vermaakwêreld weer stadig maar seker op sy voete kom, haar werk en loopbaan inkluis.

’n Dekade het verloop sedert Schultz haar so gereeld in Suid-Afrikaners se sitkamers kom tuismaak het. Destyds het sy nie met die wreedaardigheid wat so dikwels op sosiale media teenoor sepiesterre kop uitsteek, te doen gekry nie.

Vandag is sosiale media die medium vir ’n vragvol negatiewe kommentaar en inhoud.

Sy voel egter sterk daaroor dat sy nie gaan toelaat dat neerhalende kommentaar haar onderkry nie.

“Dit gaan interessant wees om te sien wat mense dink; mense onthou Jennifer Adams – nou is ek 10 jaar ouer, my hare is anders, ek is ’n vrou van amper 60,” vertel sy.

“Ek weet nie eers of Instagram al bestaan het toe ek by Binnelanders weg is nie. Ek dink egter nie die negatiwiteit is iets wat my bang maak nie.”

  • Diepe Waters, kykNET (DStv-kanaal 144), skop op 3 Oktober af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Welkom terug op die kassie Sandi. Het jou gesig gemis op die klank-beeld-boks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.