SA’ner blink uit op ‘Britain’s Got Talent’

Belinda Davids.

Belinda Davids, ʼn huldeblyksangeres gebore en getoë in Port Elizabeth in die Oos-Kaap, het die halfeindronde van die gewilde talentsoekkompetisie Britain’s Got Talent gehaal.

Davids (43) is ʼn professionele vermaakster en toer die wêreld plat as Whitney Houston-huldeblyksanger in die produksie The Greatest Love of All.

Volgens Showtime Australia, ʼn groep internasionale maatskappye wat spesialiseer in die vervaardiging en bemarking van wêreldklas huldeblykvertonings, het Davids stof in die oë van sowat 15 000 mededingers geskop om dié rol los te slaan.

“Ek voel asof ek die wêreld aan my voete het,” het Davids Maandag op Twitter oor die Britain’s Got Talent halfeindstryd gesê.

“Ek is so dankbaar vir waar ek is en is opgewonde oor waarheen ek op pad is.”

Britain’s Got Talent het op sy beurt op Twitter geskryf: “Wow! Belinda Davids het haar oomblik om uit te blink aangegryp en het ons weggeblaas met haar uitstekende sang.”

As ʼn huldeblyksanger het Davids al in van die gesogste teaters ter wêreld opgetree, onder meer die Londense Hammersmith Apollo, die Apollo-teater in New York en die Artscape-teater in Kaapstad.

‘n Skermgreep uit Belinda Davids se oudisie.

In Mei vanjaar het Davids die oudisies vir die program afgesluit met haar weergawe van Houston se “One Moment in Time” en het ʼn staande toejuiging van die beoordelaars ontvang. Dit het haar een van 40 plekke in die regstreekse halfeindronde besorg, wat voor ʼn virtuele gehoor opgeneem sal word.

Vanjaar se beoordelaars is Simon Cowell, die Britse aktrise en aanbieder Amanda Holden, die Little Britain-ster David Walliams, en die sangeres en danser Alesha Dixon.

Die wenner van Britain’s Got Talent sal met ʼn kontantprys van £250,000 (sowat R5,5 miljoen) wegstap en die geleentheid kry om in die Royal Variety Performance op te tree.

Davids woon in Kaapstad saam met haar twee seuns.

Kyk hier na die oudisie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pandora ·

Dit is sekerlik wel gedaan, maar sou ‘n “Got Talent” aangeleentheid nie eerder aangewend kon word vir ‘n persoon wat nog nie ‘n professionele toekoms as kunstenaar het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.