SA’ners kan hier ‘Friends’-reünie kyk

Die bekende rolverdeling van ‘Friends’. Voor van links na regs is Courteney Cox, Jennifer Aniston en Lisa Kudrow. Agter is Matthew Perry, Matt LeBlanc en David Schwimmer. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaanse aanhangers van die komediereeks Friends wat graag na die lankverwagte reünieprogram wil kyk, sal danksy Showmax glad nie die pret hoef mis te loop nie.

MultiChoice het Dinsdag aangekondig dat Friends: The Reunion eksklusief op M-Net te sien sal wees op Sondag 30 Mei om 20:00 en vanaf Maandag 31 Mei op Showmax beskikbaar sal wees.

In The One Where They Get Back Together keer Friends-sterre Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc, Matthew Perry en David Schwimmer terug na die ikoniese reeks se oorspronklike klankverhoog, Stage 24, by die Warner Bros-ateljee in Burbank, Kalifornië.

HBO Max het onlangs in ʼn verklaring die lankvertraagde en veelbesproke reünie beskryf as ʼn “ongeskrewe viering” van die Amerikaanse treffer-televisiereeks. Die reeks het vanaf 22 September 1994 tot 6 Mei 2004 oor tien seisoene gestrek.

Gaste soos die sokkerlegende David Beckham, popsterre Justin Bieber en Lady Gaga, die Koreaanse popgroep BTS en die mode-ikone Cindy Crawford en Cara Delevigne is ook te sien.

Tom Selleck, wat in 10 episodes die rol van Monica (Cox) se kêrel vertolk het, asook Reese Witherspoon, wat die rol van Rachel (Aniston) se suster vertolk het, maak ook ʼn verskyning.

Kevin Bright, Marta Kauffman en David Crane, uitvoerende vervaardigers van Friends, het ook ʼn draai gemaak vir dié spesiale uitsending.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.