‘Sara se geheim’ se Lizzie: ‘Die wiele kom nou effe af’

Quanita Adams is Lizzie in 'Sara se Geheim'. (Foto: Verskaf)

Quanita Adams is Lizzie in ‘Sara se Geheim’. (Foto: Verskaf)

Kykers het aan die einde van die tweede seisoen van die gewilde kykNET-dramareeks Sara se geheim na asem gesnak toe Maggie (Lee-Ann van Rooi) per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie, ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ʼn jare lange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Nou word nóg drama en geheime onthul in die derde seisoen van die gewilde en boeiende dramareeks wat Donderdag 16 Januarie op kykNET begin.

Quanita Adams vertolk sedert die aanvang van die reeks die rol van Lizzie. Sy beskryf haar karakter as ʼn liefdevolle persoon wat eie is aan haar soort en ʼn ligtheid na die reeks bring.

“Tussen al die storielyne, wat baie dramaties en soms selfs gewelddadig kan wees, gee sy die kyker ruimte om asem te haal en bring sy soms komiese verligting na die reeks. Dit is so ʼn geskenk vir ʼn akteur, wat dan die kans gegun word om balans aan die verhaal te verleen,” sê Adams in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Tog het Lizzie ook ʼn ernstige kant en dinge raak haar op ʼn diep wyse. Sy is nie net die komediant nie. Sy het ʼn komplekse lewe en die gehoor gaan saam met haar op reis om geluk te vind.”

Sy verklap dat Lizzie nie noodwendig in die derde seisoen haar gelukkige einde kry nie en dat die lewe snaakse draaie met haar neem.

“Lizzie is uiteindelik getroud met pastoor Benjamin (Keeno-Lee Hector), oftewel Father soos hulle hom noem. Sy dink sy kry haar pot goud, maar namate sy al hoe meer betrokke raak by Father se professionele lewe, besef sy dat sekere dinge rakende sy werk haar ongemaklik maak.”

Dié pasgetroudes gaan ook op ʼn wittebrood, en Adams lag wanneer sy vertel dat dit nie noodwendig die vakansie is wat Lizzie in gedagte gehad het nie.

“Kom ons sê net dit is nié die Seychelle nie! Die wiele kom gaandeweg effe af vir Lizzie en Father, en hoewel hy sy bes doen om Lizzie tevrede te stel, werk dinge nie noodwendig só uit nie.”

Quanita Adams is Lizzie in 'Sara se Geheim'. (Foto: Verskaf)

Quanita Adams is Lizzie in ‘Sara se Geheim’. (Foto: Verskaf)

Adams gee toe dat die uitdagings om Lizzie te vertolk ná drie seisoene al hoe minder raak, hoewel sy steeds daarmee sukkel om nie vir Lizzie en haar keuses te oordeel nie.

“Lizzie is naïef en fundamenteel anders as ek. Sy hanteer dinge heel anders. Baiekeer gebeur iets met Lizzie of sy reageer op iets, en dan sal ek dink: ‘Nee, man, Lizzie, moet nou nie só wees nie!’ So, die uiteindelike uitdaging vir my is om net getrou te bly aan Lizzie.”

Adams skryf die sukses van die reeks toe aan die diversiteit – voor die kameras en agter die skerms.

“Daar is die fancy mense, die middelklas, die wit, bruin en gemengde gesinne. Daar is iets vir almal. Die reeks dwing mense om gesprekke te hê binne-in hulle huisgesinne en daag die idee van wat kleur is uit,” verduidelik Adams.

“Dit kom daarop neer dat jy soms jou familie kies en dat hulle jou terugkies. Jy word gebore in sekere omstandighede, maar alles is nie noodwendig soos wat dit van buite af lyk nie. Die reeks is opwindend in die sin dat die gehoor hulself kan identifiseer met die mense op die skerm, ongeag kleur, want die taal is vir ons almal dieselfde, al is dit verskillende aksente. Die taal behoort nie net aan ʼn sekere groep nie.

“Die diversiteit van die reeks het reeds begin in die skrywerskamer, en dit spoel oor na die skerm toe.”

Ander bekende gesigte maak ook ʼn draai in die derde seisoen van Sara se geheim. Onder hulle is Ivan Zimmerman, Roeline Daneel, Stian Bam en Monique Rockman.

Adams is te sien in die kykNET-telenovella, Arendsvlei, en gaan ook binnekort in Diaan Lawrenson en Jody Abrahams se splinternuwe blitsreeks, Op en af, op Netwerk24 te sien wees.

“Ek en Charlton Lee George vertolk ʼn getroude paartjie. Elke episode is net vyf minute lank en dit is skreeusnaaks. Mense kan gerus uitkyk daarvoor.”

Sy sal ook later vanjaar in die fliek, Barakat, te sien wees.

Sara se geheim is Donderdag 16 Januarie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Thea Bothma ·

kan een gesin, so baie geheime he
was goed maar los die gesin uit. dit raak net te veel
al die reeks wat nie klaar kom nie
en dieselfd ou akteurs .lyk alles moet nou in die Kaap afspeel
daar is ander plekke ook

Joel ·

@Thea, want daar word meer moord gepleeg daar as erens anders. Die Kaap is soos LA, Johannesburg is soos New York. Minder mense gaan n storie wil kyk wat afspeel in Delmas as in Kaapstad. Die hele prentjie is maar net mooier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.