Sepiegids: ‘Diepe waters’ debuteer op kykNET

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Altus Theart in ‘Diepe waters’. (Foto: Skermgreep)

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 3 Oktober

Die Swarts-familie word onkant gevang deur Gys se verrassing op sy 66ste verjaardag. Meghan het groot planne vir haar toekoms. Zelda kry die skok van haar lewe.

Dinsdag 4 Oktober

Henry leer grootoog hoeveel werk die taak as opsigter by die Swart Marlyne vereis. Sal hy die mas kan opkom? Zelda en Bybie moet via Sanet hoor waar Meghan is en watter groot stap sy geneem het.

Woensdag 5 Oktober

Die interskole swemgala is aan die gang. Nina en Karla ontmoet en kom dadelik oor die weg. Sanet dink Karla gee nie haar beste nie. Bybie kom kuier vir Meghan by haar nuwe huis.

Donderdag 6 Oktober

Zelda is in ’n slegte bui omdat Meghan haar in die rug gesteek het. Johan en Tshepo het nie ooghare vir mekaar nie en Meghan stres oor vanaand se familie-ete.

Binnelanders

Weekdae om 19:30 op kykNET

Maandag 3 Oktober

Niel verloor kop, en Rita het voorwaardes om te help, terwyl Jacques niks met die hele besigheid te doen wil hê nie. ʼn Partytjie kry die nodige aandag. Karen konfronteer vir Dawid.

Dinsdag 4 Oktober

Tracy en Conrad baklei weer. Jeremy oortuig Annelize van ʼn plan. ʼn Oproep van Tracy se foon kom nie van Tracy nie. Liam probeer fokus op sy werk, maar Annelize en Karen maak dit nie maklik nie.

Woensdag 5 Oktober

Conrad probeer Rita sekerheid gee oor Jonas, en dit wil voorkom of ten minste een pa en seun hul verhouding kan begin herstel. Lukas se verrassing word nie heeltemal goed ontvang nie.

Donderdag 6 Oktober

Jeremy het raad vir Liam. Dinge tussen Conrad en Tracy is stram en dan is daar groot moeilikheid by die Koster-woning. Rita draai nie doekies om nie en Zee is geskok oor wat sy hoor.

Vrydag 7 Oktober

ʼn Ontmoeting met Lukas gee vir Conrad ʼn idee en Liam het nuus vir Annelize. Daar is ʼn paar ape wat uit moue gelaat word, maar wie is eerlik oor hul motiewe? ʼn Soen laat iemand hap na lug.

Suidooster

Weekdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 3 Oktober

Zoe is vasbeslote om uit te vind of iemand by JPD hulle verraai. Mrs. J trek uit haar huis terwyl Rhafiek en Kaashifa ’n ander manier probeer kry om haar siekte te hanteer.

Dinsdag 4 Oktober

Wade se dag word omvergegooi deur ’n onverwagte besoeker, terwyl Siya sy voet in sy mond sit. Daar is groot dinge aan die broei by JPD, en Kaashifa het nuus.

Woensdag 5 Oktober

Daar is gemengde reaksie op Gerda se voorstel. Justin voel skuldig ná ’n toevallige ontmoeting en Kaashifa ontmoet die Juice Bar se nuwe eienaar.

Donderdag 6 Oktober

Elana weier om haar pa te kontak, terwyl Nazeem besorg is oor Tim se taktiek. Rhafiek is vies dat almal ’n bohaai maak oor Ruiterbosch se nuutste sakeman.

Vrydag 7 Oktober

Elana is ontsteld oor haar pa se toestand, terwyl Bridgette voor ’n groot besluit te staan kom. Rhafiek besef hoekom hy jaloers is, en Carlo het ’n dringende versoek.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 3 Oktober

Die baba beweeg van hand tot hand. Thys probeer opmaak met Bianca en Rikus beweeg nader aan sy doel. Yvette moedig vir Ruby aan om vrede te maak met Hein en Nicolene.

Dinsdag 4 Oktober

Gertie ontdek Hein slaap al dae lank op haar werkswinkel se vloer. Lionel moedig vir Janice aan om daaraan te dink dat hulle tydelik vir Harley op pas.

Woensdag 5 Oktober

Lionel is angstig oor Harley en kry dan groot nuus. Lennie word bewus van die woede binne Rikus. Hein en Daniel hou ’n seremonie om afskeid te neem van Anton.

Donderdag 6 Oktober

Beatrice trap vir Thys uit oor sy nagtelike aktiwiteite met Bianca, maar Thys maak dan ’n ander plan. Lennie probeer met Rikus praat oor sy pa maar dit lei tot intense nagevolge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.