Sepiegids: ‘GMR’ se Kristien, Amanda steeds in mekaar se hare

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy nou weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

‘Getroud met rugby’ se Amanda en Kristien. (Foto: Verskaf)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 20 September

Annelize en Naomi deel ʼn oomblik oor ʼn ongevallepasiënt, en Danny probeer om Chanel en Brandon weer om dieselfde vuur te laat sit. Liam deel sy nuus met Karen, terwyl Brandon wonder oor Tertius se belangstelling in Delia. Karen neem ʼn besluit oor Uys.

Dinsdag 21 September

Ruan se onderhoud met Danny word onderbreek deur ʼn noodgeval. Elise is bekommerd oor Annelize ná hul gesprek, terwyl Annelize probeer vasstel of Chanel se vrese bewaarheid is. Chanel en Danny dink daar is iets vreemds omtrent die omstandighede van Roelf en Max se onderonsie. Karen se besorgdheid lei tot ʼn blaps.

Woensdag 22 September

Elise beraam ʼn plan om Annelize se gemoed te lig, terwyl Tracy ʼn ongemaklike vraag het vir ʼn dokter. Gaby geniet dit om vir Uys van sy eie medisyne te gee, en Chanel se belangstelling in Roelf se saak verdiep. Danny kom te hore wie en wat Max regtig is, maar die bewysstuk het voete gekry.

Donderdag 23 September

Louis is uiters bekommerd oor Ruan wanneer Ruan hom nader vir hulp met sy skoolprojek, terwyl Karen agterkom dat Liam dink sy hou van Uys. Rian deel ʼn brokkie nuus met Annelize, maar vertel vir Tertius die volle waarheid. Naomi deel inligting met Elise wat haar sesde sintuig beduiwel, terwyl Max en Roelf behoorlik met Danny en Chanel se koppe smokkel.

Vrydag 24 September

Karen raak benoud oor ʼn komplikasie tydens ʼn operasie, en Chanel begin dink daar is beslis ʼn slang in die gras met die Max-Roelf-sage. Louis konfronteer Ruan met dit wat hy ontdek het, terwyl Elise se waarneming haar weer hoop op liefde gee. Brandon speel oop kaarte met Conrad, en Gaby maak ʼn bekentenis aan Karen.

Suidooster

Weeksdae om 18:30 op kykNET en kykNET&kie

Maandag 20 September

Almal is bekommerd oor AB, en Lee-Ann is ontsteld oor iets wat Ty gedoen het. Linda en Bennie is opgewonde oor hul verhouding, maar nie almal voel so nie …

Dinsdag 21 September

Die Samsodiens is bekommerd oor AB, terwyl Bennie verward is oor sy verhouding met Linda. Ty onthul iets aan Lee-Ann.

Woensdag 22 September

AB voel beter, maar die res van die familie het ʼn nuwe bron van kommer. Zoe wurm haarself in op die keuringspaneel vir hul nuwe agent, terwyl Carlo planne het met Ty.

Donderdag 23 September

AB kry slegte nuus oor sy gesondheid, wat die res van die Samsodiens tot aksie dwing. Bennie probeer om Linda in die Kaap te hou, en Ty erken iets aan Lee-Ann.

Vrydag 24 September

Susan en Linda sit nog steeds vas oor Linda. Carlo is depressief en Mymoena sukkel om te besluit wat reg is vir haar familie.

Getroud met rugby

Weeksdae om 18:00 op kykNET

Maandag 20 September

Ronnie ontdek iets skokkends by die stadion. Bibi is jaloers op Meyer. Simon en Renate is raadop met sy hallusinasies.

Dinsdag 21 September

Ronnie vertel vir Schalk van sy ontdekking. Kristien en Amanda is steeds in mekaar se hare. Fafa is weereens in Maryke se slegte boekies.

Woensdag 22 September

Liam beland in die sop. Jenny besoek vir Maryke. Simon en Renate probeer vir Lulu oortuig om nie terug te gaan werk toe nie.

Donderdag 23 September

Elandré tree op in Pottie’s. Liam se loopbaan hang aan ʼn draadjie. Ryno maak gereed vir ʼn lewe sonder Thinus.

Vrydag 24 September

ʼn Artikel oor die Stryders verskyn in SinBin. Renate wil van Logan ontslae raak. Jenny haal die wind uit Fafa se seile.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 20 September

Ronel en Muriel bereik ʼn onverwagse ooreenkoms. Dinge kom tot ʼn einde vir Emily en Beatrice en Daniel neem ʼn finale besluit oor hoe om met haar te werk te gaan.

Dinsdag 21 September

Jake kry ʼn verrassing by die klub en Ingrid maak haar bedoelings met hom duidelik. Wesley en Lee-Roy kry goeie nuus. Daniel voel skuldig oor hy die waarheid van Beatrice weerhou.

Woensdag 22 September

Beatrice is ontsteld ná sy vasstel dat Jake in Arendsvlei is. Die trouspan probeer ʼn oplossing vir die jongste krisis vind en Lionel voel uitgesluit.

Donderdag 23 September

Die trouspan besluit om vir Lionel deel te laat voel van die troue. Beatrice besluit om beheer te neem in haar verhouding met Jake. Willem gee vir Eugene ʼn ultimatum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elinette ·

Amanda en Kristien baklei soos hond en kat …. maar toe die 2 aktrises daar op kom na hul “fight” is daar nie ‘n haartjie uit plek of ‘n skrapie aan een van hulle se gesigte nie. Soos Kristien vir Amanda “gemoker” het, sou ek gedink het daar moes darem 1 met ‘n blou kol of bloedspatsel op die ken weggestap het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.