Sepiegids: Magda, Koekie voer stryd oor pêrels in ‘GMR’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy nou weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Elzabé Zietsman as Magda en Rina Nienaber as Koekie in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 22 November

Lojaliteit word ’n twispunt in ’n verhouding, en Steve vat Conrad aan oor voogskap. Delia, bewapen met inligting, is op die oorlogspad. Chanel vra Naomi uit oor Okkie en Ilse.

Dinsdag 23 November

Conrad en Annelize verskil oor die pad vorentoe – en dan sê Annelize iets wat Tertius in die verleentheid stel. Ruan wil met Tracy praat nadat hy meer inligting oor haar gekry het.

Woensdag 24 November

Ongevalle kry ’n nuwe locum, en Delia wil Rian betrek by haar en Tertius se planne. Steve word genoodsaak om met Conrad te praat oor Ruan, en Conrad vermaan Louis oor Tonik.

Donderdag 25 November

Delia is gespanne oor haar bloedtoetse, en Wimpie besing Janneke se lof. Uys en Gaby kry raad uit ’n onverwagse oord.

Vrydag 26 November

Wimpie het duidelik ’n nuwe gunsteling in sy visier. Die dag van die aanneming breek aan. Annelize se bekommernis oor Rian laat Tertius wonder oor haar gevoelens vir hom.

Suidooster

Weeksdae om 18:30 op kykNET en kykNET&kie

Maandag 22 November

AB vind die volle waarheid oor Nazeem se gekonkel uit, terwyl Susan haar en Justin se geheim probeer beskerm. Donovan is agterdogtig.

Dinsdag 23 November

Nazeem worstel om oor Tim en Zoe se aanbod te besluit, terwyl die toekoms maar donker vir hom lyk. Susan doen haar bes om nie in versoeking gelei te word nie.

Woensdag 24 November

Elana is bekommerd oor Susan, en Wade probeer sin in Justin se kop praat. Mymoena reik uit na AB, terwyl Nazeem met vuur speel.

Donderdag 25 November

Ty voel Nazeem het dinge net erger vir homself gemaak. Kate besef Mrs J gaan ’n formidabele teenstander wees, en Justin dring daarop aan om met Susan te praat.

Vrydag 26 November

Nazeem neem ’n drastiese besluit en Justin is nog nie gereed om Susan prys te gee nie. Donovan en Bridgette beweeg steeds nader aan mekaar.

Getroud met rugby

Weeksdae om 18:00 op kykNET

Maandag 22 November

Nesie en Buks se stryd met sy nagmerries vererger. Ronnie vind uit wat met Ivy gebeur het. Schalk stel ’n ultimatum aan Amanda.

Dinsdag 23 November

Nesie vind ’n oplossing vir Buks se slaapversteuring. Ronnie probeer Ivy oorreed om polisie toe te gaan. Magda stel ’n versoek aan Koekie.

Woensdag 24 November

Buks en Nesie probeer sy droom ontleed. Liam kry ’n idee vir ’n nuwe sakeonderneming. Ivy begin met berading.

Donderdag 25 November

Buks vind uit wie die man in sy nagmerries is. Meyer is onseker oor Liam se aanbod. Koekie en Festus besef wat met die pêrels gebeur het.

Vrydag 26 November

Ivy meld haar saak by die polisie aan. Buks krap diep in sy verlede. Magda verwyt Koekie oor die pêrels.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 22 November

Langes is geskok wanneer hy iemand uit sy verlede raakloop. Lionel help vir Thys om sy aanlyn profiel op te stel. Ingrid volg vir Jake rond.

Dinsdag 23 November

Langes glo hy het sy suster opgespoor, maar sal sy van hom wil hoor? Thys begin gesels met mense aanlyn, terwyl Jake uit die boksklub se binnekring geskuif word.

Woensdag 24 November

Langes het skuldgevoelens omdat hy vir Eva verlaat het. Janice is nie gelukkig met die feit dat Lionel en Thys so baie tyd saam deurbring nie. Karelse daag op by die boksklub.

Donderdag 25 November

Jo besef ’n hoofstuk van sy lewe het tot ’n einde gekom. Debra is geskok deur Langes se drastiese stappe. Thys kry ’n nuwe begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.