Sepiegids: Priester omgeëllie met Angel in ‘Arendsvlei’

‘n Skermgreep uit ‘Arendsvlei’.

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kan jy nou weekliks ʼn voorsmakie kry van die gebeure in jou gunstelingsepie.

Binnelanders

Weekdae om 19:30 op kykNET
Maandag 27 Junie
Tertius gee vir Danny raad oor Elise, en At se stilte laat Tertius baie wonder. Steve deel ontstellende nuus met Annelize.

Dinsdag 28 Junie
Dawid stel voor dat hulle fokus moet verskuif na ʼn sakestrategie. Rodney vra uit oor sy pynmedikasie. Danny en Elise sê mekaar die stryd aan, en Delia gee Annelize stof tot nadenke.

Woensdag 29 Junie
Chanel probeer Danny se plan van aksie verander, terwyl BlueCor drastiese stappe wil doen. Annelize en Conrad gooi aantygings rond. Conrad se instinkte skop in op alle terreine.

Donderdag 30 Junie
Gaby wonder wat aan die gang is tussen Karen en Liam, terwyl sy ook ʼn baie sterk mening het oor Uys en Elise. Delia voel seergemaak deur Annelize se houding.

Vrydag 1 Julie
Wessel is verras wanneer Steve met hom praat oor Annelize. Gaby kyk met nuwe oë na Uys. Danny vermoed Elise is weer besig om iets aan te vang. At betrap Conrad onkant met sy optrede.

Suidooster

Weekdae om 18:30 op kykNET en kykNET&kie
Maandag 27 Junie
Wade neem ʼn haastige besluit waarvan Ty nie hou nie. Nazeem is omgekrap omdat Tim se sake nie vir hom uitgewerk het nie, en Elana probeer om vir Ryno en Maggie te help.

Dinsdag 28 Junie
Wade probeer orde skep in sy lewe, maar Justin maak dit nie vir hom maklik nie. Dit lyk of Maggie en Ryno se geluk ten goede draai, terwyl Zoe roekelose besluite neem.

Woensdag 29 Junie
Wade moet finaal besluit waar sy lojaliteit lê, terwyl Retha vir Elana verras. Zoe is rasend van paniek en ʼn vreesaanjaende krisis staar haar in die gesig.

Donderdag 30 Junie
Zoe het nie haar spore so goed doodgevee as wat sy gedink het nie. Ty is briesend wanneer hy agterkom Wade het sy werk bedank, maar Wade voel sy ouboet moet meer ondersteunend wees.

Vrydag 1 Julie
Zoe is paniekerig, terwyl die Daniels-broers steeds vassit oor Wade se nuwe loopbaan. Elana en Retha se verhouding neem ʼn onverwagse wending.

Getroud met rugby

Weekdae om 18:00 op kykNET
Maandag 27 Junie
Kristien sukkel om haar trauma te verwerk. Lienkie en Amanda se katnaels kom uit. Nytjie hamer aan Nesie om vir Petro as peetkind in te neem.

Dinsdag 28 Junie
Koekie hou vol met haar weddenskap om “die waarheid te praat”. Nesie ontdek iets skokkends oor haar ouers. Lulu is agterdogtig oor Zappa se ma se dood.

Woensdag 29 Junie
ʼn Maatskaplike werker gaan sien vir Buks en Nesie. Zappa neem ʼn groot besluit. Jordan konfronteer vir Amanda oor haar verklaring. Kristien gaan vir traumabehandeling.

Donderdag 30 Junie
Koekie wen die weddenskap. Liam kry ontstellende nuus oor Zappa. Die maatskaplike werker kom weer met Nesie-hulle byeen oor Petro se pleegsorg.

Vrydag 1 Julie
Liam vertel vir Lulu van sy vermoedens oor Zappa. Buks en Nesie word amptelik pleegouers. Koekie pluk die vrugte van haar weddenskap.

Arendsvlei

Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie
Maandag 27 Junie
Lionel konfronteer vir Wesley nadat hy hom sien gesels met ʼn onbekende ou. Nicolene wil ʼn skoolprojek saam met Anton doen. Priester raak al hoe meer geïrriteerd met Angel.

Dinsdag 28 Junie
Janice vis uit by Lionel oor Wes se geheime vriend. Thys erken dat hy Dominique al hoe meer mis. Hein is bekommerd dat die les in die bakkery tot meer hartseer vir Anton sal lei.

Woensdag 29 Junie
Lionel blameer Wesley nadat hy geld met ʼn weddenskap verloor. Jamie voel bykomende druk wanneer Mic ʼn nuwe skoolgeleentheid voorstel. Justin plaas Nicolene in die verleentheid.

Donderdag 30 Junie
Jamie val flou en is duidelik oorwerk, terwyl Mic voortgaan om vir die leerders te vertel van die skool se konsert. Janice wil weet hoekom daar spanning tussen Lionel en Wes is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.