Sepiegids: Traumatiese ongeluk ruk ‘Arendsvlei’

Met Maroela Media en kykNET se sepiegids kry jy weekliks ʼn voorsmakie van die gebeure in jou gunstelingsepie.

‘n Traumatiese ongeluk ruk ‘Arendsvlei’. (Foto: Skermgreep)

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET

Maandag 20 Februarie

Ewa vra Steve om oop kaarte te speel, en At verwoord sy vrese. Brian stem in om Louis met sy plan te help. Gaby wil behoorlik asem skep, terwyl ’n gesprek met Soekie vir Conrad ontstem.

Dinsdag 21 Februarie

Zee maak seker Liam en Karen is voorbereid op hulle beurt, en Annelize en Steve benodig Ewa se hulp. Rian probeer om vir Tertius van sy planne te laat afsien.

Woensdag 22 Februarie

Karen en Liam se uitnodiging vang almal onkant, terwyl Bonnie sukkel om met Brian haar beste voetjie voor te sit. At het baie om te verduidelik, en Soekie smokkel met Conrad se kop.

Donderdag 23 Februarie

Jacques het nuus oor Soekie, terwyl Lexi ’n ernstige gesprek met Steve wil hê. Bonnie se bekentenis aan Naomi sit haar aan die dink. Annetjie se emosies tem nie haar kompeterende gees nie.

Vrydag 24 Februarie

Louis gaan nie maklik van stryk gebring word nie, en Steve smokkel met Annelize se kop. Bonnie se groot aand breek aan, en Soekie begin die legkaartstukke bymekaar te sit.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET&kie

Maandag 20 Februarie

Nazeem se geheime planne tel spoed op, maar Lee-Ann is vasberade om ’n stokkie daarvoor te steek. Angie kry ’n nuwe werk, terwyl Chris en AB uitvind wat fout is met Kate.

Dinsdag 21 Februarie

Lee-Ann is op die oorlogspad, terwyl Rhafiek steeds onseker is oor waar hy met Kaashifa staan. Ty doen Angie ’n groot guns en Kate sukkel steeds om te slaap.

Woensdag 22 Februarie

Lee-Ann moet namens iemand jok en haat haarself daaroor. Angie sukkel om ’n bestaan te maak, terwyl Kaashifa en Rhafiek steeds ongemaklik in mekaar se geselskap is.

Donderdag 23 Februarie

Zoe moet noodgedwonge haar planne kanselleer wanneer Tim ’n spontane afspraak reël. Chris en Kate se verhouding word getoets. Kaashifa neem ’n finale besluit oor haar toekoms met Rhafiek.

Vrydag 24 Februarie

Nazeem is vasbeslote om sy hart te volg, terwyl Angie ’n kans het om werk te kry. Rhafiek en Kaashifa kom by die punt waar omdraai onmoontlik is.

Diepe Waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET

Maandag 20 Februarie

Lydia se brief krap ou wonde oop, terwyl Meghan en Jacques se vriendskap verdiep. Pam en Zelda is ewe hardkoppig, en Johan oorspeel sy hand.

Dinsdag 21 Februarie

Rose bespreek haar strategie met Henry en Tshepo. Anja moet haar verlede in die gesig staar, terwyl Johan se senuwees oor die toetse breekpunt bereik.

Woensdag 22 Februarie

Jacques onthul die uitslae van die dwelmtoets. Frederich deel opwindende nuus met Gys, en Tshepo deel nuwe inligting met Rose. Anja probeer Rossouw bystaan.

Donderdag 23 Februarie

Henry konfronteer Rossouw, en Nina probeer Tshepo opbeur. Sanet storm uit die huis ná ʼn uitval met Johan, terwyl Rose vir Gys die stryd aansê.

Arendsvlei

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie

Maandag 20 Februarie

Lennie moedig Langes ook aan om sy probleme met Emile te vergeet. Cherry kry ’n idee om Simone se geheime bewonderaar uit te lok. Rachel en Antony wil met die Cupidos vergader.

Dinsdag 21 Februarie

Beatrice sien nie uit daarna om saam met Rachel te werk nie. Die afknouery is besig om Simone te affekteer en JP het ’n voorstel vir Yvette.

Woensdag 22 Februarie

’n Aaklige ongeluk vind plaas. Basil roep Cassandra uit in die klas uit, en sy word summier na Beatrice toe gesleep om te verduidelik hoekom Simone nie by die skool is nie.

Donderdag 23 Februarie

Lionel en Eva probeer Ayesha troos wanneer sy haarself blameer vir ’n traumatiese ongeluk. Yvette vra JP om hulp wanneer sy ’n onverwagse geskenk kry, terwyl Simone nog meer geboelie word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.