Sepiepaartjie herenig vir laaste episode van ‘Neighbours’

Kylie Minogue (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images/AFP)

Ná 30 jaar se afwesigheid keer Kylie Minogue en Jason Donovan terug vir die afsluiting van die Neighbours-sepie.

Donovan en Minogue en het in die laat 1980’s gewild geword as ’n paartjie in dié Australiese TV-sepie. In geheim was daar toe ook ’n werklike kortstondige romantiese verhouding tussen die twee aan die broei.

“Ons is verheug dat Jason en Kylie huis toe gekom het om ’n baie spesiale rol in die finale episode van ons reeks te speel. Hulle was die toppaartjie van die program en dit sal nie reg voel om dit sonder hulle te beëindig nie.

“Dit was vir ons en hulle ’n emosionele ervaring, en ek is seker dat dit vir ons kykers ook gaan wees,” het Jason Herbison, die sepie se uitvoerende vervaardiger, op Twitter gesê.

Neighbours, wat ook die loopbane van Margot Robbie en Russel Crowe begin het, het byna twee maande gelede aangekondig dat hulle ná 37 jaar op die kassie, produksie gaan beëindig.

Dit kom nadat die huidige uitsaaier, Channel 5, besluit het om die program nie voortaan te dra nie.

’n Generasie het grootgeword met karakters soos Minogue se Charlene Robinson en haar skerm-kêrel, Scott Robinson (vertolk deur Donovan). Daarby ook ’n rolverdeling wat oor die jare heen Guy Pearce, Natalie Imbruglia en Liam Hemsworth ingesluit het.

Donovan en Minogue het hul Instagram-volgelinge aan die gons gehad oor ʼn moontlike terugkeer nadat hulle foto’s van ʼn Neighbours-teks op Instagram geplaas het.

Minogue, wat internasionaal as Kylie bekend staan, het oorspronklik bekend geword vir haar spel in die sepie, wat van 1986 tot 1988 geduur het. Hierna het sy haar popmusiekloopbaan van stapel gestuur.

Die popster het met Donovan saamgespan vir ʼn 1988-duet, “Especially for You”. Van dié treffer is meer as ʼn miljoen eksemplare in Brittanje alleen verkoop terwyl dit boaan trefferlyste regoor Europa en Australasië was.

Donovan se loopbaan het sedertdien ʼn paar musiekspele ingesluit. Hy het ook intussen oop kaarte gespeel oor sy stryd met dwelmverslawing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.