Sepiester sowaar ʼn ystervrou

Je-ani Swiegelaar (regs) saam met Rika Niewoudt, saam met wie sy die kragmeting voltooi het. (Foto: verskaf).

Sepiekykers ken haar as Naomi Koster, ʼn ernstige verpleegster van Binneland Kliniek in die kykNET-sepie Binnelanders. Je-ani Swiegelaar het egter onlangs bewys dat daar meer is wat in haar steek toe sy die befaamde ‘Iron Man’-kompetisie in Gqeberha in die Oos-Kaap trotseer het.

“Dis iets wat ek nog altyd wou gedoen het. Ek het egter besef dat ek dit nooit sou kon regkry sonder die regte afrigter nie,” het Swiegelaar aan Maroela Media oor die yslike uitdaging vertel.

So het die soeke na ’n oefenklub begin. Sy het ’n gelukkie getref toe familie van Rika Niewoudt, wat die rol van Jolene in Binnelanders vertolk, só ’n klub besit.

Dit is juis saam met Niewoudt wat Swiegelaar die uitdaging aangepak het. Sy oefen al vir ’n jaar en twee maande by die klub, maar die afgelope ses maande het sy haar toegespits ter voorbereiding vir die ‘Iron Man’-kompetisie.

Nie net het Swiegelaar toegewyd geoefen nie, sy het ook ander eetgewoontes ontwikkel.

“Dit help nie om jouself morsdood te oefen sonder om jou liggaam optimaal te voed nie.”

Swiegelaar vertel dat sy deur die loop van die proses gewig verloor het, maar dat dit nie noodwendig gesonde gewigsverlies was nie.

“Ek het besef dat ek by tye te min geëet het. Ek eet nou eintlik baie.”

Een van die uitdagings wat die aktrise in die gesig gestaar het, was tydsbeplanning.

“Ek was nie noodwendig lus daarvoor om ná sewe in die aande te oefen nie. So ek oefen vieruur in die oggende, en natuurlik meer oor naweke.”

Alhoewel Swiegelaar trots is dat sy die kragmeting voltooi het, bieg sy dat sy verlig was toe dit verby was.

“ʼn Mens ervaar alle menslike emosies waartoe jy in staat is. Jy is bly, raak kwaad, hartseer en gelukkig ook.”

Die warboel van emosies ontmoedig haar egter nie om aan verdere soortgelyke geleenthede deel te neem nie.

“Ek het reeds begin oefen vir die volgende een. Ek sal graag volgende jaar aan drie ‘Iron Man’-kompetisies deelneem.”

Swiegelaar beoog om dit nóg verder te neem deur die welsynsorganisasie waarby sy betrokke is ook te betrek.

“Dis lekker om gesond te wees, mense ʼn bietjie te inspireer én ’n geldjie in te samel.”

Aangesien sy lief is vir reis en verken wil sy graag ook aan ‘Iron Man’-kompetisies wêreldwyd deelneem.

“Dink net, jy gaan Thailand toe, doen die kompetisie sommer die eerste naweek wat jy daar is en hou die res van die tyd vakansie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anna84 ·

Geen wonder jy sien haar nooit glimlag in 7de Laan nie, want sy speel in Binnelanders en nie 7de Laan nie.

AmY ·

Lekker lag ek nou vir jou skerp kommentaar.
Ja, sy is natuurlik in Binnelanders en nie 7de Laan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.