‘Sex and the City’ herleef eersdaags

Sarah Jessica Parker, Kristin Davis, Kim Cattrall en Cynthia Nixon arriveer by die première van “Sex and the City 2” in Leicester Square, Londen, op 27 Mei 2010. (Foto: Max Nash/AFP)

Die Amerikaanse televisienetwerk HBO Max het Sondag aangekondig die gewilde reeks Sex and the City sal eersdaags herleef.

Die hele oorspronklike rolverdeling, behalwe die aktrise Kim Cattrall, sal deel wees van die nuwe reeks.

Die nuwe reeks is getiteld “And just like that …” en sal uit tien episodes bestaan. Sarah Jessica Parker, Cynthia Nixon en Kristin Davis sal in dié reeks te sien wees, het HBO in ʼn verklaring gesê.

Parker vertolk die rol van protagonis en verteller Carrie Bradshaw terwyl Nixon, ʼn prokureur, en Davis, ʼn kunshandelaar, onderskeidelik die rolle van haar twee beste vriendinne Miranda Hobbes en Charlotte York vertolk.

Cattrall, wat die rol van die publisiteitsbeampte Samantha Jones in die oorspronklike reeks vertolk het, is nie in die verklaring genoem nie. HBO het nie aangedui waarom sy nie terugkeer nie.

Die storie sal die drie vroue volg waar hulle liefde en vriendskap in hulle vyftigs navigeer. HBO het nie aangedui wanneer die reeks sal debuteer nie, maar het gesê produksie sal later vanjaar in New York begin.

Parker, wat ook saam met Nixon, Davis en Michael Patrick King die reeks sal vervaardig, het Sondag ʼn lokprent op Instagram gedeel.

‘Sex and the City’ se oorspronklike plakkaat. (Foto: IMDb)

Die kort video wys klassieke foto’s van New York, wat verweef is met foto’s van die karakter Carrie Bradshaw se ikoniese rekenaarskerm, waarop frases soos “And just like that …” en “The story continues …” uitgetik is. Parker se kenmerkende stem is ook op die lokprent te hoor.

“Ek het grootgeword met hierdie karakters en ek sien uit daarna om te sien hoe hulle stories ontwikkel het in hierdie nuwe hoofstuk, met die eerlikheid, humor en die geliefde stad wat hulle nog altyd definieer,” het Sarah Aubrey, hoof van inhoud by HBO Max, gesê.

Die oorspronklike Sex and the City-reeks, wat deur HBO beskryf word as “grensverskuiwend”, is geskep deur Darren Star en is geskoei op Candace Bushnell se gelyknamige boek, wat in 1997 vir die eerste keer publiseer is. Die reeks is die eerste keer in 1998 uitgesaai en ses seisoene is daarvan gemaak.

Die reeks is ook in twee rolprente verwerk, wat in 2008 en 2010 uitgereik is. Die prequel-reeks, The Carrie Diaries, het in 2013 verskyn en twee seisoene is daarvan gemaak.

Dit is onduidelik of Star sal terugkeer vir die nuwe reeks. Terwyl hy in Oktober verlede jaar sy jongste projek, die Netflix-reeks Emily in Paris bemark het, het hy aan The Hollywood Reporter gesê hy “stel nie belang daarin” om terug te keer na Sex and the City nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Is die ding nie al hol gery nie!?