Shaleen Surtie-Richards vandeesweek op TV vereer

Shaleen Surtie-Richards (Foto: Skermgreep uit dokumentêr/M-Net)

Die skielike afsterwe van die legendariese aktrise, Shaleen Surtie-Richards (66), word oor die hele land betreur.

Multichoice sal haar baanbrekerloopbaan vereer met ’n eksklusiewe dokumentêr, Shaleen Surtie-Richards: ‘I Am Who I Am’, op M-Net wat op Woensdag 9 Junie om 19:30, asook op kykNET en kykNET&kie op Sondag 13 Junie om 20:00 uitgesaai sal word.

Dié dokumentêr sal vanaf Donderdag 10 Junie op Showmax beskikbaar wees om te stroom. Daar is ook bykomende herdenkings op verskeie DStv-kanale geskeduleer.

Surtie-Richards was ’n geliefde Suid-Afrikaanse aktrise. Sy het in 1988 die ikoniese rol van Fiela Komoetie in die rolprent Fiela se kind vertolk. Dit was ’n grensverskuiwende prestasie vir ’n bruin aktrise om in ’n hoofrol van so ’n rolprent in die vorige bedeling van Suid-Afrika te verskyn.

Shaleen Surtie-Richards.

Met haar vertolking van Nenna Willemse, die geesdriftige opsigter van Marlborough Mansions, in die M-Net sepie Egoli het sy ’n huishoudelike naam geword.

“Die dokumentêr is in opdrag gedoen om ’n Suid-Afrikaanse ikoon te vier en was in die eindstadium van na-produksie toe die nuus van haar heengaan aangekondig is. Dit was ’n groot eer vir die span om tyd met Shaleen deur te bring tydens die verfilming, en sodoende dié huldeblyk aan haar lewe en loopbaan te bring,” het Diana Lucas, regisseur en uitvoerende vervaardiger, gesê.

“Haar merkwaardige storie is histories betekenisvol vir alle Suid-Afrikaners.”

In die intieme dokumentêr word Surtie-Richards se kinderjare in Upington weer besoek, asook haar eerste treë op die Upingtonse skoolverhoë tot uitverkoopte teatersale voor enorme gehore.

Marc Lottering, Sandra Prinsloo, Pieter-Dirk Uys, Brümilda van Rensburg, Katinka Heyns, Patricia de Lille, Bobby Heaney, Kevin Smith en andere deel hul herinneringe aan en stories van ’n vrou wat haar lewe teenstrydig met stereotipes geleef het.

Soos sy in haar eie woorde sê: “Ek het nie tyd vir pretensie in my lewe nie, so as jy vra wie is ek … Ek is ek.

Surtie-Richards het ook onlangs ’n onderhoud gedoen met haar mede-akteur op Egoli, Hannes van Wyk, vir ’n spesiale Kwêla: Hannes aan Huis-episode wat Dinsdag 8 Junie om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

Op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) sal die span van KLOP! ’n huldeblyk lewer aan Surtie-Richards met vriende en kollegas soos die Suid-Afrikaanse akteurs Christo Davids, Zenobia Kloppers en haar Arendsvlei­mede-akteurs. Die kykNET-telenovelle Arendsvlei was die laaste produksie waaraan Surtie-Richards gewerk het.

“Shaleen sal altyd onthou word vir haar uitmuntende vakmanskap, haar roerende vertolking van ikoniese karakters en haar vreugdevolle persoonlikheid. Sy het Suid-Afrikaanse kykers dekades lank vermaak en opgevoed.”

Uiteensetting van programme en huldeblyke op DStv-platforms:

Dinsdag 8 Junie

21:00 Hannes aan huis, kykNET (DStv-kanaal 144)

 

Woensdag 9 Junie

19:30 Shaleen Surtie-Richards:I Am Who I Am’, M-Net (DStv-kanaal 101)

20:30 KLOP!, kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

 

Donderdag 10 Junie

Shaleen Surtie-Richards: ‘I Am Who I Am’ beskikbaar op Showmax

 

Saterdag 12 Junie

Ontbytsake, kykNET en kykNET&kie (DStv-kanale 144 & 145)

 

Sondag 13 Junie

19:00 Carte Blanche, M-Net (DStv-kanaal 101)

20:00 Shaleen Surtie-Richards: ‘I Am Who I Am’, kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

20:30 Swirl, fliekNET (DStv-kanaal 149)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Sy was n goeie en beminde aktrise. Ons as gesin was mal oor haar maar ek dink mense gaan nou oorboord met staats begrafnis en eer. Daar is en was duisende mense wat net so besonders was in hul lewens op hierdie planeet en geen eer of staats begrafnis gekry het nie.

VannieBaai ·

Ek het gekyk en gekyk en gekyk Maroela Media, maar ek kon niks van die “I am who I am” op Showmax kry gistraand nie. Is julle seker van jul feite?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.