Silwerskerm 2018-kortflieks nou op Showmax te sien

Sien die jongste kortflieks in die Afrikaanse rolprentbedryf met kykNET se Silwerskerm-filmfees: ʼn versameling van die beste kortflieks deur nuwe talent in die bedryf.

Axis Mundi

Paraplegiese TV-aanbieder Nora de Vos was eens die “koningin van televisie”, maar met haar kykergetalle wat daal wil die netwerk haar program kanselleer. Nora het egter ander planne. Sy nooi Johan Moolman, ’n bekende geneser, na ’n regstreekse uitsending van haar program: ’n man wat beweer hy kan haar weer laat loop. Dit beloof om die TV-gebeurtenis van ’n generasie te wees, een wat Nora se loopbaan sal red. Soos die kameras rol, is die vraag op almal se lippe: Sal Johan Moolman vir Nora de Vos weer laat loop? Binnekort op Showmax te sien.

Baai Baai Josef K

Josef K, ’n angstige man in sy vroeë dertigs besluit om vroegoggend te gaan draf. Ná ʼn toevallige ontmoeting met ’n mede-drawwer, kom hy af op ’n fiksheidshorlosie wat beheer word deur ’n bose digitale hasie, genaamd Bunny. Bunny neem sy foon oor en Josef sit die horlosie aan. Bunny dwing Josef om te hardloop deur hom fisiek te skok elke keer as hy weier. Verder het Bunny toegang tot Josef se sosialemediaprofiele, sy internetgebruik en kan hy hom selfs afpers. Dit ontaard in ’n vreemde resies tussen hom en die horlosie. Kyk nou »

Benjamin

Chantelle September, ’n werknemer van Kinderwelsyn Suid-Afrika, word gestuur na die vervalle plattelandse dele van die Noord-Kaap om sensuswerk te doen. Haar laaste opdrag is by ’n desperate plaasgemeenskap onder die leierskap van ’n charismatiese grondeienaar, Tobias du Toit. Haar ondersoek in die area laat haar met meer vrae as antwoorde, die belangrikste een seker: Wie is Benjamin?  Kyk nou »

Buiteperd

Armand, ’n gebore verloorder wat by sy pa bly, het altyd daarvan gedroom om ’n akteur te word, maar soos alles in sy lewe het hy ook hier handdoek ingegooi. Deesdae sit hy en pa Theuns by die huis en dobbel geld uit op perdewedrenne. Theuns sterf skielik sonder ’n sent. Armand se selfvertroue is teen die grond en hy moet sonder geld ’n heldebegrafnis reël of tevrede wees met ’n staatsbegrafnis. Dit ontaard in ’n dobbelwedren teen tyd en Armand is die buiteperd. Kyk nou »

Cowboy Dan

Kroeks steel ’n cowboy, wat in ’n droomwêreld leef, se beeste terwyl ’n beeldskone vrou sy aandag aflei. Maar die kroeks is kardiewe, die cowboy ’n karwag, die beeste karre en sy muse ’n kroegkelnerin. Die diefstal sit die stedelike cowboy op ’n tog om die kar terug te kry en reg en geregtigheid te laat geskied. Hierdie tog lei vir Cowboy Dan deur die kriminele onderwêreld van Kaapstad, met Zancas – ’n bang boemelaar – as sy hulp.

“Cowboy Dan” is ’n herinterpretasie van die klassieke Western met ’n Kaapse geur deur die oë van ’n moderne “Man van La Mancha”. Kyk nou »

Die invloed

Hilda Sewes se man word deur die see geneem. Sy sweer dat Milla, haar dogter, die see nooit sal ken nie. Klein Kalbas, Milla se beste maat dra gereeld vis aan. Hilda se vermanings val vir jare op dooie ore – tot Milla se oë die ware rede vir sy daaglikse besoeke verklap. Hilda is vasberade om haar dogter so ver weg te neem as wat nodig is om hierdie liefde tot ’n einde te bring, maar Kalbas beloof dat hy hulle sal volg tot aan die uithoeke van die aarde. Niks sal hom keer nie. Wat hierna gebeur, bewys: liefde ken geen perke nie. Kyk nou »

Die leeftyd van ’n orgidee

Ben is in rou gedompel nadat sy geliefde vrou, Emma sterf. Emma se kweekhuis, gevul met ’n indrukwekkende orgideëversameling, is al wat vir Ben troos verskaf… Hy probeer gevolglik obsessief die plante lewendig hou, maar hy is onkundig en onbeholpe en die orgideë sterf een vir een. Ben begin die dooie orgideë oral wegsteek; ʼn geheime versameling van sy verlies. Ons volg vir Ben en sy hond deur die dae en maande wat verby flits. Ben noteer sorgvuldig elke dag wat hy alleen moet bestaan. Sy wêreld word al hoe kleiner… totdat hy een nag tydens ’n droom ’n gewaarwording beleef wat as sleutel dien tot sy uitkoms. Kyk nou »

Die ongenooides

Die wêreld het verander, en nie in ʼn goeie sin nie. Bertha van Wyk lewe in isolasie en is verwyder van enige menslike kontak. Niks daarvan was haar keuse nie, maar dis die situasie waarin sy nou moet oorleef. Op die herdenking van ’n tragiese herinnering, word Bertha se chaotiese lewe verder in verwoesting gedompel wanneer twee geheimsinnige vreemdelinge haar lewe betree. Kyk nou »

Fluit fluit

Ons ontmoet ’n vrou van inbors en karakter wat ’n goeie lewe lei en ’n buitengewone aanvoeling vir fluit het. Fluit, soos in die volmaakte vorming van honderde melodieë en klanke van tuinvoëls en ander geluide met behulp van asemgebruik en die perfekte plasing van haar tong. Dis immers wat sy van vroegoggend tot laataand doen. Om hierdie wonder wyer as haar eie, bekende wêreld te laat strek, huur sy ’n jong kameraspan om haar te volg in die dae wat oploop tot ’n groot konsert. Sy is tog, soos sy self sê, Suid-Afrika se fluitfenomeen. Kyk nou »

Grys

Ná die dood van sy ma leef tiener Xander en sy pa, Dirk, verby mekaar. Albei rou op hul eie manier. Xander probeer vasklou, Dirk probeer weggee. Tuis is Xander alleen en die stilte is oorweldigend. Daar is ’n klop aan die deur en sy vriend Phillip bied ’n skouer. Hy is op soek na wie Xander eens was. Op minder bekende plekke vind Xander ontvlugting in iets wat hul verhouding met mekaar vir altyd sal verander. ‘n Intieme uitbeelding van ’n familie se unieke manier van kommunikeer. Kyk nou »

Haatklop

Mariette skrik wakker en peul uit die plastieksak waarin sy bebloed toegedraai was. Sy is duidelik onseker wat gebeur het en begin haar pad huis toe struikel. Stadig maar seker kom haar geheue terug en gaan soek sy vergifnis… maar betrap Karel met ’n ander vrou. Is Mariette in staat om te vergewe en aan te beweeg? Kyk nou »

Kloof

Dis ontgroeningsweek op kampus en Dawid, saam met sy mede-koshuisseniors, gee vir Siyanda en die ander eerstejaars hel. Die doop raak al meer intens en bou op tot een laaste uitdaging: om as broers ingesweer te word moet hulle by ’n kloof op stap en vanaf ’n hoë krans in ’n rotspoel spring. Maar Siyanda is te bang en dis Dawid se verantwoordelikheid om hom te oortuig. Weke later, wanneer Dawid en Siyanda saam na hul tuisdorp terugkeer, word dit duidelik dat die twee ou vriende se verhouding ná die gebeure van die ontgroening nooit weer dieselfde sal wees nie. Kyk nou »

Kromkieriefontein

Op die dorpie Kromkieriefontein is alles krom. Niemand durf oor die rede praat nie en niemand mag die burgemeester, meneer Asvaal, se bevel in 1982 bespreek nie. Almal loop gehoorsaam en gedweë met hangskouers en ’n gefokusde blik op hul voete en die volgende tree. Almal behalwe Juffrou Kiertsregop, die flambojante graad 2-onderwyseres van Laerskool Kromkierie. Vier nuuskierige agtjariges – Dahlia, Bella en die tweeling Tienie en Tamara – pak ’n avontuur aan om uit te vind hoekom hulle juffrou so penorent loop. Die sleutel tot dié raaisel sal nie een van hulle onveranderd laat nie. Kyk nou »

ʼn Kombi, kameelperd en ʼn camcorder

Toe Celia (Marielise van Rooyen) op haar jarelange studentevriend, Armand (Hannes Brümmer), se knoppie druk om haar ouma (Lida Botha) na haar troue toe te bring, kon sy haar nooit indink hoe hierdie road trip sou ontvou nie. Vasgevang op ’n ander vriend, Simon (Morné du Toit), se camcorder kan die komiese avontuur meegemaak word op pad troue toe. Ook met Christel van den Bergh as Janetta en Pulane Sekepe as Simphiwe. Kyk nou »

’n Sterrejag

Daniel, ’n avontuurlustige seun, word daagliks betower deur ’n storie van ’n towenaar, ’n held en ’n draak op die maan. Dié storie speel af teen die muur van sy buurman, Jacob, se huis in die vorm van ’n skadupoppespel. Wanneer dinge op ’n dag skeef loop en dit lyk of sy skadu-avontuur bedreig word, moet Daniel al sy moed bymekaar skraap en alles in sy vermoë doen om sy storie te red. Binnekort op Showmax te sien.

Nag van die ondier

In ‘n onheilspellende woud, vergader vriende om ‘n kampvuur om stokbrood voor te berei, potjiekos te maak, pyp te stook en stories te vertel van ‘n ondier wat winters gelede dié woud bewoon het. Wanneer die nag begin brul en die bome begin beef, besef die vriende dat die stories van die ondier, dalk nie net stories was nie. ‘n Onaardse spel ontvou in die woud as hulle besef dat sonder lig, die skadu jou nie kan vang nie. Kyk nou »

Nama Swaan

Drie jaar ná Willie se oupa in ’n mynramp dood is, het hulle ’n nuwe lewe in ’n plaasdorp naby Kaapstad begin, ver weg van die verlede. Nou in matriek wil hy wiskunde studeer, maar sy ouma weier om sy beursaansoek te teken. Sy plan: bereken ’n som om die volstruis, wat sy ouma in ’n hok aanhou, te laat vlieg, vóór hy op die plaas as doodgewone arbeider opeindig. Soos hy worstel, besoek ’n magiese Nama-Oerstem hom en word dit die wind onder sy vlerke soos hy sy vryheid verken. Geïnspireer deur Tsjaikowski se “Swanemeer”, word Nama Swaan ’n simbool om nooit op te hou droom nie. Kyk nou »

Non(Kompos)Mentis

Karla is ’n normale huisvrou, ’n liefdevolle ma en getroue eggenoot. Haar liefde vir tuinmaak hou haar compos mentis. Dit is waar sy, al is dit net vir ’n rukkie, kan ontsnap van realiteit. Haar goedhartigheid word bewys wanneer sy ’n werklose man met kos help, maar haar konserwatiewe man, Robert, is gekant daarteen – bedelaars is nie hulle verantwoordelikheid nie. Dan word Karla se hele optimistiese bestaan op een dag omver gegooi wanneer iets ondenkbaar met haar gebeur. En net haar speurder-tweelingbroer kan haar help. Non(Kompos)Mentis is ’n verhaal oor die onvoorspelbare wêreld waarin almal hulself bevind. Kyk nou »

Tuiskoms

Honger, koud en alleen in die strate is vir Eleah ’n daaglikse oorlewingstryd. Dit is hier waar sy ’n geheimsinnige vreemdeling ontmoet wat haar meedeel dat hy weet waar haar ma is. Hy belowe Eleah om haar na haar ma te neem, na ’n plek waar sy nie meer alleen en kwesbaar sal wees nie, ’n plek van warmte. Sy is desperaat om saam met die vreemdeling te gaan, maar hy het sy prys. En dis dalk meer as wat sy het om te gee. Sy sit alles op die spel om vir die vreemdeling te gee wat hy van haar eis. Kyk nou »

Uitstappie

Daar is niks soos vars lug om die kop ’n bietjie skoon te kry nie. Maar Magda is moeilik wanneer dit by uitstappies kom. Sy dink nie veel van die gesprekke wat ’n mens langs die pad moet aanknoop nie en vertrou haarself ook nie noodwendig om die pad terug te vind nie. Dit is ’n stryd om haar gereed te kry, maar sy het nie gereken op M nie – ’n jong, doelgerigte vrou wat haar nie gaan laat ore aansit nie. Die plan vir vandag se uitstappie bly dus staan. Kom Binnekort op Showmax te sien.

 

Oor Showmax

Showmax is ’n aanlyn televisiediens. Teen ’n enkele maandelikse fooi kry jy onbeperkte toegang tot ’n reuse-aanlyn-katalogus van TV-reekse, flieks, kinderprogramme en dokumentêre. Begin en eindig jou intekenaarskap soos dit jou pas. Geen advertensies. Jy kan enige tyd kanselleer – daar’s geen kontrak nie.

Kyk Showmax deur van apps vir slim TV’s, slimfone, tablette, rekenaars, media-spelers en speletjie-konsoles gebruik te maak. Showmax werk ook met Chromecast en AirPlay. Bestuur data-verbruik deur die bandwydte-beperkingsfunksie te gebruik. Geen internet? Geen probleem nie. Jy kan tot 25 programme op slimfone en tablette aflaai om later te kyk wanneer jy nie aanlyn is nie.

Hierdie fliek is beskikbaar op Showmax vir kykers in Suid-Afrika en die buiteland. Kry al die vermaak op jou gunstelingtoestel by Showmax: teken nou in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou ook gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

Is jy ‘n DStv Compact-kliënt?

Goeie nuus! Jy betaal nou slegs R49 per maand as jy ‘n DStv Compact Plus of DStv Compact-kliënt is – dis afslag van R50! Klik hier om meer te lees en klik hier om te sien hoe jy te werk moet gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.