Silwerskermfees: Kyk die kortflieks nou op Showmax

Skermgreep uit die kortfliek “Soldaat”

Jy kan nou al 20 kortflieks wat vanjaar by die Silwerskermfees vertoon is, eerste en eksklusief op Showmax sien. Van fantasie tot misdaaddramas en komedie – die diverse films in vanjaar se versameling wys dat die toekoms van die Afrikaanse filmbedryf nog nooit so helder was nie.

Sedert die eerste fees in 2011 het die kortfilmkompetisie ’n rykdom nuwe talent aan die Afrikaanse filmbedryf bekendgestel, onder andere name soos Christiaan Olwagen (Johnnie Is Nie Dood Nie), Rene van Rooyen (Mooirivier), en Corné van Rooyen (Vaselinetjie, Hollywood In My Huis). Vorige jare se kortflieks is tot vollengte films (Vuil Wasgoed, Nommer 37) en ’n TV-reeks (Buurtwag) verwerk.

Filmmakers skryf in vir die kompetisie deur ’n een-bladsy-voorlegging in te stuur, wat anoniem beoordeel word op grond van die konsep. Hierdie jaar was daar 258 inskrywings, en 31 films is uitgenooi om aan die draaiboek-werkswinkels deel te neem. Uiteindelik is 21 as kortflieks ontwikkel, onder mentorskap van mense soos Brett Michael Innes, Etienne Fourie, Johan Kruger, Josh and Luke Rous, en Jozua Malherbe.

Hoogtepunte sluit in:

Soldaat
Beste Kortfilm – 24 minute; Beste Draaiboek (Amy Jephta)

Een dag gedurende die skoolvakansie sien twee jong seuns ’n gesprek tussen ’n polisieman en ʼn berugte dwelmsmous. Hulle word gevange geneem en word die dwelmsmous se pionne. Op dieselfde dag is dit ’n geheimsinnige polisieman met ’n agenda van sy eie se eerste dag op sy pos. Soos die dag ontvou kruis die twee stories en bots met mekaar wanneer lewens onherroeplik verander.

Vossie Vergas Homself
Beste Aktrise: June van Merch

Vossie is gereed om sy lewe te beëindig, maar ’n eksentrieke drawwer, Antie, het ander planne. June van Merch (Die Boekklub, Binnelanders) is histeries snaaks in die snaaksste kortfilm wat jy ooit oor selfdood sal sien.

Slaaf
Beste Akteur: Carel Nel

Carel Nel (Hum) het vir die tweede agtereenvolgende jaar die toekenning as Beste Akteur gewen vir sy rol as ’n man wat verskeur word tussen sy twee groot liefdes, wat heelwat in ooreenstemming het: heroïen en sy heldin.

Die Maan Val Bewusteloos
Beste Regisseur – 24 minute (Nico Scheepers)

Mia wil weet waar sy vandaan kom. Al wat sy ken is die feeverhale wat haar grootouers vir haar vertel, maar wat het van die res van haar familie geword?

Langsaan
Beste regisseur – 12 minute (Harold Holscher)

Sy leef in haar eie verbeeldingswêreld terwyl haar ouers werk vir ’n beter toekoms. ’n Stil droom leef diep binne-in haar, maar ’n kind kan ’n droom op haar eie voorstoep verloor. Kyk uit vir ’n besonder slymerige cameo deur Marcel van Heerden (Suidooster), wat met ’n waarskuwing vir sensitiewe kykers behoort te kom.

Skoon
Beste redigering – Johan Prinsloo

Louis, ’n jong mondhigiënis, maak veel meer skoon as wat hy moet, altyd in stappe van drie.

Verlede jaar se wenners – Matthys Boshoff se liefdesverhaal Vlees Van My Vlees en Willem Grobler se paranoia-veroorsakende Hum – is ook op Showmax te sien.

 

Oor Showmax

Showmax is ’n aanlyn televisiediens. Teen ’n enkele maandelikse fooi kry jy onbeperkte toegang tot ’n reuse-aanlyn-katalogus van TV-reekse, flieks, kinderprogramme en dokumentêre. Begin en eindig jou intekenaarskap soos dit jou pas. Geen advertensies. Jy kan enige tyd kanselleer – daar’s geen kontrak nie.

Kyk Showmax deur van apps vir slim TV’s, slimfone, tablette, rekenaars, media-spelers en speletjie-konsoles gebruik te maak. Showmax werk ook met Chromecast en AirPlay. Bestuur data-verbruik deur die bandwydte-beperkingsfunksie te gebruik. Geen internet? Geen probleem nie. Jy kan tot 25 programme op slimfone en tablette aflaai om later te kyk wanneer jy nie aanlyn is nie.

Hierdie kortflieks is beskikbaar op Showmax vir kykers in Suid-Afrika en die buiteland. Kry al die vermaak op jou gunstelingtoestel by Showmax: teken nou in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou ook gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.