Sir David Attenborough op almal se lippe met nuwe dokumentêr

Sir David Attenborough. (Foto: Conor McDonnell)

Sir David Attenborough, die 94-jarige gerespekteerde Britse uitsaaier en wild- en natuurbewaringsaktivis, is deesdae ʼn gespreksonderwerp op jonk en oud se lippe.

Nié net kon hy onlangs daarin slaag om in minder as vyf uur ʼn miljoen volgelinge op Instagram te kry en die Hollywood-aktrise Jennifer Aniston se rekord te verbeter nie, maar hy veroorsaak ook ʼn beroering met sy splinternuwe Netflix-dokumentêr A life on our planet.

Attenborough het in sy leeftyd elke kontinent van die aarde besoek en hy het die planeet verken en gedokumenteer in sy volle verskeidenheid en glorie. A life on our planet gee ʼn eerlike, rou en indringende blik op die monumentale impak wat die mensdom op die natuur het soos Attenborough dit deur sy wêreldwye reise beleef het.

“Ek het die buitengewoonste lewe gehad. Dit is egter nou eers dat ek waardeer net hóé buitengewoon,” sê Attenborough in die lokprent vir die dokumentêr.

“Die lewende wêreld is uniek en skouspelagtig, maar die manier hoe die mensdom leef op die aarde is besig om die aarde se agteruitgang te beteken. Die mens het die wêreld oorstroom.”

Sir David Attenborough in 2000 tydens die verfilming van die dokumentêr ‘Life of mammals’. (Foto: BBC/Instagram/Sir David Attenborough)

Hy het tans 6,1 miljoen volgelinge op Instagram en deel graag onder meer kort grepe uit A life on our planet en wenke oor hoe die mensdom die aarde kan red.

Attenborough het aan die BBC gesê sy groot Instagram-aanhang gee hom “betekenisvolle hoop” vir die toekoms te midde van toenemende kommer oor die vernietiging van die natuur en dreigende onomkeerbare klimaatsverandering.

Hy het ook bygevoeg dat hy bevoorreg voel dat gebruikers van die platform, van wie 70% jonger as 35 is, belangstel in goed “waaroor ʼn ou persoon soos ek wil praat”.

Hy glo jong mense is in die beste posisie om verandering te bewerkstellig. “Dit is hulle wêreld, en dit is hulle môre. Ek sal nie daar wees nie. Hulle sal wel daar wees,” het Attenborough gesê.

National Geographic Kids het onlangs ʼn rits interessante feite oor Attenborough gedeel. Dié feite verklap onder meer dat hy nie ʼn motor besit nie en nog nooit sy bestuurslisensie gekry het nie en dat hy die enigste persoon is wat al Bafta-toekennings (British Academy Film Awards) ontvang het vir programme in wit-en-swart, kleur, HD en 3D.

Hy het ook vir die The life of birds-dokumentêr altesaam 256 000 myl (sowat 412 000 km) afgelê, wat gelykstaande daaraan is om tien keer reg rondom die wêreld te reis.

Sir David Attenborough in die laat sewentigs. (Foto: BBC/Instagram/Sir David Attenborough)

Daar is ook meer as tien plant- en dierespesies wat na hom vernoem is. Die helderkleurige Nothobranchius attenboroughi is ʼn klipvisspesie wat onlangs in die Serengeti Nasionale Park in Tanzanië ontdek is.

Die Nothobranchius attenboroughi is skaars vyf sentimeter lank en bekend daarvoor dat dit jonk doodgaan. Hierdie spesie is egter ʼn noodsaaklike skakel in die Serengeti-Mara-ekostelsel.

Attenborough beklemtoon altyd dat ʼn ekostelsel uit baie spesies, selfs kleiner spesies, bestaan, en daarom het vyf wetenskaplikes en visentoesiaste van Kanada, Frankryk en Suid-Afrika besluit om hierdie kwesbare spesie na hom te vernoem.

Attenborough het gesê hy het die afsonderingstyd in Brittanje omgekry deur na voëls te luister terwyl hy in sy tuin gesit het. Hy meen talle mense het nou skielik in die pandemie weer opnuut besef watter soort diep vreugde daar is om die natuurlike wêreld te aanskou.

Kyk hier na die lokprent vir A life on our planet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Hierdie man het ‘n stem en kennis wat jou aandag dadelik trek, werklik ‘n top verslaggewer en hy verdien dié eer wat hom toekom.

LANA is ELANè ·

Al wat my verstand te bowe gaan is dat die sir, ongeag dit wat hy so bevoorreg is om waar te neem, steeds agnosties is, en nie glo dat God is die Skepper van als wat so absoluut en asemrowend beeldskoon vir hom is nie.
My klein verstandjie verstaan dit nie, want al stap ek net buite in my eie tuin, is ek in verwondering oor die Here se handewerk en kan ek Hom nie ontken of nie raaksien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.