Skiet van Afrikaanse sepies hervat onder streng maatreëls

‘n Gesondheidsbeampte is elke dag teenwoordig by die ateljees. (Foto: Verskaf)

Die televisie- en rolprentbedryf is besig om stelselmatig weer lewe terug te kry ná talle produksiespanne vandeesweek teruggekeer het stel toe.

As gevolg van die Covid-19-pandemie en die streng maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp, sal die verfilming van kykNET-sepies soos Suidooster en Binnelanders voortaan met streng reëls en regulasies gepaard gaan.

Die verfilming van Getroud met rugby en die telenovela Arendsvlei gaan ook voort onder dieselfde regulasies wat onder meer bepaal dat geen oortollige persone, soos byvoorbeeld agtergrondspelers, op die stelle toegelaat sal word nie.

Dié gesondheid- en sekerheidsmaatreëls is ingestel volgens die vereistes van die regering, die vervaardigers, kykNET en die bestuur van die ateljees waar die sepies geskiet word.

Denise Newman wat onlangs ʼn Safta (Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekennings) vir beste aktrise in ʼn sepie vir haar rol in Suidooster ingepalm het, sê sy het haar medespelers in dié sepie gemis.

Mandi Baard gebruik handreiniger op die stel van ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

“Dit is regtig wonderlik om terug te wees by Suidooster, want ons is soos ʼn familie en as jy nie jou familie sien nie, dan mis jy hulle. Om terug te wees by die ateljee gee ons die kans om weer ons stories te vertel – veral omdat ʼn sepie ook vir kykers soos familie is,” sê Newman.

“Boonop voel ons regtig veilig, want ʼn gesondheidsbeampte is elke dag op die stel aan diens wat onder meer daagliks ons temperature meet.”

Intussen het MultiChoice R80 miljoen beskikbaar gestel om die druk op plaaslike vervaardigers te verlig sedert die videovervaardigingsbedryf tot stilstand gekom het met die uitbreking van die koronavirus.

“Terwyl hierdie geld seker gemaak het dat spelers en produksiespanne hul salarisse gedurende Maart en April ontvang het, is ons verheug dat hulle nou weer kon terugkeer werk toe,” sê Nkateko Mabaso, hoof- uitvoerende beampte van M-Net.

“In hierdie stadium is hul gesondheid ʼn prioriteit en ons is die hele tyd in kontak met hulle om volgens die regering se riglyne seker te maak dat alle reëls en regulasies gevolg word en om seker te maak dat die risiko van infeksie op stel tot die minimum beperk word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek vat dit dat vurige liefdestonele is uit? As jy nou met iemand in 7de Laan wil praat, dan moet jy eerder in 6de of 8ste Laan staan! Sny hulle hare op stel. Na amper 8 weke sonder ‘n haarsny lyk ek maar bietjie woes!