Skinderstories, suur druiwe en skei-partytjies volop in die Wynlande

Die vroue het saam Karen se egskeiding met ‘n partytjie beklink. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

Die Kaapse vroue wys reeds in die tweede episode van Die Real Housewives van die Wynlande hoe vinnig skinderpraatjies deur die wingerde kan beweeg.

Amy Kleinhans-Curd, ʼn voormalige Mej. Suid-Afrika, Anita Lloyd, Candice Bester, Karen Schwendtke, Mariska Thorpe en Michelle van Zyl se tonge was lekker los in aanloop tot Karen se opspraakwekkende egskeidingspartytjie in Donderdagaand se episode.

Michelle, ʼn estetika-dokter wat haar op behandelings soos botoks toespits, het Amy en Anita vir ʼn bederfdag by die Spierwynland genooi –  waar Anita dit duidelik gemaak het dat sy nog ʼn paar suur druiwe het oor haar en Mariska se ontmoeting in episode een by Amy se vonkelwynbekendstelling.

Anita, wie se man hoof van die Ko-operatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV) is, se opmerkings teenoor Mariska is klaarblyklik nie goed deur Amy en Michelle ontvang nie.

Amy, Michelle en Anita het saam ‘n bederfdag geniet. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

“Anita hou baie daarvan om neerhalende opmerkings teenoor Mariska te maak. Ek het geleer dat mense jou wys hoe hulle jou gaan hanteer, deur hoe hulle ander hanteer. So, natuurlik gaan Anita eendag oor my só praat,” het Michelle ná die bederfdag gesê.

“Ek dink dis bietjie té vroeg in die vriendskap om opmerkings soos dit oor enigiemand in die groepie te maak. Sy is op ʼn paadjie wat moontlik op haar gaan backfire,” was Amy se gevoel.

Anita, wat ook ʼn pasiënt by Michelle se praktyk is, het nie geskroom om haarself te verdedig toe Michelle opmerk dat haar pasiënte se tonge self los is nie.

“Versigtig, ek is giftig,” het dié rooikop, wat kykers na hulle asems laat snak met haar kwinkslae en kleurvolle taalgebruik, teruggekap.

Dié dag se grootste gesprekpunt was Karen se besluit om die vroue te nooi na ʼn partytjie wat sy ter viering van haar egskeiding hou.

Karen het self haar mond oor Mariska uitgespoel. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

Anita het graag later, met haar kuier by Karen se huis in die spoggerige Val de Vie-landgoed buite Franschoek, vertel dat veral Amy oor die partytjie kopkrap.

“So, sy het nou ʼn probleem met my divorce party. Sy’s seker bang ek steel haar fame? Om te dink sy’s die Amy van 30 jaar terug,” het Karen vir Anita gesê.

Sy het ook nie haar eie gevoelens oor Mariska, ʼn voormalige welvaartbestuurder en fiksheidsmodel, weggesteek nie. Soveel so dat selfs Anita geaffronteerd was.

“Daai oë van haar is nie lekker nie, tjom. En wie het haar kuit se implants gedoen?” het Karen gevra.

“Ek was nogal geskok oor die feit dat sy Mariska vreeslik as persoon aanvat. Ek kon haar nie stop nie, maar ek gaan probeer om nooit weer deel te wees van so iets nie. Ek dink sy kan ʼn goeie mens wees, maar sy’s baie onvoorspelbaar,” het Anita ná haar kuier by Karen aan die kameras vertel.

Michelle het by Karen aanklank gevind. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

Karen wys egter later in die episode haar sagter kant en vind aanklank by haar medehuisvrou, Michelle, wat self ook deur ʼn egskeiding is.

Karen het tydens ʼn middagete aan Michelle verklap dat haar eksman haar herhaaldelik verneuk het. “Hy het my aan die einde nie eers met ʼn vrou verneuk nie, maar iemand wat hulleself verander het na iets anders toe. Dit was vir my die ergste.”

“Ek weet hoe dit voel om aan die ander kant te wees en op verneuk te word,” het Michelle gedeel.

Ondanks die skinderpraatjies het byna al die vroue Karen se spoggerige “egskeidingspartytjie”, waarvan die tema “goud en glinster” was, by die Grande Provence restaurant bygewoon. Michelle moes weens gesondheidsuitdagings die partytjie misloop.

Karen het die vroue gewaarsku om nie aan haar slegte kant te kom nie. (Foto: Skermgreep/Verskaf)

Die dag is kompleet met ʼn koek en sjampanje beklink, maar dinge het ʼn effense spanningsvolle nadraai gehad toe Karen haar gaste met koekmes in hand gewaarsku het om nooit aan haar slegte kant te beland nie.

“Jy praat nie agter my rug nie en jy doen nie snaakse goed nie. As ek iets wil uitvind, sal ek dit uitvind.”

Die Real Housewives van die Wynlande wys Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is beskikbaar op DStv Catch Up.

Maroela Media het die glansryke bekendstelling van dié reeks by die Val de Vie-wynlandgoed bygewoon. Kyk na die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

kommentaar ·

Besef hierdie vroue die skade wat hulle aan hulleself doen. Ek het alle respek vir Amy verloor. Die res is en sal onbekend bly , en dit alles vir 15minute se fame.

melaney ·

Is dit al wat die lewe vir jou kan bied? Of eerder, is dit al wat jy kan aanbied?

Debbie ·

Die een wil meer Botox hê as die ander. n Huisvrou werk nie, sy hou die huishouding aan die gang. Die program kort n ander naam

Madeleine ·

Mense dink dis acting. Maar dis real!
Baie commin.ekt ook my respek v Amy verloor.
Kom die vroue regtig vd kaap of inkommers?

Suzette ·

En is daar mense wat dink dit is snaaks? Ek kan nie glo dat mense nog daarna kyk en vulgariteit geniet nie

Mariana ·

Nee kyk dis nou ‘n klomp nonsens. Mense doen ook enigiets vir bietjie “fame” maar eintlik doen hulle hulself geen guns nie. Kyk nie na dit nie en sal ook nie.

Mariana ·

Het nou die meegaande video gekyk en ja ek het ook meer van Amy verwag. Teleurstellend.

kommentaar ·

Mariana ek het ook nou die video gekyk. Dit skree platvloers. En sou iemand wonder, nee ek kyk dit nie. Ek het besef met watter gehalte ek te doen het na 3 episodes vd eerste seisoen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.